Die Meksikaanse Nobelpryswenner (1990 ) Octavio Paz, is gebore in 1914 en het geleef tot 1998. Hy het ’n wêreldwye reputasie verwerf as voortreflike digter en essayis.
Jascha Kessler, skrywer verbonde aan die Los Angeles Times, het Paz beskryf as “waarlik internasionaal”. Manuel Duran van World Literature Today het gesê: “Paz’s exploration of Mexican existential values permitted him to open a door to an understanding of other countries and other cultures”. Duran het verder gesê dat Paz universele aanklank gevind het sonder om sy unieke eienskappe prys te gee.
Die Nobelprys in Letterkunde 1990 is aan Paz toegeken vir: “Impassioned writing with wide horizons, characterized by sensuous intelligence and humanistic integrity.” (Poetry Foundation)
In poets.org word die volgende gesê: ” His later work shows an ever-deepening intelligence and complexity as it investigates the intersection of philosophy, religion, art, politics, and the role of the individual. ‘Wouldn’t it be better to turn life into poetry rather than to make poetry from life?’ Paz asks. ‘And cannot poetry have as its primary objective, rather than the creation of poems, the creation of poetic moments?’”
In feitlik al sy werk vind mens die versmelting van teenoorgesteldes. Magte wat mekaar teenwerk word in sy gedigte vereenselwig. Die bundel “Air Born/Hijos del Aire” is byvoorbeeld in Engels en Spaans geskryf. Dit is ’n tweetalige reeks sonnette wat Paz saam met die digter en vertaler Charles Tomlinson geskryf het.
Indien ’n gedig nasionale en linguistiese grense wil oorskry, moet dit heen en weer oor die grense kan “vloei”. Paz en Tomlinson het geïllustreer hoe dit gedoen kan word met die skryf van ’n gedig “House”. Tomlinson het die eerste vers in Engels geskryf wat toe deur Paz vertaal is. Paz het die tweede vers in Spaans geskryf en dit4 is deur Tomlinson vertaal.
’n Gedig in Spaans en Engels
Hier is die eerste deel van die gedig:1
La casa se construye con lo ahí encontramos One builds a house with what is there
(con crin ligaban la argamasa – había caballos) (horsehair bonded the plaster when horses were)
y con lo que traemos (la rima anda escondida): and of what one brings (the rhyme concealed):
para su tiempo, espacio – tiempo para su space into its time, time to its space
espacio.
Mas nacemos en casa que no hicimos. Yet we are born in houses we did not make.
(Terloops, ek vind die tweede Engelse reël ’n bietjie onsamehangend. Ek sou dit vertaal het as: “Die pleister is met perdehare gebind – daar was perde”)
Volgens ’n medewerker van World Literature Today, Frances Chiles, het Paz probeer om ’n gevoel van “gemeenskap” te bewerkstellig in sy gedigte, iets wat hy gemis het in die hedendaagse wêreld. Paz het die Neustadtprys in 1982 ontvang. In sy ontvangstoespraak het hy sy beklemtoning van botsende gedagtes soos volg verduidelik: “Pluraliteit is Universaliteit, en Universaliteit is die erkenning van die bewonderenswaardige diversiteit van die mens en sy werke … Om die verskeidenheid visies en benaderings te erken, is om die rykdom van die lewe te bewaar en sodoende dit te laat voortleef.”
Octavio Paz in Afrikaans
Hier volg ’n paar gedigte van Paz wat ek uit Spaans vertaal het. In die eerste gedig merk mens duidelik die teenstrydighede en botsende idees wat hy in sy poësie met mekaar versoen. Byvoorbeeld:
“Alles is sigbaar en alles is ontwykend,
alles is naby en alles is onaanraakbaar.”
Uit: “Árbol adrento”
Entre irse y quedarse
Entre irse y quedarse duda el día,
enamorado de su transparencia.
Tussen gaan en bly
Tussen gaan en bly huiwer die dag,
verlief op sy deursigtigheid.
