Susan Smith gesels oor haar nuwe digbundel
die aarde is ‘n eierblou ark, met Gisela Ullyatt
.
Susan, hartlik geluk met die aarde is ’n eierblou ark.
Die bundeltitel impliseer ’n metaforiese verhouding tussen aarde en ark. Die byvoeglike naamwoord dui op die kleur van hierdie aarde-ark. Hoe het jy op die titel besluit?
Dankie, Gisela.
Die frase, “die aarde is ’n eierblou ark” kom uit een van die gedigte, maar het vroeg reeds bly vassteek as ’n moontlike titel. Die alternatief wat ek oorweeg het, was bloot “ark”. Nadat ek dit aan ’n paar mede-digters voorgelê – en uiteenlopende reaksie gekry het – het ek besef dat ek maar my instinkte sal moet vertrou. Die verbonde verbande laat ek aan die leser oor.
Die voorbladkuns is een van jou eie skilderye. Die ongewone tekstuur daarvan is opvallend en sluit goed aan by jou tweede bundel-motto wat uit Neruda se “Memory” geneem is:
I have to remember everything,
keep track of blades of grass, the threads
of all untidy happenings
the resting places, inch by inch,
the infinite railroad tracks,
the surfaces of pain.
(a) Het die keuse van die skildery meer te make met die bundeltitel of die bundel as geheel?
(b) Vertel ons meer oor die skildertegniek(e) wat jy gebruik het om daardie ‘gekraakte’ tekstuur te verkry.
Die skildery is gemaak ten tye van die skryfproses, seker so ’n jaar gelede, toe ek met verskillende teksture gespeel het om ’n organiese oppervlak tot stand te probeer bring wat moontlik verband sou kon hou met die woorde waarmee ek gedurende daardie tyd besig was. Ek het in dieselfde tyd ook ’n aantal linodrukke gemaak wat tot bepaalde gedigte spreek en deel vorm van ’n kunstenaarsboek – byvoorbeeld die albatros, die meisie met vis, die selakant en pas nou ook die kantblom. Ons “printmaster”, Jeff Rankin, het daarin geslaag om my te laat nadink oor wat ek probeer uitdruk, oor die simboliek van lyn en tekstuur en kleur.
Wat op die buiteblad van die bundel afgedruk is, is ’n nabyskoot van ’n skildery. Elke makrobeeld onthul ’n nuwe perspektief op die geheel. Die kleure – goud, blou, wit, sandkleur, grys – was ’n doelbewuste keuse. Vir my is blou die kleur van ontroering, die kleur van broosheid.
Ek het geëksperimenteer met verskeie mediums wat krakies op die boonste laag verf veroorsaak, letterlik vanaf kouelym en spreiverf tot kraakglasuur wat dan verder gemanipuleer word om krake in verskillende groottes te vorm, na gelang van die dikte van die oppervlakmedium. Die uitkoms is ’n totale verrassing en die skildery kan nie werklik herhaal word nie.
“Netwerk”, 2016 (Susan Smith)
Wat verder verrassend is, is die nuwe wêreld wat oopgaan voor die kameralens se inzoemende oog: detail wat bykans verlore gaan vir die blote oog, word landskappe van kraters en riviere uit verf en glasuur.
“Netwerk”: makrobeeld 1
“Netwerk”: makrobeeld 2
“Netwerk”: makrobeeld 3
Ek hoop dat die voorblad weerklank vind regdeur die bundel, nie net as beeld van oppervlak nie, maar ook van netwerk en verbintenis. Die spanning op die oppervlak van die verf en glasuur, die vorming, eers, van klein krakies, wat uurliks groter word, totdat groter kontoere tot stand kom, is nie net ’n metafoor vir die voortdurend veranderende landskap nie, maar ook die verrassende vorming van woorde oor tyd.
