Pirow Bekker. Apokalips van die parkiete
Apokalips van die parkiete
Ek is hier
en Ma is hier
en elke liewe maatjie –
ons sit en ginnegaap
hier in ons slaaptydbos
langs Bieblebom se paadjie.
Wat was dit? ’n Knal?
Weerlig uit die bloute, Ma?
En hou die hael verby?
Maar nee, ons fladder saam,
kry eindelik ons vlerke vry,
vlieg uit teen nog ’n knal,
sien hoe ons slaapmaats val.
Kom, Ma, kom ons draai om!
Ons moet terug, ons moet gaan vra:
Wat het jul oorgekom?
T’rug na die vervreemde lug,
die bos van ginnegaap:
Waar is hul heen, wat
slaan hul neer, hoe waai
die wind, hoe ruk, hoe skeur
dit ons geliedere oop?
Ek is hier
en Ma is hier.
Ons twee lê
in Bieblebom se paadjie
met rondom ons die ander algar
wat die dag se lig
uit hul oë aan ’t gaap is. Bedeesd
of hoe? “Kyyyk hierso, Ma!”
(c) Pirow Bekker / 2018