Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 July 20197 July 2019

Resensie: Alchemie van my muse (Pieter Hugo)

Alchemie van my muse, deur Pieter Hugo. (Naledi, 2019)

Resensie deur Gisela Ullyatt

Pieter Hugo, ’n bibliotekaris van beroep, debuteer in Nuwe Stemme 4 (2010) met vyf gedigte. Indertyd staan dié gerf gedigte reeds uit vanweë ’n gebrek aan poëtiese fieterjasies en ’n onderliggende Schmerz wat verband hou met Beaufort-Wes en Gert Vlok Nel.

Nege jaar later, in sy nege-en-vyftigste jaar, debuteer Hugo met sy solobundel, Alchemie van my muse. Die elemente op die voorplat neem die alchemiese proses in ag: die boonste derde van die gesigsveld is swart wat die Nigredo uitbeeld; dié vervloei tot ’n donkerder steenkoolgrys. Die “van my muse“-gedeelte in die titel staan in die Albedo– of wit gedeelte wat bietjie meer as ’n derde van die veld beslaan. Die kleinste gedeelte, ’n korrelrige steenkoolstreep wat wissel van lig tot donkerder, huisves die digter se naam en van.

Alhoewel Hugo nie op die oog af Jung se alchemistiese proses van integrasie en individuasie in sy gedigte aanstip nie (behalwe vir die program-gedig en “Ek en my skaduwee”:37), skakel die oorkoepelende atmosfeer van die bundel met die proses, veral deur die gebruik van die vaste versvorm neffens die meer ongestruktureerde verse. Daar is ook die gevoel dat die bundel ’n wisselwerking tussen heelheid, gebrokenheid en herhaling is; kortom ’n tipe persoonlike transformasie wat in ’n sirkelgang verkeer.

Die bundel word in nege afdelings ingedeel, waarvan die gelyknamige program-gedig op sy eie staan:

terwyl ek in loodstilte kwyn

daag jy uit die bloute op

.

my woord-elikser

wat drie protone laat verdwyn

.

Deur die loop van die debuut, tree Hugo in gesprek met verskeie digters, onder andere met NP van Wyk Louw, Wessel Pretorius; Elizabeth Barrett Browning en Shakespeare. Die digter se grootste gespreksgenoot word egter in die digter/troebadoer Gert Vlok Nel gevind.

Reeds in Nuwe Stemme 4 val die Vlok Nel-interteks op in meer as een gedig. Interessant genoeg is ook die gedig, “kom in gert kom in kom in” in hierdie bloemlesing dan die genesis van die eenlettergrepige “Gert” in Alchemie van my muse. Inderdaad kan laasgenoemde weergawe as soortgelyk beskryf word aan wat die HAT, 6de uitgawe, se voorblad beloof: “Omvattend herbewerk en uitgebrei”. Die 2010-weergawe van die gedig beslaan ’n bladsy teenoor die vier-en-’n-bietjie bladsye in Alchemie. Die oënskynlike woord-oorvloed van hierdie gedig was aanvanklik ’n lees-hindernis: die bladsye lyk digbevolk met lang, prosa-agtige reëls.

Die gedig verdien egter om nie nét herléés te word nie, maar in die onderbewuste te laat gis. Met die tweede lees van hierdie bewussynstroom-vers, kom patrone tot die oppervlak wat alles bydra tot die Gestalt van die gedig. Vanuit ’n ander hoek kan “Gert” ook beskou word as ’n gesprek met die digter-self soos gesien in onder meer die volgende reël: “likewise interweef jy postmodernistiese poems […]”. Vanuit ’n Jungiaanse perspektief, swaelstert die volgende reël met die alchemiese proses waarvan albedo (wit) en nigredo (donker/die skadu) twee prosesse daarstel: “hy sê gert jy’s donker & lig & lieg ineen gert”.

“Al die fasette” (50-53), ’n gedig wat ook steun op ’n tipe van bewussynstroomtegniek,  is egter minder geslaagd as “Gert”, omdat daar dele is waarin die herhaling net nie vlot nie:

[…] sluk

laat sluk my

verstiksluk die waarheid afsluk

af af verby

dis klaar met haar klaar klaar

klaar daar

hoor daar

kerm kermende viole soos elektriese kitare […]

my willieweet ek weet ek weet

ek slukweet en

tromme roffel roffel rof ek weet

dis rof rof dis kermklaar sugsnik

snik snotsnikkend

snik-snik […]

Vrye vers is egter nie al waarmee Hugo hom as digter besig nie: die bundel bevat deurgaans gedigte wat vormvastheid omarm, soos gesien in die villanelle-vorm van “Die koue front” (56). “Sal ek jou vergelyk met ’n herfsdag?” is ’n Italiaanse sonnet. Ook “Woordstof” (8) is ’n veelvlakkige gedig wat ’n tegniese woord of twee verdien:

Ek kuier lekker by my eerste broer

oor die droomdis van vis en baie wyn.