“patryspoort” (13) se eerste strofe aktiveer die Karoo-hemelruim:
in die kom van die Karoo kan jy
deur die patryspoort van die nag
die diereriem se werwelinge hoor
met gestrekte vinger
deur die krakies in die lugruim boor
met versigtige nael
ágter die foelie skilfering van die heelal skraap
In jou debuutbundel, in die afwesigheid van sin (2012), verskyn daar ’n reeks gedigte genaamd ”karoo-narratief”. Hou “patryspoort” daarmee verband?
My geboorteplek is die Karoo, De Aar, om presies te wees. Nêrens anders is die aarde so oop nie, nêrens anders die lug so helder nie. Dit voel vir my na ’n natuurlike vertrekpunt, hetsy per voet of metafisies die hemelruim in.
Reeds in die inhoudsopgawe kan die leser sien dat die bundel ryklik omgaan met gedigte wat water as leitmotief utiliseer. Voorbeelde hiervan is “onderwater” (15); “Wildekus” (18); “water (i)” (55-56); “water (ii)”(57); die “alfabet van water” (59), en so meer.
Een van die sterkste gedigte in die bundel is so ’n voorbeeld:
in ons saadskulp is ek en jy
soogvisse van die water
twee gesigte na mekaar:
’n konkawe vivipaar
Wat beteken die waterelement vir jou as digter?
Die voor die hand liggende belang by water is dat dit in die algemeen en ook mities gesien word as ’n plek van oorsprong, dalk van lewe self. Die rykheid aan mitiese sowel as religieuse simboliek bied oneindige moontlikhede aan die digter. Water is egter ook deel van die verbintenis wat ek voel met plek en is omgewingspesifiek, vandaar my belang by die Ooskusstreek en al die dinge hier in hul onderlinge verbintenisse tot water en aarde en plek.
Dit gaan vir my daaroor om die betekenis en evolusie van water te karteer op veelvuldige wyses: die kennis en beskrywing van water lê in die parallelle tussen wetenskaplike feite en mitiese verhale, tussen skepping en “mothering”, tussen Darwin en die akwagenesiese wordingsteorieë van Ellis, tussen die ryk Bybelse verwysingsraamwerke en die oratuur. Dit sluit in om water te sien as ’n soort aqua mater, maar ook simboliese, mitiese en religieuse aspekte in berekening bring; om soos Elaine Morgan die moontlikheid te oorweeg dat sommige van die sleutels tot evolusie opgesluit lê in die fisiologiese karakteristieke van die vrou.
Water is magies; water is enigmatiese materie. Water is die fokus van menslike nuuskierigheid – die alomteenwoordige gemene deler van alle dinge en in wisselwerkende verbintenis met die aarde beskermer van lewe en behouering van lewende en nielewende dinge.
’n Verdere leitmotief is taal/die woord: ’n voorbeeld hiervan is die program-gedig, “huls”:
die droë peul knal naatlangs oop
die halwe huls ’n ligte boot
waarin ’n klein swart alfabet
van sade stroomaf
na ’n beskutte hawe vaar
Praat met ons oor die verhouding tussen skryf/dig en die natuur soos aangedui in bogenoemde gedig.
Hierdie gedig is ’n hele ruk gelede geskryf en het verskeie permutasies beleef. Dit is as ’t ware ’n saadkern waaruit ander gedigte ontkiem het. Ek vermoed dat ’n digter voortdurend besig is met die gedagte aan die proses van “woordplanting” en hoe een woord tot ’n ander lei. ’n Doelbewuste ars poetica is dit nie: eerder ’n onbewuste proses van alliansies soek tussen dinge. Of dalk ’n knal.
Soveel berus daarop om die wêreld om ons op ’n nuwe manier te sien deur dit nuut naam te gee, die soeke na die ewig ontglippende vaspen van dinge. Die volmaakte woord is eweneens ’n knal. Dit verplant die aarde en dit wat daarin en daarop is, oor op die bladsy; die leser ruik nog die omgedolwe grond. Die presisie daarvan moet ’n skok wees van sowel feitelikheid as van verbeelding, van herkenning en geheue.
