(vir Louis Neethling)
stoel : meubelstuk vir een persoon om op te sit –
vasstaande stelsel
stoel (w) ; spruit, ranke gee : uitgroei
Op twintig het stoel waarde gekry :
Definisie, gewigtigheid, vierpotig, vastig:
Wat die sittende omvou en omvorm
Voorheen slegs –
Babastoel, stootkarretjie, karstoel,
ook foto op die Victoriaansestoel in die voorhuis.
Later, leunstoel, luistoel,
regop-aan-tafel-eetstoel.
Toe op twintig, tref die werklike waarde van
Stoel (s.nw)
Waardig, in ‘n tuin op die grasperk,
Met ligte wat saamswem met ligspieëlings in die swembad.
Dit was nie ‘n hierjy stoel nie,
Dit was een van formaat:
‘n Wingback in fluweel oorgetrek,
‘n gróótmenéér wat toesig hou oor die lawn,
die liggies, die maan, die sterre, die groentjie liefde,
in die tuin
van Albertstraat
in Waterkloof
in Pretoria.
Avalon het die klank van lig oor die lawn gespeel.
Ja, moet nooit ‘n stoel onderskat nie.
Sy waarde dra gewig.
Terloops,
Vlerkstoele word nooit Rockers nie,
ook nie wiegstoele nie.
© Anne-Ghrett Erasmus, 2020