Fotostaatmasjien
Bibi Slippers
Bibi Slippers se debuutbundel vier die mens en kultuur as fotostaatmasjien en die gedig as foutiewe fotostaat. Die digter neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium aan, maar dié oorskrywer is gelyktydig ook ’n boorling van ’n digitale wêreld waar perfekte kopieë met die druk van ’n knoppie geskep kan word, en emoji’s, youTUBE-videos en Instagram-foto’s werklikheid word.
Fotostaatmasjien dokumenteer die skeppingsproses in afdrukke, en maak só oorspronklike fotostate.
Biografie:
Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Sy het BA-grade in Skeppende Kunste en Tale van die Universiteit van Pretoria, en ‘n MA in Kreatiewe Skryfkunde van die Universiteit van Stellenbosch. Sy woon in Johannesburg en gaan swem gereeld in die Kaap. (Tafelberg Uitgewers, 2016. Prys : R200, Bladsye : 108: 210 mm x 148 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780624080732)
.
Ons
Na Anne Carson
Ons is die illusie dat sommige dinge saamhoort,
jou trui, my toestand. Ek is ’n kenner van onse,
die honde hoor my. Om te verduidelik wat ek doen
is egter ietwat ingewikkeld. ’n Kenner is iemand
wat weet, maar wat weet ons nou eintlik? Die wis
en die onwis is in konstante wisselwerking, die wete
aanhoudend aan die beweeg soos ’n vervoerband
of trapmeul onder ons voete. Ek is die versteller
van die snelheid en gradiënt, ons stap opdraande
op een plek tot die weet ons aftap. Jy mag dalk dink
dat ek self die siklus aan die gang sit, maar dit
is ’n misverstand. Ek posisioneer myself eenvoudig
op die gegewe plek en wag vir aksie. Die wonderwerk,
en dit ís ’n wonderlike werklikheid, is dat alles altyd vanself
begin. Voordat daar eindes was, was daar baie beginne,
maar ’n mens kon nooit seker wees wat iets sou afskop nie.
Slaptjips? Dronkenskap? ’n Belangstelling in boeke?
Soms is dit beter om die aanvangs te omseil.
’n Kenner is iemand wat weet, maar nie noodwendig
wanneer om op te hou nie.
Dis die manier waarop dinge tussen onse verstrengel
raak wat alles moeilik maak. Kan jy jouself warm hou
met my toestand? Moet ek jou trui met my sielkundige
bespreek? Ons is gemengde metafore, opgeklitste idiome
en vrae wat antwoorde uitkanselleer: Wat weeg meer
as twee? Wat is die meervoud van my?
In die ons soos ek dit sien is die trui en die toestand
soms saam in die tuimeldroër en ander kere begin jy
iets bruikbaar brei wanneer ek uitrafel.
Maar wil jy deur hierdie versamelnaam kyk? Is jy reg
om kersies, pere en pyn saam met die appels
in jou oog te hê?
Daar is net soveel onsin as onse en dis soms moeilik
om ’n onderskeid te tref. Daar is gewone en ongewone
onse, onse wat gewond is, waterkarre vol onse, onse
wat weer en weer in die onthou opstaan. Daar is onse wat
niks uitrig nie en onse wat aanhou al is dit nutteloos.
Daar is onse wat met soveel geweld ont-ons dat die aardkors
daarvan sidder. Maar daar is geen onnodige onse nie,
net oorbodige kenners. So skoert.
(Uit: Fotostaatmasjien. Bibi Slippers)
Geniet dit so om jou gedig te lees. Baie dankie!
Melanie, ek het nounet gedink daars ‘n verwysing na jou Hester H digbundel titel in een afdelingshoof in Fotostaatmasjien “Handgebare: Die tye en swye van Thamsanqa Jantjie”. Dis ‘n heerlike bundel.