amo
dat ek jou liefhet, ’n mededeling in die skemer
opreg, ’n kind wat op sy erewoord sweer
en dwingend, ’n ou mens wat in hoofletters skrywe
dat ek jou liefhet, vertroulik soos ’n vuurhoutjie
wat bakhand vonk en die vlam verdeel tot ek jou
gesig herroep in die maagdelike gloed van ’n kers
dat ek ’n alleenloper is soos jy
en dat ek jou liefhet, sodat ons saam
alleen kan wees
dat ek jou weggaan vrees, die meervoudige
eensaamheid van spieëls, die stil uitroep
van rimpelings in water
dat ek jou liefhet
my skaduwee, my donker kameraad
my beskermer en my bedreiger
dat ek jou liefhet soos die getuie van ’n visioen
of die geheim van ’n telefoonhokkie, die rugkant
van gesprekke skugter vorentoe gebuig:
om na jou te verlang
is om na die verlange self te verlang
***
Winter
(Vir Mari Samuelsen)
Sy bespeel landskappe,
die venere van swart ys.
Haar vingers spits
pizzicato: sneeustorms
se bibberbeelde soos ou films
want Piazzolla pluk dissonant ―
die wind vlug uit sy leegtes
maar waai weer daarin terug.
Vivaldi kwink sketterend;
’n sondeurdrenkte tjello
en jong voëls kwinkeleer,
vegtend in die vlieggewig van kleur.
Berge; ysende bloudrukke;
die saffiere as Noorse mere breek ―
die stormviolis is op haar pos.
Winter is ’n sober esteet
dog onvoorspelbaar soos vuur.
© Nini Bennett, 2017
Nini, jy is ‘n ongelooflike, skitterende digter. Baie dankie. Melanie Grobler
Regstellende aksie..
‘n Gedig kom nie heeltemal tot sy reg as hy soos ‘n prosastuk aangebied word nie. Jammer.
Hierby die Barrett-Browning vertaling soos hy moes gelyk het.
Groete
Balt
Hoe ek jou liefhet? Laat my die veelvoud tel.
Ek het jou lief tot in die diepte, hoogte, breedte
waarna my siel kan reik wanneer dit sig verloor
oor my bestaan se einders en volmaakte seën.
Ek het jou lief tot waar daagliks strek
my stilste behoeftes, by lig van son en kers.
‘n Vrye liefde, soos die mens na regte streef
My liefde’s suiwer, soos hy hom afwend van lof.
Ek het jou lief met hartstog wat moes ly
onder my ou smarte en my geloof as kind.
Jou lief met die liefde gewaan verlore
met wat eens heilig was. Jou lief in die asem,
glimlagte, trane van my hele lewe
– en, as God wil, jou nog dieper liefhê na die dood.
Hallo Nini
Jou gedig Amo laat my dink aan dié van Elizabeth Barrett-Browning van twee honderd jaar gelede, in ‘n volledig ander tyd en taal. Om dit taalkundig in dieselfde ruimte te bring, hiermee my vertaling sopas gemaak. Dis van die Engels – Romantiese periode maar ook in die tyd van vroeë selfbewuswording van vroue en die bydraes wat hul begin maak het in die literatuur en die besonder vroulike wat daarin verwerk is.
Desondanks voel ek dat sy ook nog en juis daardeur nog tot hierdie tyd kan praat oor die liefde as ‘n holistiese menslike ervaring.
Hoe ek jou liefhet.
E. Barrett-Browning
Hoe ek jou liefhet? Laat my die veelvoud tel. Ek het jou lief tot in die diepte, hoogte, breedte waarna my siel kan reik wanneer dit sig verloor oor my bestaan se einders en volmaakte seën. Ek het jou lief tot waar daagliks strek my stilste behoeftes, by lig van son en kers. ‘n Vrye liefde, soos die mens na regte streef My liefde’s suiwer, soos hy hom van lof afwend. Ek het jou lief met hartstog wat moes ly onder my ou smarte en my geloof as kind. Jou lief met die liefde gewaan verlore met wat eens heilig was. Jou lief in die asem, glimlagte, trane van my hele lewe – en, as God wil, jou nog dieper liefhê na die dood.
Vertaling – Balt Verhagen 27.01.17
______________________________
How do I love thee?
How do I love thee? Let me count the ways.
I love thee to the depth and breadth and height
My soul can reach, when feeling out of sight
For the ends of Being and ideal Grace.
I love thee to the level of everyday’s
Most quiet need, by sun and candle-light.
I love thee freely, as men strive for Right;
I love thee purely, as they turn from Praise.
I love thee with the passion put to use
In my old griefs, and with my childhood’s faith.
I love thee with a love I seemed to lose
With my lost saints – I love thee with the breath,
Smiles, tears, of all my life! – and, if God choose,
I shall but love thee better after death.
Groete
Balt