Gedagtig aan Saul Radomsky
geb. circa 1943 – oorl. 4/2/2020
(hy het in Belle-Ombrestraat gewoon
en toe na die illusie van dieper skaduwees vertrek)
« laat sak die gordyn
trek ‘n laken oor die nag van syn
en gaan die pyn
se skyn van alledaglig binne »
om één keer die asem diep in te neem
al die geure en ruimtes van bestaans
klanke wat die mens ook ooit kon verbeel
alles wat héél-een is
om die longe te vul, innig te hou
te hou en te laat gaan
en te laat gaan
is gelykstaande aan ‘n al-een lewe
twee keer is reeds een te veel
vir die son se begeerte
vir die maan se taan
vir ‘n lewe om mens
van die dood te vervreem
kyk, wit ingesout verwater
maan in aandende oseaan
[© Breyten Breytenbach / 2020]
Hou van herhalende klanke, beelde..iets van’n Uys Krige.