
Met Hildegard von Bingen in die agtergrond, lees ek die afgelope jaar se dagboekinskrywings. Laasgenoemde beslaan veel minder bladsye as gewoonlik: 2016 was ’n jaar waarin ek vir lang tye niks neergepen het nie.
Ek onthou vanjaar eerder as ’n jaar van groot veranderinge. Die grootste hiervan was ’n Groot Trek; die keer na ’n ander provinsie. Om jou lewe uit te sorteer en weereens in bokse te pak, is soms net te veel. Drie trekke in vier jaar.
Kyrie eleison
Christe eleison
Kyrie eleison
’n Hele buitekamer vol boekbokse moes ternouernood aangespreek word. Wonderlike boeke moes van afskeid geneem word. ’n Egpaar wat tweedehandse boeke opkoop, verneuk ons: vragte boeke word in goeder trou aan hulle toevertrou omdat die trek baie vinnig moes plaasvind. Hulle sou na elk van die boeke kyk en dan ’n regverdige prys saamstel. Ondermeer was daar ’n hele versameling Herman Charles Bosman. Twee bakkievragte boeke word weggery waarna net R300-00 in ons rekening inbetaal word.

Boonop word van ons breekgoed onherstelbaar beskadig. Vier Boeddhas lê aan skerwe. Van die erfporselein en glase: toetentaal verbrysel. Kosbare boeke se voorblaaie word argeloos ingepak en sodoende lelik gebuig. Ek sluk langtand aan die les: tog wys die Boeddha immers daarop dat alles sal vergaan: Impermanence. Maar daar is dae wat die les nié in my hart wil gaan lê nie. Die chaos van bokse, steeds-toegedraaide skilderye en ander hope los goed se chaos sif deur tot in my DNA.
Daarom skryf ek byna niks hiervan neer in my dagboek nie. Wat ek wel op afkom in hierdie einste boek, is twee gedigte van Ernst van Heerden uit Tyd van Verhuising wat ek met die hand oorgeskryf het:

Aan die verhuisingsmanne
Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit ’n lewe
met sy drome
en verlangens in;
Dra saggies, mededraers,
want die drag
van veerbed,
tafels, lessenaar
druk teen die bors
se dun skelet;
Dra saggies, regters,
want die oordeel
oor my klein bedryf
lê vasgevang
in prente, boeke
en ’n eie ou gemakstoel;
Dra saggies, gode,
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van ’n lewe
kan so maklik breek.
Verandering
In die donker orde van my huis
voel ek die aardepols verflou,
word ek met sinlose weerspannigheid
deur elk ding verwyt:
’n deur wat eie knip ontwyk,
’n kas wat weier om te sluit,
tapyte met ingeweefde struikelblok,
hoë trappe sonder styggerief,
dieselfde spookgesig
in elke spieël se blits;
bedags deur vensterruite
die wit vlam van die son se gietery:
’n tuin-vermoede van
’n hele boord tot één boom vasgesweis;
en saans by skryflig
die lamp
wat soos ’n knie skarnier.
Nog ’n bundel wat ek herhaaldelik na toe teruggekeer het hierdie jaar, is Olga Kirsch se Oorwinteraars in die Vreemde. Alhoewel ek gelukkig nie die ongetemperde isolasie van die émigré ken nie, resoneer ek steeds met veral die gedigte wat Kirsch-as-huurder in die vreemde oopskryf. En alhoewel die huis wat ons huur ons eie besittings bevat, ken ek die voorafgaande maande se tydelike verblyf waar jy jou tentpenne elke keer uit die grond moet trek met net die nodigste in plastieksakke en tasse.

Huurders
’n Onbekende vrou se ruim, stil huis.
Haar plante wat teen die ruite ligwaarts krul.
Alles waarin sy haar lewenslank omhul
het totdat haar gees hom veilig tuis
weet, om my. Binne dié mure is skoon
gelewe; niks steur die edele patroon,
alles hoort saam. Ek hou die kamers skoon
en, hande eerbiedig op meubels en kleinode,
voel koester my haar vreedsame huisgode.
In dié gehuurde huis besit ek niks
In dié gehuurde huis besit ek niks
as net my klere. Alles waaraan ek raak
- kombuisgoed, meubels, gordyne – is volgens die smaak
van andere. Nogtans, omdat ek hom – fluks
na buie van lees en luiheid – skoongemaak
het, sodat die voordeur laatmiddag vir jou
verwelkomend kan oopswaai, omdat ek nou
voor sy ou rooshoutlessenaar ’n taak
wat ek bemin verrig, mooi briewe ontvang,
voor sy boogvenster kerf, sal ek hom onthou
– lugtig, son-vrolik – dalk na hom terugverlang.

Vir Ernst
Dra saggies hierdie gedig
na die man
wat die gode se porselein
op papier kon breek:
geen mank ritmes
of verkapte strofes nie.
Eet saggies hierdie gedig
want die digter het
room geword
en ken die donker man
nie meer nie.
Kyk saggies na die digter
agter daardie bril:
die lewe is geen cliché nie.
(Gisela Ullyatt. 2016)
Bibiografie
Kirsch, O. 1978. Oorwinteraars in die vreemde. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Heerden, E. 1975. Tyd van verhuising. Kaapstad: Tafelberg.

Baie dankie, Louis.
‘n Treffende huldeblyk, Gisela. Welgedaan.
Dankie Engela, dat jy hier kom vertoef het.
Pragtig, Gisela – dankie!