« om die pampoen te soen »
(fragmente van ‘n brief uit WOKNAKWYS)
elke stilbeweegstonde van die dag
is gedig
wanneer jy ontvanklik is –
elke moment van mou en mansjet
ontmoeting met wat lewe
of gelewe het
‘n lewegewende lewensles
alles wat ooit bestaan het
alles wat ooit gelewe het
alles wat ‘n ruimte laat bewe
om ‘n merk te laat
vir die vergeet
van altyd se wees
want al manier om die lewe
verby vashou te onthou
is om dit veilig te bêre
onder die pols-sing van maanvergeet –
elke asemteug grasspriet goejop
voëlsang wolk potlood tong
is boeddha, my boet pampoen
alles wat bloei tot boeddhawees
is pampoenmaan
en jy net (‘n) bewuswording
om onder te gaan in die lewe
en so te bly bewe in die dood
jy mag maar huil
want alles huil
in stilte se syn
jy mag maar
intiem by nie-syn ingaan
daarom: indien jy boeddha
teenkom op die weg:
maak hom dood
met al die liefde
van jou vergaanbestaan
en éét daai soetpampoen
Liewe susters en sisters, koeke en kadawers, mede-sterwelinge, taalverknottes, grootbekke en stilblyers en swygsames en verkneukeraars, spieëlversottes, spotters, spoorsnyers –
Vir liewe broer Ampie wat saam met my gejolliebôjaan het toe die berg van ‘n onmoontlike revolusie uitgeklim moes word (en die dors ons oorval het), en vir julle almal wat ook soos kameraad Ampie en Jôrs Troelie moet begin aanlê uit die donker, boesempêlle word met die skaduwees (en die ore sluit vir die vergaanwete dat skaduwees die koggelende vernietiging van enige en alle substansie is :
Liewe Leser, jy wat al so lankal dood is, vir wie ek nog aanhou skryf omdat dit die enigste manier is om te vergeet en te laat gaan :
jy lees hier, Leser
en is daarmeegaande ewe hiér
aandadig aan die gesigbaarmaak
van woordverwording
se bewelewe
Ek wou vir julle, vir jou, ‘n brief skryf soos dit hoort. Dit sou ‘n soort reisverslag kon wees van die afgelope pampoensiklus se swel en verrotting, van vlugte na verre eilande, van dans met die skemering as lig. Miskien om vir julle (jou) te vertel van die voortslepende verlange na sangerigheid.
jek is soms terneergeslaan
deur die donker vergang
van my denke
maar onthou dan :
niks wat nie neergeskryf is
sal weer kan bestaan nie
*
jek het te veel ewe windgat
rondgehang
met konsepte
bo my vuurmaakplek
en is nou die spreekwoordelike
gerookte snoek
dikbek van dronkverdriet
*
Nou wanneer mens begin soek na die uitgang (ganôg es ganôg) neem elke skrywe die gedaante van ‘n testament aan – ek bedoel, dit pas die magiese snyerskleed van verdwyning aan om seker te maak die moue is lank genoeg sodat die honde nie die hand wat die wind vang kan bykom nie, ook as verweer teen die koue natuurlik. Of dalk maak ek my verniet dit alles wys en bly die skrywe by wyse van spreke maar soos altyd ‘n pepermentjie om gesuig te word as teenspeeksel vir die voet in die mond se lawwe smaak.
Hierdie is egter nie ‘n testament nie, dêmmit ! Stel dit liewer vir julle voor as ‘n dêmmitse boerpampoen in die hoer se kruiwa gekarwei so al agter die stoot aan : om in die Boland begrawe te word in daardie gat wat slegs die eenhoring sal weet om verby donkerword in die maanlig te kom uitsnuffel.
Jek gee niks as belewenis aan
Maar wil julle tog maan :
Moet dit nie laat val nie !
besinning
ek skryf
in Afrikaans
met ander woorde
ek praat met die dooies
gisterende dooies
nou dooies van nou
die toekoms se dooies
sonder hede of verlede
is om’t ewe dood :
om leefwoord en woordbewe
nie te onthou : skryf ek
in Afrikaans
gedig vir woorde
dis nie dat ek na my woorde soek
(sê wié van wanneer ?)
