Daniel Hugo. Edms. Bpk.

 

Die ontdekking van ’n verborge interteks is altyd vir ‘n leser ’n aangename verrassing. Dit verryk die betekenis van die oorspronklike teks en verdiep die leesplesier.

Een van my geliefkoosde Afrikaanse verse is D. J. Opperman se “Edms. Bpk.” uit die gelyknamige digbundel van 1970:

 

Ek het ’n stukkie grond gekoop

met melkhout op; dit afgekamp

en teen die hek ’n naam geverf

sodat verbygangers besef:

Dis Dirk se erf.

 

Janfiskaal sit op my melkhoutboom,

sit op ’n kruin, sit op ’n rots,

en proklameer in sy lied

soggens en saans luidkeels:

“Dis my gebied.”

 

Bakkapel glip uit my melkhoutbos,

verby die kruin, verby die rots,

en teken op sandkolle waar hy kom

oral in ouderwetse skrif:

“Alles … alles my eiendom.”

 

Met hierdie gedig maak Opperman dit duidelik dat die mens slegs beperkte eiendomsbesit op aarde het. Die natuur het ’n groter aanspraak op die stuk grond langs die see aan die Kaapse suidkus – soos blyk uit die “melkhoutbos” – as die gewaande alleenbesitter daarvan. (Dit is welbekend dat Opperman ’n strandhuis op Franskraal gehad het.) Digter Dirk het gedink hy koop ’n stukkie paradys aan die kus, maar ten slotte word hy daaruit verdryf deur die slang, naamlik die “bakkapel” of Kaapse kobra. Dat Opperman hier bewustelik sinspeel op die Genesis-verhaal van die Tuin van Eden, word gesuggereer deur die slang se “ouderwetse skrif” wat “Die Skrif” oproep en spesifiek dan die Ou Testament.

Die digter skryf sy eie naam op die hek van sy omheinde en klaarblyklik nog onbeboude perseel: “Dis Dirk se erf.” Dié noemnaam vir Diederik Johannes Opperman resoneer met die voëlnaam “dirk-dirkie”, wat volgens die HAT ‘n “geelbruin lystertjie met ’n kort stert” is. In ’n later gedig in Komas uit ‘n bamboesstok van 1979 verwys Opperman inderdaad na homself as “dirk-dirk” (“’n Mirakelspel: Wie’t Mossie doodgemaak?”). Hy probeer hom dus in “Edms. Bpk.” as ’t ware as ’n aanvaarbare medelid van die diereryk voorstel, maar die janfiskaal laat hom nie daardeur flous nie. As roofvoël hou die janfiskaal (of fiskaal of laksman) ’n wesenlike bedreiging in vir die dirk-dirkie. ’n Fiskaal was in vroeër tye ’n regterlike amptenaar en daarom “proklameer” hy dat die erf eintlik sy gebied is. (“Edms. Bpk.” is natuurlik ook ’n regsterm.) In strofe 2 word die digter se eiendomsreg in juridiese terme betwis en in strofe 3 op godsdienstige gronde.

Om die gedig op hierdie manier te lees was vir my nog altyd bevredigend genoeg. Maar onlangs blaai ek deur ‘n bloemlesing Engelse gedigte (Laura Barber se Penguin’s Poems for Life, 2007) en my oog stuit op Robert Louis Stevenson se “My house”. Dit kom uit sy bundel Underwoods van 1887:

 

My house, I say. But hark to the sunny doves

That make my roof the arena of their loves,

That gyre about the gable all day long

And fill the chimneys with their murmurous song:

Our house, they say; and mine, the cat declares

And spreads his golden fleece upon the chairs;

And mine the dog, and rises stiff with wrath

If any alien foot profane the path.

So too the buck that trimmed my terraces,

Our whilome gardener, called the garden his;

Who now, deposed, surveys my plain abode

And his late kingdom, only from the road.

 

Die ooreenkomste tussen die twee gedigte is net te prominent om te ignoreer. Dit is baie moontlik dat Opperman hierdie gedig geken en dit bewustelik of selfs onbewustelik herskryf het. By Stevenson is dit ook diere wat die eienaar se eksklusiewe besitsreg betwis, maar dit gaan oor ’n huis en nie oor ’n natuurlike stuk grond nie. Verder is die diere – die koerende duiwe, en die gedomestikeerde kat en hond – geensins so bedreigend soos die janfiskaal en die bakkapel in “Edms. Bpk.” nie. Die hond tree wel aggressief op, maar slegs teenoor vreemdelinge. Dit is opvallend dat die kat sy aanspraak op die huis “declare”, wat nogal ooreenstem met die janfiskaal se “proklameer”.

Stevenson se gedig kry ‘n onverwagse wending in die laaste vier reëls. Die huisbaas wat vanweë die diere se aansprake ontuis voel in sy eie huis (“my plain abode”), dank nou die tuinier af omdat hy die tuin vir homself toegeëien het as sy koninkryk. Hy word daarom “depose”, dit wil sê ”onttroon”. Dit lyk na ’n soort wraakneming, wat weer eens herinner aan die paradysverhaal. Adam en Eva is uit die tuin gejaag deur ’n toornige en jaloerse God. Die argaïese taalgebruik (“whilome gardener” = “eertydse tuinier”) help skep aan die Ou Testamentiese sfeer.

Die tuinier staan ten slotte in die straat en kyk na sy vroeëre domein. Net soos Opperman op Franskraal buite sy toegekampte, ontoeganklike erf staan en kyk na sy naam op die hek. En dit is hierdie identifikasie met die tuinier wat skielik aan die Opperman-gedig ‘n tragiese dimensie gee – ’n dimensie wat nie vir my bestaan het voordat ek die Stevenson-vers ontdek het nie.

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Daniel Hugo. Edms. Bpk.”

  1. Waldemar Gouws :

    Mooi vonds, Daniel. Hoe bedank mens toeval? Jy laat mens agterkom deur die naasmekaarstelling dat Opperman se gedig op ‘n gans ander vlak funksioneer as dié van die eens populêre Stevenson.

    Maar in plaas van die uitwyk na die kreasionistiese, sou ek eerder die evolusionistiese wil raaklees in Opperman se gestruktureerde strofes: eerstens in strofe 1 die mens (soogdier, met die verwarrende homo sapiens aan die spits); dan die voël; met die reptiel in die laaste strofe. Dus van jongste na vroegste vorm van (bewuste en gevoelsvermoënde) lewe.

    Die “ouderwetse skrif” as metafoor vir die slangspoor in die sand herinner my eerder aan die ou ornamentele handskriftipes, met arabeske en krullende lyntjies, as aan Die Skrif, of aan letters in Aramees of Hebreeus.

    Stevenson se afgedankte tuinier bring hoogstens die sosiale stratifikasie van sy (RLS se) Skotland en Engeland te berde: die grondbesitters en die nie-besitters.

    Opperman kry insig in die groot natuurorde, maar Stevenson nie.

  2. Mooi insig, Waldemar!

  3. Waldemar Gouws :

    Dankie, Daniel (sou die twee woorde in Bodoni wou uitdruk).

  •