Breyten Breytenbach. Vir die skryfmaat
vir die skryfmaat, Ene Nee-Een
« wéét jy waarom ons sterwe ?
omdat ons léwe ! »
- Jean d’Ormesson
liewe hand : jy moet nou basta
die dood so aanhou te wil tart
en koggeltérg met jou sywaartse skuifel
asof dit wat jy beskryf in knokke en skubbe
‘n lokbokkom sou kon wees
vir beweging in die diepte
van die mensdier gesoog in die waterlabirint
se skaduboggel by wyse van spreke
waar hoor en sien vergaan
jou skrywe is nog geen lint
na die onderwêreld nie :
ganôg es ganôg smartvraatsug, madoda
vir nou behoort jy jou te hou
by die taal se smal oewers :
ophou strepe en patrone trek
op die water om dan
hoor en sien
tromp-op te daag om uit te haal
en te kom wys vir die meet
van matelose kragte asof
daar iewers ‘n beweging
in die dieptes kan luister
wat verlei sal word deur die vrot
hoender-hondevleis van jou hand as aas
wie is jy om so krokodillerig te wil snotter
dat jy genoeg genade kon skep
om die volmaan te laat baai in die gedig ?
die gesleep van vlerke in die stof
die bôjanerige pronk-pronk woordspronge
soos die sywaartse danspassies van ‘n vreeslose kryger
haantjie astrant
haantjie manhaftig
maak geen hond haaraf nie :
jou potsierlikheid beïndruk g’n dooie iemand
se uitgetrekte siel
ou maat, jy wiel vir niks
jy trap te hoog
jy krap te laag
daar is nie ‘n maan om jou te bevry
al ry jy die wind ook hoe boud-boud bloots
al huil jy snags uit volle bors
en besmeer die vergesogte verejas met slym en trane
jy kan nie weet van gefluisterde ritme
die offerlam word nie van spoor gedu
deur die snuf in die neus van visvieserigheid nie
jy kan nie beide wind én vlag
se gewapper wil vergestalt
kan nie die bruid by elke graf
en die doodsklok by iedere troue wil lui
vir die gesiene gehoor nie
hasta la vista, baby
vaya con dios, compadre
bon vent !
en moet in liefdesnaam nie omdraai
om ‘n hond in die bos te gooi nie
jy soek gemeenskap ?
probeer jou ‘n samelewing verbeel ?
dit sal in asemmerking geneem
die nodige aanddag geniet
om van die hand gewys te word
waarom so hans en so angstig ?
met al die jare van buk en begrawe
van die hand se dolhede
om die holle verlede weer oop te krap
behoort die letsels jou te help onthou :
die been het lankal versteen
dit maak geen sin
of kop of stert
om hangstig te wil wees
nou die nalaatsel as is
want dis nie nodig om enigiets aan te jaag
nie nou nie
sy wéét van jou
elke hond kry sy dag
en die vlugsoekende hand
hoe kaal dan ook
kry ‘n vuis se vers vol vere in die nag
indien jy gereed sou wees om te wag
tot jou beurt ryp genoeg is
vir die pluk
en die sluk
al jou woorde saamgebundel
is één miershoop se skarrelende bewussynskring
om die knetterende gekou van mondjiesmaat klei
te wil karwei vir die voed
en behoed
van die blinde oer-koningin in haar doolhoftombe
en haar sing-sing aan die lewe se ombring te verraai
moenie dat die halsoorkop haas na spoed en betekening
jou besinning verdraai
soos ‘n doodgebore kind
wat aan die woordestring versmoor
nog bebloed om jou nek bly bengel
dis waarvan daar gesing word in die slawelosie :
dat jy nie ‘n vreemdeling in die paradys is
en die bekende vreemde sal kom om te skree of te kerm
wanneer haar beskermende ritme
in jou asemspasie pas
en jou hortende samehang
die wik-weeg beweging van vingers
te bang om afgelek te word
die mik-mik tot volvoering bring
die in en uitgangsholte smaak wit
soos die maan
wat groot geswel het in die water
se roering
dis nie myne nie
dis nie joune nie
wees geduldig :
leer skryf sywaarts : haal
diep asem
om tot die vreemd
bekende verhaal te kom
jy is haar lyfverslaafde
en sy die slavin van jou asemstilte :
want wanneer die tyd geskik en gerangskik
hier en daar is
sal sy kom op gedoekte voete
om die lyk van alle skyn onthef te laaf
en die gedig vers en pootjies en beendere
toe te wikkel
vir die weglê
in die inkbekladde waad van ontbinding
moet haar nie uit die oog verloor nie :
wat daarvan as sy aanbid wil word ?
sy is jy
jy is sy
van agter en van voor
van sien en van hoor
van binne en van buite
van twyfel en van toor
wanneer deur ruite van pyn
die brandglas in die maan
die sterreskuite in hulle hemelskynvaart
reflekteer en inspekteer in één introspeksie
ineengestrengel en verbind
aan één naelstring
kan niks julle onderkry
maak die niks julle bly
sien-sien julle kans om selfs die self
in skrywe se gang tot vernietiging
wanneer asem die eerste en laaste
teugtuig se naam is
te konfronteer : te hanteer, geliefde :
bly-bly te dans in die donker hart
weer en weer
keer op keer
op en neer
totdat die halssnoer woordstringkraaltjies van klei
die lig vang in ‘n wéérlewing
van bewende lewe
San Pedro de Alcantara
30 Desember 2017
[© Breyten Breytenbach]
Mooi. Die labirint van innemende woorde.
Insuigende betekenisse hierbo. Die gevoel van insuigend laat my dink aan die onlangse beskrywing wat ek gelees het in die kulturele filosoof Hans Blumenberg se boek “Arbeit am Mythos”, waarin daar verwys word na Heinrich Heine se enigste ontmoeting met die stokoue Goethe. Heine het die ontmoeting aan sy broer beskryf. Heine se teenstrydige gevoelens jeens Goethe is ooglopend. Hy bewonder die ou man, maar beskryf hom as verskriklik onbeskof (geen bedekte verwysing na BB of sy gedig nie), en ja: hy wat Heine is het gevoel hy moet net daar weg sodat hy nie ingesuig (my verkorte omskrywing) word nie. Hy het Goethe nooit vergewe vir sy Goethe-skap nie. Ha ha : Die wyse waarop betekenisse, wat deur die ou man gevloei het na buite nie, eggos van betekenisse, die jonger man, so te se, aangerand laat voel het nie.
Vandag, na soveel postmoderne filosofiese besinnings deur vele en allerlei, weet ons dat dit die aard van betekenis is om dit te doen. As dit behoorlik uitgedruk word.