Eerste sneeu
Nogmaals VWL
Die onrus het oornag soos nuwe sneeu
die laagste hellings van my gesprekke
tot kilheid ómgedraai waar elke skreeu,
‘n sweep is in die blink lig van die berge.
Voëls tol soos blare in die harde wind,
‘n glinstering waar die waters afstroom,
wyl ek uitkyk na die vermorsing, vind
geen nommer om te kla; net ‘n boom
voor my groot kamervenster toegesluit:
roes en voëlmis laat alles verder afslyt.
Alles het gekom én opnuut teruggekeer
in hierdie hutspot diggesprek met u alweer.
Parodie gee lewe aan dié eerste gedig,
menig-vuldig, veelvlakkig tot wie gerig?
© Joan Hambidge, 2026
