
Resensie: Steierwerk deur Johan Myburgh. Human & Rousseau, 2026.
Resensent: Marius Crous
I
’n Ruk terug het ek, vir selftug en selfgeseling, besluit dat ek sonnette wil probeer skryf; myself gaan dwing om ritmies en rymend te dig. Maar, helaas, uit puur frustrasie het ek na die eerste Italiaanse sonnetpoging opgegee. Johan Myburg, indrukwekkend soos altyd, het my ten diepste al die simptome van indringersindroom op een slag laat beleef met sy jongste bundel. Want hier beïndruk hy die leser met 71 van hulle.
Die sonnet, aldus Camille Paglia in haar Break, blow, burn is ’n Middeleeuse digvorm wat vervolmaak is deur die Italiaanse digter Petrarka, wat op sy beurt geïnspireer was deur die tradisie van Hoofse liefde uit die suide van Frankryk. Poëties beskryf Strand en Boland (2001: 56) dit fleurig soos volg: “The sonnet’s origins are in the small, sunlit courts of Sicily. It lingered there for two hundred years before it made the journey into English poetry.” Hulle noem ook dat Wyatt en Surrey wegbeweeg het van die meer argumentatiewe en intellektuele aanslag van Petrarka, en veral die slopkoeplet ’n sterker aanslag gegee het. Shakespeare, op sy beurt, se slotkoeplette was dikwels “the loudest, most powerful part of the sonnet”.
Volgens Paglia het “the fad of sonnet writing” spoedig deur Europa versprei en veral in Engels het dit aanleiding gegee tot ’n styl wat hoogs kunsmatig voorgekom het, en vol “showy metaphors” was wat mettertyd geyk begin klink het. Sy noem ook dat geen digter voor Shakespeare soveel met die sonnet kon vermag nie (Paglia, 2005:4).
Gedagtig aan my selfoplegging van digterlike tug, moet ek Grové (https://www.litterm.co.za/2010/10/26/sonnet/) hier betrek:
Met hierdie hegte klankpatroon, met slegs twee ryme in die oktaaf en dikwels ook in die sestet, is dit duidelik waarom die digvorm, soos sy naam aandui, met klank in verband gebring word en soms ook as klinkdig bekend staan.
Hierdie streng sonnetbou is nie bloot ‘n uiterlike saak of leë vernufspel nie. In ‘n goeie sonnet word die innerlike beweging van spanning en ontspanning, eb en vloed, deur die uiterlike opset gesteun. (my kursivering)
Sonnet 37 (p. 45) handel trouens oor die sonnet (verhewe met ’n hoofletter-S) as digvorm:
37
Insake die Sonnet. As taal dan soos
Andromeda van ouds, as stimulus
om te ontdek geketting aan ’n kus
van Afrika, sandaalloos kaal gespalk
in al haar glorie naak poseer, laat ons
probeer bepaal, ’n ondersoek doen: Wie
wys wat en wie’s voyeur – sy tart en aai
al jare lank, ’n heup wat draai, ’n dy
’n aks, ’n volta as jy wil, versit
’n voet versigtig, boei my blik
en vrá vir dwang van rym, vir prosodie,
vir pret, nóg vaster knoop in ’n gedig.
En speel ek mee snap ek hoe sy my meer
in dissipline in interesseer.
Hier word die taal geassosieer met Andromeda, wat in die Griekse mitologie die dogter was van koning Kepheus en koningin Kassiopeia en vrou van Perseus. Ywersugtig soos die meeste figure in die Griekse mitologie was die seenimfe vies toe Kassiopeia haar dogter Andromeda as baie mooier as hulle beskryf. Uit weerwraak stuur Poseidon toe die seemonster om Kepheus se koninkryk te vernietig. Die enigste wyse waarop die seemonster gepaai kon word, was om Andromeda aan ’n rots vas te bind en aan hom te offer. Perseus, op die rug van die poëtiese perd Pegasus, het haar uit die lug gesien, haar gered en om haar hand gevra. Perseus het ook die seemonster verslaan. (https://www.britannica.com/topic/Andromeda-Greek-mythology).
Hieruit lei die leser af dat die taal wat eie is aan die sonnet, “vrá vir dwang van rym, vir prosodie”, maar ek dink lesers van hierdie bundel sal gou besef, dat ons in Steierwerk met slim taalspel sonder “showy metaphors” en clichés te doen het. Deurdat Pegasus as simbool van inspirasie ’n sentrale rol speel om die taal te red, word die digterskap vooropgestel. Die digter as spelende skepper word uitgelok deur die taal. Ook aan die hand van ’n tuinmaak-metafoor relativeer die ek-subjek “[sy] bedryf in hierdie land, as dilettant-/tuinier” of “fantaseer / oor tuine van weleer” (p.49).
II
steier (stei-er)
I s.nw., steiers; steiertjie.