Die sirkelvormige namiddag is nou ’n baai:
waar die wêreld in stilte heen en weer wieg.
Alles is sigbaar en alles is ontwykend,
alles is naby en alles is onaanraakbaar.
Papier, ’n boek, ’n glas, ’n potlood
rus in die skadu van hulle name.
Die klopping van die tyd in my slape herhaal
dieselfde koppige sillabe van bloed.
Die lig verander die onverskillige muur
in ’n spookagtige teater van weerkaatsings.
Ek bevind myself in die middel van ’n oog;
hy sien my nie, ek sien my in sy staring.
Die oomblik verdwyn. Roerloos,
Ek bly en ek gaan: ek is ’n pouse.
In die gedig word dit duidelik dat die digter die werklikheid as een groot geheel sien. Die mens is deel van die natuur en die aarde en alles wat daarin is. Die mens is selfs een met die tyd:
“Ek bly en ek gaan: ek is ’n pouse.”
Franse invloed
Paz het baie geleer by Franse digters soos Arthur Rimbaud en André Breton. Paz het gemeen dat die kern van Breton se poëtika daarin geleë was dat Breton gedink het dat “die natuur taal is”. Om hierdie taal te herwin, moet ons terugkeer na die natuur, voor die val en die geskiedenis. “Volver a la naturaleza, antes de la caída y de la historia.”
In Breton se geskrif “Alchimie du verbe” stel hy dit dat poëtiese visie direk oorgedra moet word, nie beskryf word nie. “Le poète devra faire sentir, palper, écouter ses inventions …cette langue sera de l’âme, résumant tout, parfums, sons, couleurs”
“Die digter moet dit moontlik maak dat sy werk gevoel, gehoor kan word … hierdie taal is van siel tot siel, en dit verstaan alles – geure, klanke, kleure.”2
Terloops, hierdie gedig hierbo is ook deur Joan Hambidge vertaal met die titel “Tussen gaan en bly.” Die gedig kan op haar blog “Woorde wat weeg” gelees word.
Die volgende gedig het ’n paar onderafdelings:
Uit: “Árbol adentro”
Al vuelo (1)
Naranja
Pequeño sol
quieto sobre le mesa,
fijo mediodía.
Algo le falta:
noche.
IN VLUG (1)
Lemoen
Klein son
stil op die tafel,
ewigdurende middag.
Iets kom kort:
nag.
Dagbreek
Op die sand
voëlgeskrifte:
memoires van die wind.
Sterre en kriek
Die ruimte is ontsaglik groot.
Daar bo is wêrelde gesaai.
Onversteurd,
sonder vrees vir soveel nag
die onversetlike kriek.
Non-visie
Leë uur, reservoir
waar my gedagtes
hulleself drink.
Vir een geweldige oomblik
het ek my naam vergeet.
Bietjie vir bietjie raak ek ongebore,
deurskynende aankoms.
Kalmte
Maan, horlosie van die sand:
die nag loop leeg,
die uur is verlig.
Treffend in hierdie gedig is die teenstellings wat versmelt word om nuwe konsepte te skep:
ewigdurende middag/nag
Die ruimte is ontsaglik groot/die onversetlike kriek
Bietjie vir bietjie raak ek ongebore
Paz het heelwat liefdesgedigte geskryf. Waar Pablo Neruda se liefdesgedigte vol vurige, byna onbeteuelde hartstog is, is Paz se hartstog verfynder en ietwat meer abstrak.
Uit Arbol adentro (Octavio Paz)
Noche, día, noche
1.
Chorro de luz: un pájaro
cantando en la terraza.
En los valles y montes
de tu cuerpo amanece.
(Fragment)
Nag, dag, nag
Stroom lig: ’n voël
singend op die terras.
In die valleie en berge
van jou liggaam ontwaak dit.
2.
Vuur slaap in die nag,
water wat laggend wakker word.
3.
Onder die blaredak
van jou hare
jou voorkop:
bome,
helderheid tussen die takke.
