Resensie: Verskuilde verse (Hennie Smith)

 

 

 

Verskuilde verse deur Hennie Smith. Naledi, 2019.

Resensie: J.P. de Villiers

 

Verskuilde verse is Hennie Smith se tweede bundel, nadat Naledi in 2016 die bundel Multivers uitgegee het. Volgens die agterbladteks en die flapteks werk die digter in Verskuilde verse veral met “die wetenskap”.

Die bundel word verdeel in ses afdelings wat handel oor die skryf van gedigte, die geslagtelike liefde, soeke na betekenis, menswees, “dieper” woorde en aand- en doodsgedigte. Die tweede afdeling, “Man-vrou-woorde” is heelwat langer as die ander afdelings en daardeur word die balans van die bundel versteur. Ongelukkig is dit ook die afdeling waarin die heel swakste gedigte voorkom. Een van die beste gedigte in die bundel is die liriese, anekdotiese “Annette trou haar boerseun”, toevallig ook uit die tweede afdeling:

 

Annette trou haar boerseun

Annette se boerseun-verloofde het haar ʼn vrag lusern gegee om ʼn verloofring mee te koop, ca. 1961.

 

Ek gee vir jou ʼn vrag lusern

as jy met my sal trou

ons sal sag kan slapies

soos skapies om ons kou

 

vleg vir jou ʼn ring

uit stringe van die gras

dat ons verbintenis

kan groei al vaster vas

 

as daar dalk lammers

uit ons bed ontspring

mag hul die veld bewandel

om ons saamwees te besing.

 

Die motto/onderskrif by die titel illustreer ʼn hebbelikheid van die digter om te veel te sê en om verby die einde te skryf. Poëtiese krag lê in suggestie, understatement, beelde in plaas van stellings wat maak dat mens tussen die lyne moet lees. Die digter ontneem ons hier van die leesgenot deur ʼn opsomming, soos dit in wetenskaplike artikels voorkom, te verskaf aan die begin van die gedig. En dit bring my by my grootste beswaar teen Smith se bundel. Daar word groot gewag gemaak van Smith se natuurwetenskaplike kwalifikasies. Die frustrerendste stylkenmerk van die eksakte wetenskappe wat die bundel ontsier, is beslis dat die digter niks aan die verbeelding oorlaat nie. Ek volstaan by die volgende voorbeeld uit “Notre-Dame de Paris” (bl. 71):

 

Ek betree

die binneruim

word omgeef

deur ʼn heiligdom

gotiese gewelf

pilare mure

beelde skilderye

roosvensters (…)

 

Soos die agterbladteks aandui, is daar heelwat verse waarin wetenskaplike terme voorkom, byvoorbeeld “Woordvlokke” (bl. 14), “Gestrand in die kosmos” (bl. 45-46), “Antropiese landskap” (bl. 48), “Fotondenke” (bl. 51), “Sinchroniese kosmos” (bl. 52), en verskeie ander. Ongelukkig bly dit egter by die onpoëtiese gebruik van wetenskaplike terme ter wille van die term. Die aha-moment ontbreek telkens – en die wetenskap is tog by uitstek dié gebied wat mens na asem kan laat snak. Afrikaans het tot nog toe ʼn gebrek aan digters wat die moderne wetenskap as poëtiese boustene gebruik en van die wetenskap poësie maak. Die suiwer wiskunde is op sigself ʼn onontginde tematiese ruimte, soos ons al onder andere by Johann de Lange gesien het.

Wat ek hierbo gesê het, dui op ʼn inherente gebrek aan poësie in hierdie bundel. Die verse is gestroop van die magiese wat gedigte van prosa onderskei. Die digter maak sterk en ondubbelsinnige stellings eerder as om saggies en by implikasie te fluister; hy negeer die unieke tegnieke wat prosa van poësie onderskei. Hoewel die poësie (soos Daniel Hugo onlangs gesê het) wel met argumente werk, argumenteer die digter meer subtiel as die wetenskaplike en lê die vreugde van poësie in dubbelsinnigheid en suggestie, in oorspronklike beelding, speelsheid en selfs in vaste poëtiese vorme.

Alhoewel die digter op wetenskaplikheid aanspraak maak, is hy tog dikwels vaag in sy woordkeuse en kry die leser die indruk dat die gedigte nog nie behoorlik deurdink en afgewerk is nie. ʼn Enkele voorbeeld uit “Lorelei” (bl. 36):

 

Jy op jou rots

stuur vibrasies

van vrouwees

oor die vallei

die Rynvlakte

Germaanse land

 

jy projekteer

sensualiteit

oor die eeue (…)

 

Wat my tog opgeval het, is die helder oomblikke in die bundel, wat egter dikwels opgevolg word met trivialiteite en verklarings. Een voorbeeld wat ek graag uitlig, is die begin van die gedig “Boodskap” (bl. 82):

 

Laat asseblief geen boodskap

na die sein nie

my spore hang nog

in die kuberruim

maar ek is reeds in die ander domein (…)

 

Hierdie strofe is op sigself ʼn gedig wat geen verdere illuminasie benodig nie!

Smith behoort as kernfisikus in staat te wees om die epifaniese moment wat die moderne fisika vir leke so aantreklik maak, uit te buit. T.T. Cloete skryf byvoorbeeld in minuskule besonderhede en met verstommend oorspronklike beelde oor spesifieke wetenskaplike verskynsels, soos wanneer hy in “Fyn vrugbare essensie” die sterrehemel bekyk en besef hy sit “in die saadkern van ʼn onmeetlike heelal”. Verskuilde verse het nog te min van die spesifieke, te min fyn waarneming, en te veel van die algemene. Die bundel sou inderdaad kon baat vind daarby as die digter die fermentasieproses sy volle loop laat neem het, en (met apologie aan NPvWL) die wynsteen behoorlik laat sak het tot die gedigte “niks wat somers is” meer het nie.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Verskuilde verse (Hennie Smith)”

  1. Dankie Hennie Smith vir jou egte en sensitiewe waarnemings — ontgin en sorgvuldig omskep in tasbare poësie.

  2. Helize van Vuuren :

    Maar wat is “verskuild” aan die verse, sou ‘n mens die resensent graag wil vra. So ‘n titel word tog nie om dooie neute gegee nie!

    Die titel roep hard en luid om uitleg.
    Watter tegnieke van verhulling, van versteking, van verdoeseling is in die bundel gebruik?

    Kyk byvoorbeeld hierna:
    http://www.pomoculture.org/2013/04/07/cages-mesostics-and-saussures-paragrams-as-love-letters/

  •