Digter William Merwin skryf met passie oor die drang om name te ken en te onthou. Hiermee identifiseer ek:
I have lived without knowing
the names for the water
from one rock
and the water from another
and behind the names that I do not have
the color of water flows all day and all night
the old man tells me the name for it
and as he says it I forget it
Ek is ’n ewige soeker na die woorde wat in herkenning kan knal, om naam te gee aan elke oppervlak, elke gras, om te onthou, om te bewaar. Ek ervaar ’n intense gevoel van verlies oor voëls in my omgewing wat ek nog nie “ken” en geïdentifiseer het nie (oor die 40 spesies om my huis en tuin het name, afgemerk in my voëlboeke); ek het nodig om die grasse en die bosse van my omgewing te lys: droog-my-keel, duinekatstert, koedoebessie, krulkransie, maagpynbossie, marramgras, skilpadbos, sonskynster. Ek is bang dat hierdie name verlore raak.
(My redakteur het my van myself gered deur my ellelange lys van noemname met spesiename daarnaas, liefs weg te laat, en ’n onmoontlike lang opnoemgedig tot sinvolheid te verkort.)
Maar met elke naam wat ek “red”, is daar soveel wat verlore gaan. “Always naming, always words galvanizing the things of this world”, sê Felstiner in Can Poetry Save the Earth? En Linnaeus self het gesê: “As die name onbekend is, gaan ook die kennis van dinge verlore.” Taal is die enigste ark waarin ons die name en die kennis kan bewaar.
In die gedigreeks, “saad”, is daar ’n beduidende interaksie tussen die oopskryf van ’n digter se verlede en die ontkieming van saad. Hierdie ontkieming word ook gelykgestel aan die ‘ontkieming’ van ’n digter.
Verder is daar ‘n sterk wisselwerking tussen gebruiksaanwysings wat gebruikstaal verteenwoordig en poëtiese taal. Ironies genoeg word hierdie katalogisering juis die stramien vir die poëtikale. Kan jy vir ons meer oor hierdie wisselwerking vertel en waar die idee ontstaan het?
Ek is ’n aantal jare gelede aan Robert Kroetsch se briljante Seed Catalogue bekend gestel deur Peter Midgley, digter en skrywer wat tans in Alberta, Kanada woon. Die lang gedig van Kroetsch het my bygebly, veral sy gebruik van “gevonde” taal in iets so alledaags soos ’n saadkatalogus. Uit die nie-poëtiese het Kroetsch doelbewus en dikwels op ironiese wyse poësie geskep. Ek het lank met die gedig geworstel, en probeer om gebruikstaal en selfs verbruikerstaal sodanig te stroop dat dit gelade kon word, in samehang en wisselwerking met die gedigkern. Die gebruik van gevonde taal het nuwe uitdagings gebied en spel met vorm toegelaat.
Ek skryf doelbewus teen eenvormigheid in, sekerlik nie altyd geslaagd nie, maar ’n genuanseerde, geskakeerde digbundel wat beide vorm en inhoud betref, laat my sintuie tintel. Miskien, iewers in my toekoms, lê ’n droombundel wat meer palimpsestiese skets- en notaboek as digbundel sal wees.
Jou bundel maak melding van onder andere Mary Oliver, Walt Whitman, Linda Hogan, Karl von Frisch, Carl Linnaeus, Jane Bennett, Thomas Huxley en Spinoza. Hoe het hulle hulleself by jou aangemeld? Watter rol het hulle gespeel in die skryf van die bundel?
Elke gedig is ’n ontdekkingstog en ’n speurverhaal die onbekende in. Karl von Frisch het byvoorbeeld navorsing gedoen oor die gedrag van bye en in 1927 die ontdekking gemaak dat die lengte en rigting van die “rondtedans” en “wiggeldans” van bye in direkte korrelasie is tot die ligging van en afstand na voedselbronne en dat hierdie navigasie onder andere moontlik gemaak word deur die polariserende patrone van blou lug. Dit is die alfabet van bye. Linda Hogan se kinderverhale het ’n bewussyn van die lewe van vlermuise geskep; my vriende Jane Bennett, David Abram, Greg Garrard, Timothy Morton en vele meer is my medereisigers deur die wêreld van die ekokritiek. Hulle het nogal ’n manier om so ’n bietjie aan mens af te gee.