1 a Raamwerk van pale, planke en pype wat ‘n verhewe platform bied wat werkers, boumateriaal en gereedskap ondersteun tydens die oprigting, instandhouding of versiering van ‘n gebou of dergelike konstruksie; sin. steierwerk, stellasie: Op ‘n steier staan. ‘n Steier afbreek, oprig. ≈ Dit was juis toe oom Paul besig was om ‘n gebrande glasvenster eiehandig te herstel, dat hy van die steier afgeval het (D. Serfontein: Tiendes, 1962, 85). Op ‘n sekere dag het die steier inmekaargestort en op … (hom) geval, maar wonderbaarlik is hy bewaar (J. Baumann: Sending, s.j., 197). Steiers moet stewig wees en die dra van veiligheidshoede is verpligtend (Panorama, Des. 1971, 49). Onder moeilike omstandighede het die voortreflike kunstenaars soos Raphael en Michelangelo op hoë steiers jare lank aan die muurskilderye gewerk (L.J. Schoonees: Woord, 1971, 50).
b (ongewoon) stellasie 1 b i: Ons dra af: ‘n mandjievol lekker, vet rosyntjies van haar eie steiers af, en ‘n lemoensakkie amandels, ‘n papiersak sultanas en vierkantige blokke geperste droë vye en ‘n dosie eiers (E. Kotze in Sarie, 3 Jul. 1968, 100).
2 (minder gebruiklik) stellasie 2 a: ‘n Paar hoenders met oopgewaaierde vlerke sukkel skeef-skeef en vasklou-vasklou oor die werf na hul steier (A.A.J. v. Niekerk: Soutryers, 1964, 68).
3 (minder gebruiklik) stellasie 3: Die rosies rank teen die steier op.
4 aanlêsteier 1: Vier groot seilbote kom hulle haal en dit duur ruim ‘n uur om by die steier uit te kom (TVV, Nov. 1951, 49).
II ww., het gesteier; byv. en byw. steierende, steierend.
1 a Sukkel om jou balans te hou of op onvaste bene beweeg: Uit ‘n kroeg steier. ≈ Die konstabel (steier) van skrik agteruit … soos ‘n hoender wat piep het (P.J. du Plessis: Oomblikke, 1938, 158). Sy klap hom so hard deur die gesig dat hy daarvan steier (M. de Jong in Landbw., 14 Jul. 1964, 85). Theuns steier orent, half dronk van die drukkende suising in sy ore (D. Neveling in Landbw., 30 Jan. 1968, 71). Hy stuur ‘n kreet na bo, slaan sy arms omhoog en steier die gang af (T. Burger: Beterskap, 1967, 118). Steierend en duiselig staan die meisie op. Om nie te val nie hou sy vas aan Pablo (J. Rabie, vert.: Waaier, 1960, 118).
■ Ook soms t.o.v. diere: Die sowat 8 000 volt wat deur die drade vloei, is genoeg om ‘n olifant te skok dat hy steier (Landbw., 3 Sept. 2010, 4).
b ‘n Merkbaar fisieke reaksie toon op iets wat beleef of gehoor word: Wat hy sê, laat Stefanus en Sylvo steier en hy het nog skaars begin toe hulle albei besef dat hy ver van waansinnig is, dat wat hy hulle voorgeskilder het, nie ‘n dwase droom is nie (M. de Jongh: Okatura, 1968, 114). Ek kan sien hoe sy steier, en ek weet dat my woorde getref het (F. de Villiers in Landbw., 15 Okt. 1968, 96).
2 (t.o.v. diere, veral perde) Op die agterpote agteroor beur terwyl die voorpote i.d. lug is: As die perd homself hoër as dit oplig, sonder om sy agterbene te buig, het hy bloot gesteier sonder om ‘n klassieke beweging uit te voer (Landbw., 27 Jun. 1980, 15).
3 Ly of swaarkry a.g.v. veeleisende of problematiese omstandighede: Het Brittanje, wat nog steier weens sy verliese in die twee wêreldoorloë, sy gees van avontuur en sy gewilligheid om groot waagstukke met groot voordele aan te pak, heeltemal verloor? (Huisg., 17 Jul. 1970, 19). Die ekonomie steier met afgradering tot rommelstatus en gepaardgaande gevolge wat elke burger van die land sal raak (Burg., 15 Apr. 2017, E). Op kort termyn voorsien Russiese leiers, gretig om ‘n steierende ekonomie te herbou, enorme koste om te kan meeding (Tegniek, 22 Nov. 1985, 40).
■ Ook t.o.v. diere: Die herstel van die steierende diere (ná ‘n epidemie) was … fantasties (S. Branca: Are, 1976, 150).
steierwerk (stei-er-werk) s.nw.