want ek weet julle soek my eweneens
kom klop aan die sinnelose hart
wat lankal ‘n eggokamer
van vlerkslae is
en jaag soms sillabes op in die donker
soos die ettering van ou swere
weer bloei
luister,
moenie blindemol speel
moenie ophou soek
na omlyning van die herinnerde gesig
in die donker bloed nie
ek sal hier wees
soos altyd
(effens vervloek van ‘n té lang reis)
in die leë gedig
om verby genade die holtes oop te hou
en die fees van vlervoëls weer verbeel
vir julle huis toe kom
en indien dit dan moet wees
dat ons ons afwesighede aanneem
is dit ook goed
kyk,
in die skryflaai van raaisels
is die goëlaar se handkaart
gebore en weggebêre
(myne ? van wanneer af ?)
neem dit
sodat julle die beweging
na mag maak
om aan die skyn
van volbringing te raak
die sestiende versreël verbeel
ons word oud
en weet nie meer
dat ons verdrink in die lippe se inkskink
van blindbestaan nie
donkermaan pampoen
voorgeboorte klip
gee gesig
aan afwesigheid
pampoen geëet
het vergeet om te vergaan
behalwe geboen in die weerblink
van ‘n naam
om die saamsaam
van ons sinkende skip
met hierdie gewiglose soen
te verseël
om uit te kyk op niks
te belewe daar is niks
of selfs die vel van niks
of selfs die skyn van niks
wat uit kan kyk nie
asof die son om die planeet
sou wentel om die bome
teen die bult gebaai
in lig te vra vir die dans
van bewegingloosheid
wit bedwelming jasmyn
deur die raam
oop asemhaling van wind :
goeiemôre, son.
hoe ? nee, niks slaap nie
« going home without this sorrow /
going home sometime tomorrow /
going home to where it’s better than before /
going home without this costume I wore… » (Oupa Lewe Cohen)
Pampoenmaandag, 2017
[© Breyten Breytenbach]
Van harte geluk en allerbeste wense vir die volgende pampoensiklus, Breyten. Dankie vir die lieflike verjaardaggeskenk. Hierdie leser is graag “aandadig aan die gesigbaarmaak van woordverwording se bewelewe”.
Cucurbita pepo – fragmente van ‘n veldpampoen
‘n Anderman het die koerant gelees. Opsoek na woorde. Enige berig oor ‘n Man wat ‘n pampoen koop vir sy verjaardag die sestiende september. ‘n Bosduif het voor hom kom pik aan die fotos op die bladsy. So geweldadig het die ding geword dat sy veertjies begin uitval. Voor die duifie die duiwel die krans afja vou die Anderman hom in die koerant toe. “Waar vind mens nog ‘n boerpampoen om onder jou arm te dra op die sestiende september?” Vra die man homself. Met die duifie in die gefrommelde papier stap die Anderman veld toe. Met elke tree dryf daar veertjies agter hom. Hulle gaan rus liggies op die wandelpad en verdwyn soos wat hulle vergeet word. “Waarna soek jy alweer?” Vra die man in die maan. Klink nes my vrou dink Anderman aan homself. “Ek soek ‘n man wat ‘n pampoen koop vir sy verjaardag die soet september saterdag.” Die maan knik sy kop en wys met ‘n kaasneus in die rigting van die veld. Maar so vroeg in die more is die veldpampoene kwaai. Toe die Anderman daar aankom grom hulle soos ‘n koor. Hy was gekonfyt in die smaak van pampoen en het geweet daar moet vandag ‘n nuwe een op die rank wees. Hy tel hulle in twees. So kom hy agter daar is net soveel soos laas jaar. Hy druk sy hand in sy sak om die duifie uit te haal. Maar die voëltjie is weg. Hy was egter gaaf genoeg om die koerant te bemis gedurende sy ontsnapping. Anderman plant ‘n saadjie in die papier en begrawe dit langs die ghoempampoene. Soos die sonsak ontsap daar ‘n posduif uit die langskaduwëe. Met ‘n briefie in sy bek vir ‘n man wat pampoen koop op sy verjaardag die sestiende september.
16 September 2017
Baie geluk, emeritus pampoenvader.
Vergeet van die ag (soos die ag ja, en die ag nee) en hou die sewentig vas, Breyten. Baie geluk met hierdie verjaardag. Dankie vir die geraasmakery (in hierdie donker veral) en die aanhou-beweeg (uit die woordeboek) en die vrye “gesigbaarmaking” – so gesonder as daardie verknegte boetpsalms se verduistering.