Dit is vir my noodsaaklik dat die feite in my gedigte moet klop. Ek vind dit onmoontlik om met enigiets anders as die waarheid te werk, ek jaag die meedoënlose akkuraatheid van ’n Marianne Moore na; die wetenskaplikheid van ’n T T Cloete. Selfs die realm van die verbeelding en die magiese moet met noukeurigheid betree kan word.
Mangliete in die Nahoonstrandmeer, Oos-Londen (Foto’s: Salmon Smith)
Tafoni by Keisterstrand, Oos-Londen. (Foto: Susan Smith)
Opvallend in die bundel is die ikonisiteit van sommige van die gedigte in die bundel, soos byvoorbeeld in “die oortjies van die gedig” (49) en “skulpgruisgrys” (63):
keiserstrand
34 km wes van oos-londen
wolkgrys misgrys meeugrys veergrys
watergrys brandergrys skuimgrys
rotsgrys klipgrys klipskeurgrys
sandgrys skulpgrys
skulpgruisgrys
32°58’ suid
Is konkrete poësie of die gedig-as-ikoon ’n proses wat jou na aan die digterlike hart lê? En is dit ook ’n aspek wat “groen poësie” mee omgaan?
Ikonisiteit gaan natuurlik oor soveel meer as net die uiterlike tipografie van die gedig. Dit is wel so dat die bladspieël en die wit van die bladsy groter prominensie het in die sogenaamde groen poësie, veral waarneembaar by die Kanadese ekodigters. Die bladsy word ’n plek, ’n terrein of perseel waarop bepaalde ruimtelike patrone neerslag vind – ’n materialisering van die gedig.
’n Ikoniese gedig is veronderstel om die leser in ’n energieke ontmoeting te plaas met die materiaal en materialiteit van skryf: die alfabet as sisteem van lyne en hoeke; herhalings van komponente; fisiese en visuele lyne. Die digter orkestreer die alfabet en woorddele as visuele rym en die aandag verskuif vanaf die transparante funksie van betekenis na die konkrete funksie van plek op papier. Die digter is besig om die fokus van die leser te manipuleer en te beheer, selfs te disoriënteer. Ritmiese stiltes, perkussiewe enumeratiewe herhalings en die oopmaak van spasies tussen woorde verkry ’n betekenis in sigself.
Ikoniese gedigte word dikwels nie as hoofstroompoësie gesien nie, maar die speelse en selfs dramatiese aanslag daarvan, boei my. Om te dink hoe die oog moet kyk, hoe die bladsy en die gedig self plek word, maak die digter deel van die materialiseringsproses, maak die lesende leser ’n kykende leser op ’n konkrete vlak.
’n Boeiende gedig is “Xolobeni Mineral Sands, Wildekus” (87). Hier word melding van gemaak dat dit “na ’n gedig van Derek Walcott is“. Kan jy vir ons aandui watter gedig jy hier in gedagte gehad het?
Is Walcott ’n gunsteling op jou boekrak?
Walcott se uitbeelding van land en see en sy verwoording van veral die Karibiese eilande vertoon ’n intense gewaarwording van die verhouding tussen plek en bewussyn en gewete, waarby ek aanklank vind. Enkele versreëls uit die lang gedig “Omeros” het my aandag getrek weens die toepaslikheid daarvan op die gebeure wat oor die afgelope aantal maande ontvou het by Xolobeni aan die Wildekus.
Na maande van intimidasie, geweld en die uiteindelike sluipmoord op mense wat die voorgenome mynbedrywighede deur ’n Australiese mynmaatskappy by Xolobeni teenstaan, word daar nou in die media ook oor Gupta-betrokkenheid en grondkaping gespekuleer.
