Un ange tombe
Un ange bombe
kyk hoe stil lê hy nou
hy, aan vlug
en hoogtes gewoond
aan kantel en duik en opwaarts
die son kloof
wind roer die borswering
van veertjies asof
daar nog lewe is
die wind sê kniel
die harde slag sê kyk
ek kniel en kyk
die gestreepte vlerkspan strek ek
groter as my hand
ondersoek die geel kloue
vir oulaas saamgetrek
soos vir ’n roof
die vlekkie bloed
uit een oog se hoek
’n rooi bloeisel op die stoep
die borskas beeldhouwerk
nog warm onder my palm
ek hou aan streel
asof my hande iewers
’n hartklop sou roer
asof hierdie
nie sy sterfuur is nie
my oë steel
die gevoude liggaam
’n onversadigde blik wat áánhou
Ínkyk op die dood
om die dood te vergeet
is om afstande
aan die ánder kant
af te meet
die hart is ’n veer
die wind laat dit vlieg
© Susan Smith, 2020
Dankie Thomas.
Niemand mag verby hierdie wonderlikheid lees nie .
Dankie, Hanlie. Ek waardeer jou woorde.
Susan, n mens wil dit weer en weer lees
Dit raak aan my hart. Pragtig.
Baie dankie vir die positiewe kommentaar, Nico en Juan-Pierre. Dit word opreg waardeer.
Ek staan stil hier…
Lees en lees…!!!
Die gedig dwing mens tot stilte. Goed gedoen.