Kraaivlug
Eens het kraaie oor die aarde regeer.
Hulle het ontsnap uit die ark van ’n vreesaanjaende god,
met snawels soekend na die aas gebore uit vloedgolwe.
Hierdie swart susterskap,
aanbidders van alles wat vloeibaar is,
met ’n bloedlus vir die bedorwe,
kon vloed in vrugwater omskep.
Hulle was uitboorders van oë,
sodat ongesiene uitsigte kon ontvou,
terwyl hulle met onheilige kryse doofheid genees.
Hulle snawels kon die toraks uitryg,
knippend deur die laaste drade
van wat mens met aardse stof verbind.
En toe leer hulle daardie geslepe Gilgamesj
’n les wat sy saad stééds probeer peil:
vlug is nie vlieg nie.
© Emma Bekker 2016