’n Mens vra vrae: is hierdie lewens nie belangrik nie? Is die mense wat ’n leeftyd daar woon se stemme nie belangrik nie? Hoekom word ons natuurlike omgewing minderwaardig behandel? Waar kom aardreg te pas?
Benewens ooglopende omgewingsrisiko’s is daar die wit-, rooi- en swartmanglietwoude in die strandmeergebiede by Xolobeni (ironies beteken die naam Xolobeni “plek van hartseer”) wat dien as wieg vir jong marienevisse en skulpdiere. Die raar Manglietvisvanger is ook inheems aan hierdie gebied. Dit is die Wildekusstrook waar ’n versteende woud in die rivierbeddings van die Mazambarivier gevind kan word en wat die hoogste konsentrasie fossiele bevat, waarvan sommige gedurende laagwater ontbloot is, wat die bestudering van die beweging van tektoniese plate moontlik maak en wat, na raming tussen 84 en 86 miljoen jaar oud is.
Fossiele blootgelê tydens laagwater (Foto en blog: http://simontothemax.blogspot.co.za/2009/06/red-dunes-of-xolobeni-curse-of-black.html)
Dit is ironies dat inwoners van ’n land soos Australië, wat self so intens sy eie grense teen stroping bewaak, gewetenloos toesak op teikens in Afrika en dit vir geldelike gewin probeer uitbuit. Dieselfde geld natuurlik vir die dreigende skaliegasontginning van die Karoo en Oos-kaap deur die Shell-maatskappy.
Susan, sou jy jouself as “ekodigter” identifiseer of is so ’n etiket nie haalbaar vir jou as digter nie?
’n Doelbewuste groepering of etikettering kan verskralend inwerk en ek sal altyd versigtig daarmee omgaan.
Terselfdertyd besef ek egter dat weens die invloed van my spesifieke belangstelling in ekopoësie en –teorie daar ’n bepaalde “insuur” plaasvind wat my siening van dinge en my eie werk beïnvloed. Ek dig oor allerlei dinge; in hierdie spesifieke bundel het daar ’n onbewuste weerspieëling tot stand gekom met dit waarmee ek op ander plekke in my lewe besig is – ’n bewussyn vir die bevraagtekening van hiërargiese strukture, die bevraagtekening van benoeming, wat in essensie ook ’n soort toe-eiening is, wat juis die hiërargiese bewussyn uitkalwer.
Ten laaste: watter gedig uit die aarde is ’n eierblou ark sal jy graag met Versindaba-lesers wou deel?
Moontlik is dit gepas om af te sluit met die slotgedig in die bundel, “Missa Gaia: ’n hooglied van die kompos”:
Ons is van die aarde
en ons sal terugkeer
aarde toe. Ons bemin
die onthegte blomme;
die geknakte stingels
is vir ons mooi. Kyk hoe lieflik
die molmwording van fyngesnaarde
blare; ons hoor die inleidende korale
van nagskoflarwes. Die sonate
van Latour se liewe wurm-
en maaierwerkers het ons lief;
in u wonings van fosfaat-
en kalsiumvlegsels grond
is ons tuis.
Wys tog, sielsbeminde, waar u
die takkies neerlê,
waar u nuwe steggies plant.
Ons is die wemeling van donker sterre
onder die grond; die engele
se heilige mikropartikels
wat die kosmos tot kontoer
en gefermenteerde leefspin smee.
Ons is van die aarde. Die aarde
het ons gemaak.
.
Dit is net ‘n plesier… ek wens ek kon jou asemrowende skilderye voel.. met my vingers.. ons kan so bly wees as ons nog kan voel met ons vingers
Nicolette en Annora, baie dankie!
Die teksture van modder, blare, blou water, voëltjie eiers en ander aardse kleure is pragtig en voelbaar in haar werk. Baie geluk met ‘n lieflike bundel. x
Lieflike onderhoud, Gisela en Susan!! Sien uit daarna om jou bundel te lees.