sehnsucht
verlange nie van hier en nou eens naby nie
beur uit die nes van jou omhelsings aartsverlater sy reikhals swaanmooi
heen ’n trekvoël nie van hier nie nou of
digby nie
haar hunker-
sug
hang windstilswaar daar waar sy weggefletter het
uit die geknak-
te takelwerk van spookskip lengte-van-dae
jy gaan tuisteskep dus metterwoon jou liefhê uit die gemis
maak loopbaan al oor die spoor van die vergetelheid
jou oog op aldag en sy wonders (dogtertjies-met-haarstrikke)
dan kom daar poskaarte uit vanouds van gunter af
jou kop glip naweke weg kantien toe op vergesog na hotel afgeleef op êrens
weke wil jy vort jy wil hoor sy wás daar ja ge-hitchhike glo of ysterperd gery
dwaaldolla oor wie elke tweede jan rap sad stories weet te verkoop
jy gaan sit in leë kerke waar jy vermoed sy kon gewees het
bedeloos
omwille luisterryke swyes
.
in ’n lughawe se vertreksaal
teen hoë digte vensters langs
iewers aan die einde van ’n somer
volg jou oë om en om ’n onbegonne trekswaelvlug
in tale aan die kwyn haastig of langsamerhand reis jy verslangs
onweerstaanbaar toe na digterby en raakgesê
maar sy is soek in elke gedig
verseindes skiet te kort immer sy weet dat eindes eintlik oop
soos einders is waar jy ’n sin wil toeknoop by die punt daar glip
verlange
uit
jul skandekind ontdek jy op ’n dag dool
in jou voortuin rond kaal en maer huil-huil
hier nou
© Bernard Odendaal / 2015
Dankie, Maria. Ek het so lank nagelaat om op jou kommentaar te reageer. jammer daaroor! Dis altyd lekker om te verneem dat ‘n mens se verse vir ander iets beteken.
Sjoe, Bernard, wat ‘n gedig vir so vandag met die stories oor afgedankte Nene?! Iets lieflik ligs so deur die sehnsucht deur? Ek het toevallig net ‘n rukkie gelede jou “Die kind is steeds nie dood nie” op my Facebook aangehaal?!