1 a Aantal steiers (steier I 1) wat aan mekaar verbind is en ‘n geheel vorm: Om … steierwerk rondom die kerktoring aan te bring, neem … byna twee weke (Burg., 23 Mei 2017, E). Hy moes die steierwerk by die Monument oprig sodat die Monument opgeknap kon word (Volksbl., 3 Febr. 1971, 2).
b steier I 1: Die skilder Murillo het van ‘n steierwerk afgeval terwyl hy muurskilderye in ‘n klooster in Cadiz gemaak het (Burg., 16 Febr. 1981, 4).
2 Werk, soos messel- of verfwerk, wat op steierwerk (steierwerk 1 a) of steiers gedoen word: Jy kan nie hoogtevrees hê as jy steierwerk moet doen nie. (WAT Aanlyn)
Soos hierdie definisies van steier en steierwerk uit die WAT Aanlyn aantoon, suggereer die titel van Johan Myburg se nuwe bundel dat dit hier handel oor strukture wat opgerig word om iets te steun, regop te hou; of in die figuurlike sin van die woord, na iemand wat onvas is op sy bene (“snags gangaf steier” (p.73)). Die ontvlugting in die poësie, musiek en waardering van kuns dien ook as “steiers” om die ek-subjek in die gedigte “orent” te hou in ’n vervreemde samelewing. Gepas sluit die kunswerk op die omslag deur Diane Victor hierby aan en beeld ’n ouer manslyf van agter uit, wat assosiasies met ouerwording en die brose liggaam oproep. Vergelyk in dié verband byvoorbeeld sonnet 42 (p.50):
Die mankolieke lyf behoef al meer
en in gelyke maat ’n soepel vers
in jambes afgemeet, gepunktueer
en op proporsie afgestem, gedig
met metrum in gedagte – armatuur,
meteen onsigbaar vir die blote oog.
In sy onderhoud met Karen de Wet (LitNet, 9 Julie 2026), verduidelik Johan Myburgh juis hoekom hy hierop besluit het:
Benewens die as en houtskool op papier as medium (en die broosheid daarvan), en benewens die postuur wat steier, betrek Diane Victor in Norman (uit die Transcend-reeks) iets van die liminale, van ’n oorgang of tussentoestand, ’n toestand waarin vloeibaarheid dermate êrens na vore kom. Vloeibaarheid ook en dalk veral ten opsigte van identiteit, daardie begrip waarmee ons so behep geraak het. Die figuur word van agter gesien; die voorkant wat allerweë as die “herkenbare”, die gesig (gelaat), beskou word, word nie gewys nie. Die kop is trouens nie eers deel van die voorstelling nie. Wat in die prentjie kom, is nie die beheptheid met weet en herken en ken nie, maar eerder die nieweet.
III
Deurlopende temas in hierdie bundel is die volgende: ’n besinning oor kunsteorie (van die self en ander), ouerwording, argitektuur (van huise, geboue en gedigte; vgl die verwysing na Vitruvius op p.24), manlikheid, oorlewing in ’n vernielde wêreld, die kosmologie en intertekstuele gesprekke met ander kunstenaars (sleutels word aan die einde van die bundel verskaf). Die Damokleswaard van “die digitale dier” (p.63) wat bo ons koppe hang, word ook geaktiveer in sonnet 55. ’n Ewe interessante intertekstuele gesprek met die Afrikaanse poësie lê opgesluit in ’n reël soos “’n ganse leksikon hou skuil in klip” (p.20) – met ’n kopknik na Van Wyk Louw se “beitel in die hand” (p.20).
IV
22
Wat anders is ’n huis as selfportret,
abstraksie van geleefde lewe, vel
gespan oor been en spier; sinaps en aar
wat vloei konstitueer van vloer tot nok,
van vuurmaakplek tot waar plafon en muur
mirakelagtig heg en iets versin,
iets suggereer van webbe balke, uit
die oog, wat dakpanele leiklip dra.
Bedroomde kamers met vervloë son
deur glas, toe alles onverwikkeld was
en lig gestreep het deur gordyne, bied
voorlopig nog, hoewel dit skemer raak,
’n biografie van aanwins en verlies,
die asemhaling van ’n swoel verblyf.
(p.28)
Die verwysing hier na “die huis as selfportret” aktiveer nie net aspekte van die titel van die bundel nie, maar sluit aan by etlike gedigte in die bundel wat oor huise handel. Daar is byvoorbeeld die gedig oor Nietzsche wat nie “’n huisbesitter hoef / te wees nie” (p.23), die ek-subjek wat “op steierplanke klippe dra / vir die inbou in ’n nuwe huis” (p.26), Eileen Gray se Villa E1027 (p. 27), die “kasarm, my kasemat” (p.29) (wat weer geassosieer word met ’n selfportret), die villa in Finestrat (p.30) of die kamer “stil en swoel / van slaap” (p.31). Die konvensionele siening van die huis as toevlugsoord kry in hierdie verse ’n diepergaande dimensie. Op die vraag van Joan Hambidge (Versindaba, 19 Mei 2026) wat hy dink van Jung se siening van die self as ’n huis, betrek Myburgh vir Bachelard wat Jung se siening verruim het en veral die solder, die kelder en die hoekies, “wat afsondering bied” insluit: “Bachelard was dit wat volgehou het dit is deur die poësie, selfs meer as deur onthoue, dat ons die diepte van die ruimte van die huis raak. Die huis wat die dromer skuiling bied en ruimte gee om te dagdroom.”
