Susan Smith. vergifnis
vra die aarde
om genade
vra die grond
vra die water
die visse die vlermuise
se vinnige hartklop
om te bedaar
vra die klein voëltjies
op stokkies geryg
dat hul skerp skeletbeentjies
jou keel nie sny nie
vra die skaam miervreter
dat sy gemaalde
pantser jou tong nie brand nie
die skerpioen jou nie steek
die sivetkat se koffie
nie gif in jou keel trek nie
jy dra die merk van die gestekelde
kroon op jou voorkop
oor jou neus en mond
’n skanddoek van skuld
almal wat niemense is
sien jou van ver aankom
raak wild van angs
voor die vuiste van jou woorde
jy, die regter die slagter die god
die gras en die bome praat ’n uitgestorwe taal
elke woord is dood en verpak
in ’n mausoleum van gedagtes
die aarde het jou verlaat
jou lewe tussen geboue
in motors en winkels en restaurante
nou vergete voetstappe in die land van plae
jou adres is deur bome omsingel
die hek gegrendel
hierdie uur se naam is Oneindig
hierdie nag Ongenadig
jy Onbenullig, Onbeskermling
jy, wat jouself Bo-al wou noem
hierdie plek van glans
en sy stralende inwonendes
sal jou nie weer insluit nie
want die son het sy geel swaard
soos ’n engel oor jou laat val
© Susan Smith, 2020
Foto: https://www.theguardian.com/environment/gallery/2009/may/15/china-animalwelfare-cat
Miskien moet “Ja swaer” eers leer lees voor hy kommentaar lewer.
Treffende gedig, Susan!
Die gedig het my aangegryp, Susan! Dankie vir die deel.
Dankie Marlise en Daniel. Daniel, ek verstaan die eerste deel van jou kommentaar nie. Was daar ‘n opmerking wat nou nie meer hier is nie?
Susan, die aanmerking waarna Daniel verwys, is ontoepaslik en ek het dit verwyder.
Beeld-skoon! Dankie vir die deel, Susan.
Marko! Baie dankie!