vriende, medesterwendes

hier lyk ons nog ewe windgat
maar eintlik het die insamel
van bewuswording mét begeerte of sonder sin
met ander woorde die byna vol
genoeg om leeg te wees
geskep uit stamelende bestaan ook tyd genoem
ons faktap geslaan
ontdaan van sin en vleeslike vergestalting
ontdaan van syn en vleeslike vergestalting
hang ons nog ‘n oomblik aan
die skyn van te bestaan het
ten minste vir die skryf van hierdie
woorde met blinde gesigte na die lig gekyk
en die arms om mekaar se gedaantes gewaan
Die pampoen is verorber in al haar skoonheid van geel tot soet. Dis die 19de September. Gister het ons ‘n wilde olyfboom vir my broer geplant in die beskerming van eike op die oewer van ‘n stroom, en daar was reiers wat kom kyk het, en ‘n valk en ‘n glinsterende kriek en ‘n verkleurmannetjie op ‘n tak tussen blare. Uit ‘n kissie is die asse tussen die wortels gestrooi, dit het water gekry sodat die boompie kan groei en sterk mag wees.
Ek wil dankie sê vir al julle wonderlike gasvryheid, vir die menswees, vir die oomblikke van vashou, vir die nugter-weet-van-waar insigte soms, vir die bloedmaan, vir die vloed van herinneringe. Vir die musiek. Veral vir die musiek en die gedagtes soos musiek. Omdat dit verbygaan sal dit bly. Dis nie reg om name te wil noem nie – daar is te veel.
Ek wil om verskoning vra dat ek by tye stuurs, afwysend, steeks en selfs beledigend en lelik-met-die-mond-saam was. Daar’s geen verskoning voor nie. Miskien die verduideling dat dit te oorweldigend was, dat ek bang was vir die seerwees en al die liefde in hierdie land, nie wou onthou nie, nie méér wil weet nie. Ek is jammer, mense.
En nou is dit tyd vir omdraai. Om terug te gaan na die stiltes en die bymekaarmaak vir oor tagtig jaar. Ek belowe ek gaan my beter gedra. Ons sien weer, ons gesels weer. Die mense wat geklankdig op die bygaande foto so kyk na waar daar niks is nie is nie noodwendig dié hier ter sprake nie. Dis ter gedagtenis aan ‘n bymekaarkom van pampoenboere in Francis Galloway se boek.
Liefdegroete
Ka’afir

En ek sou moes weet – hét ook geweet – die wakende hand van oplettendheid sou my beskerm. Dankie, Marlise!
Breyten