Van geboue gepraat, sonnet 26 (p.32), volgens die Sleutel agter in die bundel, tree in gesprek met John Donne se “Holy Sonnet XIV” (die bekende “Batter my heart, three-personed God, for you”) waaroor Paglia (2001: 31) soos volg skryf: “The Petrarchan sonnet was rarely as sexually explicit as Donne makes it in Holy Sonnet XIV, where he portrays himself – or rather his heart – as a kidnapped virgin crying out for a virile libertine.” Sy gaan selfs sover as om Donne se gedig vol “transsexual and homoerotic effects” te karakteriseer.
Myburgh se gedig is eweneens eroties wanneer ’n katedraal “karnaal” oopgevlek word – die beskrywing van die katedraal se spiere en ribbe herinner mens nogal aan Gaudi se skeletagtige ontwerp vir La Sagrada Familia. Hier het ons werwels wat “kurf”, pilare wat “vurk” en “”’n flying buttress waar die boudspier beef”. Ewe veel slaankrag is opgesluit in die slotkoeplet:
Karnufful my, geboei is ek nooit vry
nie, kuis, tensy jy my sakraal kasty.
V
In die slotsonnet (p. 79) tree die digter in gesprek met Van Wyk Louw by monde van Tant Tolie en sluit haar loflied soos volg af:
Ek sit
gereed, gedeë, reg vir uile roep
en maak my klaar, maar nog nie nou nie, Heer.
Die doodgedagte kom reeds in sonnet 2 (p.9) voor wanneer daar met die dood as “portuur” gepraat word, wat nie meer op hom jag maak nie. In teenstelling met dié “verorberende Kronos” word die geliefde aangespreek en word (a la Hooft) na die “geswinde grysaard” verwys wat hulle samesyn bedreig met sy ewige teenwoordigheid. Die geliefde bied nie net gerusstelling en toevlug teen die dood nie, maar ook ’n ontvlugting “van alles serebraal” (p.12).
VI
Van bladsy 15 tot 21 tref ons ’n reeks sonnette aan waarvan die slotreël van die voorafgaande sonnet die beginreël vorm van die nuwe. In sy onderhoud met Karen de Wet noem Johan Myburgh dat hierdie siklus ’n voorbeeld is van ’n sonnettekrans of korona. Hy noem ook dat sy sonnette, anders as byvoorbeeld by Donne, nie religieus ingestel is nie, maar eerder op die kosmologie. Reeds in sonnet 10 word verwys na “son en ster” en “sterstof”. Hier word onder meer besin oor die mensdom wat maar net ’n “vergete glimp op ’n gesig / ver in ’n uithoek van die bleek heelal” is. Ten spyte van die mens se nietigheid is hy egter voortdurend besig om die aarde te plunder en dan wanneer alles hier uitgeput is, wil uitwyk na ander planete.
VII
In die sleutel by sonnet 37 verwys Myburgh na Keats se “On the Sonnet”, wat intertekstueel betrek word:
If by dull rhymes our English must be chain’d,
And, like Andromeda, the Sonnet sweet
Fetter’d, in spite of pained loveliness;
Let us find out, if we must be constrain’d,
Sandals more interwoven and complete
To fit the naked foot of poesy;
Let us inspect the lyre, and weigh the stress
Of every chord, and see what may be gain’d
By ear industrious, and attention meet:
Misers of sound and syllable, no less
Than Midas of his coinage, let us be
Jealous of dead leaves in the bay wreath crown;
So, if we may not let the Muse be free,
She will be bound with garlands of her own.
(https://www.poetryfoundation.org/poems/44474/if-by-dull-rhymes-our-english-must-be-chaind)
Die stem in Johan Myburgh se sesde digbundel is nie vasgeketting soos Andromeda nie. Lees mens die verse hardop hoor jy beslis “sound and syllable” – waaraan daar geen gebrek is in hierdie bundel nie. Hy is ’n waardige lid in die galery van sonnetdigters, wat met die “ses en twintig letters binne [hom]” (p.47) die Afrikaanse poësie verruim.
Verwysings:
Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon Books.
Strand, Mark en Boland, Evan. 2001. The making of a poem. A Norton anthology of poetic forms. New York: W.W. Norton.