Ek dink aan tuine:
om ’n wind te wees wat ritsel deur jou herinneringe,
om die son te wees wat tussen jou fyn takkies deurbeweeg!
4.
Aan die voet van die palm,
lank soos ’n barbaar
golwend groen teen die aanvallende son
rus jy.
’n Poel
– water in die skadu’s – jou liggaam.
Stilte. Enorme namiddag klop
byna onopsigtelik.
Tussen jou bene vloei die koppige tyd.
5
’n Aar van sonlig, lewende goud,
gleuwe, kruise, spirale,
groen sterrestelsels:
die driehoekige insek
vorder deur die gras
drie of vier millimeter per uur.
Vir ’n oomblik het jy
dit in die palm van jou hand gehou
(waar die noodlot sy arabeske geheime afteken):
dit is ’n lewende juweel, ’n kreatuur
wat miskien uit Titania geval het
en jy laat dit met groot respek
teruggaan na die Groot Al.
6
Die dag, volkome blom,
brand uur na uur.
’n Ander blom, swart, ontvou.
Ongemerk steek jy
die skadu oor
en kom binne, dame van die nag.
Skaars ’n golf,
skaars ’n geur, wit,
strek jy uit op my bed.
En word weer ’n vrou.
7
Vlaktes van die laken
en nag van liggame,
gety van begeerte
en grot van drome.
8
Onder jou ooglede slaap
’n ontasbare dorp.
Gretige warrelwinde,
kinders van aanraking word beliggaam,
drink bloed, is die veranderende
vorms van begeerte
en is altyd dieselfde:
die opeenvolgende gesigte
van die lewe wat die dood is,
van die dood wat die lewe is.
Een van die temas wat Paz se werk kenmerk, is die idee van ’n rivier. Hy praat soms van die gedig as ’n rivier wat alles meevoer. Maar dit word ook aangewend om mense en menseverhoudings uit te beeld soos in die volgende gedig.
Antes del comienzo
Ruidos confusos, claridad incierta.
Otro día comienza.
Voor die begin
Verwarde geluide, onsekere helderheid.
Nog ’n dag begin.
Dis ’n halfverligte kamer
en twee liggame uitgestrek.
In my kop is ek verdwaal
op ’n vlakte sonder enigiemand.
Nou slyp die ure hulle knipmesse.
Maar langs my haal jy asem;
intiem en verwyder
vloei jy sonder om te beweeg.
Onbereikbaar as ek aan jou dink,
aan jou raak met my oë,
jou sien met my hande.
Drome skei ons
en bloed verenig ons:
ons is ’n rivier van polsslae.
Onder jou ooglede
word die saad van die son ryp.
Die aarde
is nog steeds nie werklik nie,
die tyd huiwer:
al wat seker is
is die warmte van jou vel.
In jou asemhaling hoor ek
die gety van bestaan,
die vergete sillabe van die Begin.
Samevattend
Octavio Paz het diep spore getrap in die wêreldletterkunde en sy invloed word vandag nog baie sterk gevoel. Sy siening van die mens en sy plek in die natuur raak al hoe meer relevant in hierdie tyd dat ons besef dat ons gevaar loop om die omgewing waarin ons leef te vernietig, en onsself daarmee.
Bronne
1. Aangehaal in: Poetry Translation as Expert Action Process, priorities and networks, Francis R Jones, 2011. Newcastle University. John Benjamins Publishing, Company. Amsterdam:Philadelphia
2. Aangehaal in: “Octavio Paz: A Study of his Poetics”, Jason Wilson, 1979. Cambridge University Press.
“as daar perde was”
Octavio, daar’s nog perde
met baie hare
(net die dooie donkies,
nou in chinese poeiers)
vanuit die vlaktes by die see
tot bo-op die berge
daar is ook hare
(vloeiende welige vosbruin
en dikker kroeseriger hare)
vir die pleister
van die mure
(horsehair bonded the plaster when horses were)
“as daar perde was” soos in perdehaar beskikbaar,
Nie?