Mdina, Malta
(die stad van stilte)
Vroegdag skryf ek
vanuit die hoogtes af,
glip my woorde
oor die verhewe skanse
van ‘n toeriste-bastion.
Deur gragte hoe bitterswaar
met pik en graaf gekap,
spoel my strofes
oor die sweet van slawe,
en waaier sinne teen slakkepas
kuswaarts met die busroetes langs.
‘n Roesemoes van klipgedagtes
ruim ek onder op die vlaktes op:
om wingerdlappies, of rytjies koring
word steen op steen
min of meer gemaak pas;
kry elke kleinboerplaas sy ruwe muur.
Vanuit wit stede ver weg aan die see
kom die leerskare aangedreun:
die slot gebreek,
val my poorte oop;
onder hordes voete
loop nog ‘n vers
dawerend dood.
© HF Nortje 2018