klein begeertes
3
Doen weg met die stigma.
Doen weg met die slang.
Verander die tuin na ’n oseaan.
Dit is Eve se klein begeertes.
Elke oggend ry sy met ’n lang, kronkelende pad
af water toe. Dit voel gevaarlik, konstant afdraande,
’n beheersde glyplank, foefie slide met sterflike grense,
mensgemaakte rivier se beweeglikheid toegeteer.
Krakies dring deur. Die aarde beweeg onder die pad
en vat-vat aan die relatief dun, gladde velletjie.
Haar ligte is altyd aan. Met twee skynende oë verhelder
sy haarself teen die helling af. Veiligheidsmeganisme
van sien of gesien wees. Skrikwekkend hoe ’n kar
net by ’n skuinste afvloed, magtig beheersd, maar
met ’n spoed, oortuigend verpak as ’n tegnologiese kokon
wat netjies en doelgerig die draaie aanpak.
Likied en wateragtig met ’n skaduwee wat lank
en glansend agter haar aanswem
bestuur Eve haar roete sodat sy daagliks afstort water
toe. Motor handeviervoet geparkeer, plas sy uit.
Eve betas die water.
Duidelik om te swem en die ondersteuning van vloeistof
om die liggaam te voel is utopies. Om te dryf
op die oppervlakte, ’n lyn tussen blou en blou met lyf
en tone kierts uit en mond een groot uitasem van koudkry.
Om deur ’n golf te duik, snakkend na werkende longe,
een teug na die ander ’n rillende ekstase.
Maar daar is ook iets anders, onbeskryfbare barmhartige baarmoeder,
en daarom, byvoorbeeld, die digkuns.
© Klara du Plessis