Digstring
Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig
“En route: Suid-Afrika”
Na Allen Ginsberg Suid-Afrika, ek is op die highway. Waar is jy? Ek is moeg gejaag en padgegee. Suid-Afrika, van hier af lyk die lughawe-liggies soos sarkastiese exit signs, ’n Verminkte rusbank spoeg sy spons uit, Lees my heupe: Versigtig vir sinkgate, Suid-Afrika.
(Uit Letter to South Africa: Poets Calling the State to Order, Umuzi 2011) |
- Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek het die gedig in 2010 geskryf, as opdragvers vir die kolokwium wat Marlene van Niekerk vir daardie jaar se Versindaba saamgeroep het. Die opdrag was om, in die gees van Allen Ginsberg se “America”, ’n brief aan Suid-Afrika te skryf. Ek het in daardie jaar in Kaapstad gewoon en in Stellenbosch gewerk, en my brief aan Suid-Afrika is geïnspireer deur my daaglikse retoer-trippie op die N2, en die dinge wat mens langs daardie pad sien.
- Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het as fragmente begin – ek het versreëls, beelde en frases in die ry neergeskryf oor ‘n lang tydperk. Toe die openingsreël homself aanmeld (Suid-Afrika, ek is op die highway, waar is jy?”) kon ek begin om die res van my onsamehangende fragmente tot ’n sinvolle eenheid te bind. Dit was lank gelede, maar as ek reg onthou het daardie laaste saamflans redelik vinnig gebeur.
- Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die spesifieke gedig het redelik vinnig en natuurlik gevloei – maar het voortgespruit uit weke se oordenking en meditasie terwyl ek ry, en maande se gewroeg met ander goed wat nie gewerk het nie. Ek het nie werklik oor hierdie gedig gewroeg nie – dit was lekker om daaraan te skryf, en om stelselmatig voort te bou daarop deur dit baie hardop te lees en vir myself voor te dra in die kar.
- In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die bloudruk vir die gedig is Ginsberg se bekende gedig “America”. Ek het daardie gedig as vertrekpunt gebruik en die realiteit van die lewe langs die N2 bo-oor daardie onderlaag geprojekteer. Ek het probeer om Ginsberg op ’n sinvolle manier na te doen, sonder om ’n direkte kopie van sy gedig te maak: byvoorbeeld waar hy in sy tweede versreëls getalle gebruik, het ek die getalle omgeskakel in ’n odometer-lesing. Hier en daar slaan gedeeltes van die Ginsberg-vers deur, soos byvoorbeeld in die slotreël, waar ek ’n eggo van Ginsberg se idee van “skouer aan die wiel” probeer behou het, maar dit tog geheel in my gedig wou laat pas – dus die spanner in die wiel.
- Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?
Ek was op daardie stadium besig met my meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns, so my studieleiers Willem Anker en Marlene van Niekerk het beide die gedig gelees en terugvoer gegee. Die redakteur van die versamelbundel waarin die gedig oorspronklik verskyn het, Carla Potgieter, het ook insae gelewer (veral mbt die vertaling). Deesdae is Loftus Marais gewoonlik my eerste leser en klankbord, en my uitgewer Tertius Kapp lewer ook waardevolle kommentaar. Ek dink wel nie hulle het veel aan hierdie gedig gekarring met die publikasie daarvan in Fotostaatmasjien nie – dit was reeds afgerond.
- Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Ek dink die versamelbundel Letter to South Africa: Poets Calling the State to Orde het in 2011 verskyn, iets minder as ‘n jaar nadat die gedig geskryf is. Maar dis kort nadat ek dit geskryf het in die publiek voorgelees.
- Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gegewens in die vers is grootliks gebaseer op dinge wat ek werklik gesien en ervaar het wanneer ek op die N2 ry. Dis ook waar dat my vriend Fred al iemand op die N2 raakgery het, soos dit in die vers opgeteken staan. Ons het wel, op daardie stadium, nie werklik ‘n voordeur en ’n agterdeur gehad nie. 😉
- Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die vers gaan oor die realiteite van die lewe in Suid-Afrika, soos uitgedruk in werklike beelde en gebeure wat langs ’n snelweg afspeel. Die feit dat die spreker in die gedig dinge vanuit die isolasie van die kajuit van ‘n voertuig bekyk, sê seker ook iets oor die kloof wat tussen mense bestaan in ons land.
- Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Net die Ginsberg-teks.
- Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?
Nee, ek skryf gewoonlik maar vir my eie vermaak. Maar met hierdie gedig het mens seker maar in die agterkop gehad dat dit voorgelees sou word by ’n geleentheid in Stellenbosch vir ‘n Afrikaanse gehoor wat grootliks uit ander digters sou bestaan.
- In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Ek dink die gedig is eintlik ‘n prototipe vir my latere werk – dit was een van die eerste gedigte waarin ek ’n sterk sin van my eie stem gevoel het, en die werkswyse (om ‘n bestaande gedig as bloudruk vir ‘n nuwe skepping te gebruik) het vir my ’n manier geword om my stem in te oefen, en beheer daaroor te kry.
- Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ek dink dit is, saam met my reeks gedigte oor Thamsanqa Jantjie, seker die mees Suid-Afrikaanse gedig wat ek tot nog toe geskryf het.
- Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek het gevoel die vers is afgehandel en afgerond. Dit help dat ek in hierdie geval ’n ander vers as verwysing gehad het – ek het geskry f na ’n einde toe, en ek dink ek kon daar uitkom.
- Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Mense wat bekend is met die stuk pad wat die agtergrond vir die gedig vorm, is altyd baie positief daaroor. Ek dink omdat ek so lank op die pad spandeer het, kon ek mooi fyn oplet wat om my aangaan, en ek kon lank genoeg aan die vers werk dat ek die ervarings en dinge wat ek gesien het behoorlik kon opteken, in hierdie geval.
- ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Hmmmm, miskien nie die eerste nie. Maar ek het van kleins af daarvan gehou om rympies en dinge te skryf, en het nog êrens ’n lêer met klomp kinderversies wat ek geskryf het. Een begin “Vyf kabouters – baie klein – ry in hul kaboutertrein” – ek dink ek het ewe illustrasies gemaak ook van die kabouters en die trein. Ek moet nou nog net ‘n vliegtuig- en ‘n boot-gedig skryf, dan het ek die vervoermiddele redelik goed gedek. 😉
•
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.