VIII
Met die skilder te perd,
dikwels ook met die kar
heelbo sit ‘n negejaar-oue kind,
sy eie, soos hy met verwondering
bedink, in die eg met Anna verwek.
Dis ‘n baie mooi pad, hierdie laaste,
in September van die jaar 1527, al langs die water
deur die dale. Die lug roer die lig
tussen die bome se blare, en van die hoogtes
kyk hul af op die reg-rondom wydstrekkende land.
By die uitspanning leunend teen rotse,
gewaar Grünewald in hom sy ongelukkigheid
en dié van die waterkunstenaar in Halle.
Soos spreeus dryf die wind ons
op vlug as die skaduwees
val. Wat bly tot die laaste,
is die opdrag-werk. In diens van die familie
Erbach in Erbach in Odenwald wy die skilder
die oorblywende jare aan ‘n altaarwerk,
nogmaals kruisiging en bewéning,
die vervorming van lewe gaan stadigaan
voort, en steeds tussen die blik
van die oog en die ophef van die kwas
maak Grünewald nou ‘n verre
reis terug, onderbreek ook veel meer
as wat hy gewoond is, die vloei van sy kuns,
om sy kind na sy hand te leer
in die werkplek en daarbuite in groen velde.
Wat hyself daaruit leer, is nêrens oor berig,
net dat die kind op ouderdom veertien
weens onbekende oorsaak skielik
gesterf het en dat die skilder hom
nie lank oorleef het nie. Tuur stip vooruit,
daar sien jy in die grou van die aand
die verre windmeulens wat draai.
Die woud wyk terug, waarlik,
so ver en wyd, dat mens niks meer herken,
vanwaar dit ooit was, en die yshuis
gaan op, en die ryp verteken die veld
tot ‘n kleurlose beeld van die aarde.
So word, as die kyksenu
skeur, in lugruim se stilte,
dit wit soos die sneeu
op die Alpe.
– WG Sebald, uit “Wie der Schnee auf den Alpen”,
Nach der Natur. Ein Elementargedicht
[“Soos die sneeu op die Alpe”, Na die natuur. ‘n Elementale gedig, 1988:32-33]
©Afrikaanse vertaling Helize van Vuuren, 21 Desember 2019

Dit is ’n pragtige vertaling hierdie. In die volgende reëls is die Afrikaanse “die lug roer die lig” treffend teenoor die oorspronklike “Die Luft bewegt das Licht
zwischen den Blättern der Bäume,”
“Roer” het vir my meer beelding as die Duitse “bewegt”.
Die volgende reëls bied interessante moontlikhede: “Wie die Stare treibt der Wind uns zum Flug zur Zeit der Einkehr der Schatten.”
Die Afrikaanse weergawe “… as die skaduwees val.” is heeltemal gangbaar. Maar die word “Einkehr” het verskeie betekenisse. Dit kan ook “bepeinsing” en “inkeer” beteken. Sou die volgende weergawe nie ook moontlik kon wees nie? “Soos spreeus dryf die wind ons vlugtend tot die bepeinsing van die skadu’s”? (“zur Zeit” is hier implisiet). Die skadu’s neem dan figuurlike betekenis aan en beteken iets soos die einde van die lewe, die hiernamaals.