Ons gesels oor gedigte, boeke, pyn:

enkeldiep lê die woorde oor die vloer.

.

“Skryf ’n sonnet. Dan is jy ’n digter!”

daag hy my uit. Ek skryf die hele nag,

maar kry net kwatryne. So breek die dag:

kniediep lê die woorde, dronk, ontnugter.

.

Ons luister radionuus, ons lees koerant,

ons sink weg, verdrink in die alfabet!

Ek stofsuig alles op, van A tot Z,

die ganse woordgemors van hoek tot kant,

.

maar die suier verstop letterlik. Met

die pyp se skud verskyn daar dié sonnet.

Hugo se verstegniese vaardighede word ontplooi in hierdie jolige sonnet. Die vorm (3 sonnette en ’n koeplet) is Shakespeariaans of Elisabethaans, maar die rymskema in die eerste stanza (abba) is gelykstaande aan dié van die Italiaanse of Petrakaanse sonnet. Ook word ’n outobiografiese element aangebied: Hugo se “eerste broer” is die bekende digter en vertaler, Daniel Hugo, ’n digter wat veral bekend is vir sy getrouheid aan vorm.

Vervolgens is daar elf haikoes wat in die vier seisoene opgedeel word; ’n gunsteling hier is die intertekstuele haikoe wat onder die titel, “Somermomente” (27), ingedeel is:

Droë wit seisoen,

Gerugte van reën, maar jy

Brink somerseën

.

Nog ’n treffende haikoe, die keer onder “Herfsmomente” (28), is:

.

Herfswinde warrel

my voëlverskrikkergesig

vol droëwalmplooie

.

Hugo flankeer ook met konkrete poësie in “Stippeltjie” (2); in “Nine eleven eggo voort” eggo die konkrete vorm van die gedig die tragiese gebeure van agtien jaar gelede, alhoewel die inhoud ’n verrassende en geslaagde objektief-korrelatief rondom ’n by en byenes inkorporeer.  “rondo” (22), ’n sirkel wat uit sestien woorde bestaan, is miskien die gedig wat lesers die langste besig sal hou: die bundel moet fisies gedraai word om betekenis uit te maak. Hierdie gedig kan ook as die ouroboros gesien word, die slang wat sy eie stert insluk en dus speel met die mitiese en woord-implikasies daarvan. Ook speel die gedig in op die rondeau-vorm wat op refreine steun.

As bibliotekaris (assistent-direkteur van Biblioteekdienste in die Wes-Kaap) is Hugo uiteraard betrokke met gemeenskapsprojekte en kan ’n mens aflei dat hy die kloof tussen veral Afrikaanse gemeenskappe oor die jare moes ervaar (9):

Die stryd om ons geliefde taaltjie,

o, die stryd om ons geliefde taaltjie.

Wat sal ons tog sê?

Dis ’n aparte ou verhaaltjie.

“Kwatryne” speel met die stuitigheid van volksverse waarvan die vierde kwatryn die vorm ten beste beskryf:

Die lakens en komberse,

ja, die lakens en komberse.

Dit raak soms lekker warm

In hierdie volkse verse.

.

’n Punt van kritiek rakende die volkskwatryne is dat, alhoewel die inhoud pitkos vir die siel is, die herhaling van die tweede reël, “ja, die …” en die res van die eerste reël, na omtrent ’n bladsy, hinderlik inwerk dermate dat hierdie leser langtand aan die res van die reeks gekou het (daar is 46 kwatryne in geheel). Dit is ’n jammerte, want die uiteindelike boodskap van meeste van die kwatryne kom neer op baie meer as blote rympies.

Hugo se gedigte oor sy vader is van die sterkste gedigte in die bundel; hiervan is “Nie Pa se gedig nie” (33) ’n absolute hoogtepunt. “Hemel, Ma!”, ’n blik op die gestorwe moeder, is tegerlykertyd deernisvol en satiries.

Met Alchemie van my muse sal Hugo lesers op hulle tone hou en ook tone laat omkrul van leesplesier: die alchemie van die woord word ’n spel tussen lig en skadu, skerpskets en Schmerz; dit is ’n  bruilof met vorm, maar ook ’n gekafoefel buite hierdie huwelik. En wie is Hugo se digterlike muse? Lees maar self en word meegevoer…

 

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Twee nuwe publikasies: Brisant (Hein Viljoen) & Alchemie van my muse (Pieter Hugo)

1e kommentaar op “Resensie: Alchemie van my muse (Pieter Hugo)”

  1. Charl-Pierre Naude says:
    3 July 2019 at 17:04

    ‘n Resensie wat maak dat mens die bundel beslis wil lees.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d