Resensie: ou laaie (Fanie Olivier)

 

 

 

 

ou laaie deur Fanie Olivier. Naledi, 2020.

 

Resensie: Stefan van Zyl

 

“[W]at maak mens met versterkte verse ʼn vragvol / rym gebreekte drome sakke sout sement?” (p. 99).

Fanie Olivier herbesoek sodanige verse wat spreekwoordelik in ou laaie weggebêre is en publiseer 57 daarvan in sy sewende digbundel wat ʼn dekade ná die publikasie van apostroof (2010) verskyn. Die bundeltitel verwys egter nie net na konkrete laaie nie, maar ook na ou streke of gewoontes wat net nie afgeskud kan word nie. Olivier se terugkeer na die liefdesvers is dus ietwat voorspelbaar, maar die maniere waarop hy omgaan met sy voorkeur, wat baie maklik in geyktheid kan verval, is gevarieerd en boeiend. Die omslagontwerp steun hierdie idee deurdat ouer en nuwer objekte naas mekaar geplaas word, soos byvoorbeeld die tikmasjien teenoor die skootrekenaar.

In Freudiaanse terme is die liefde (eros) egter altyd in stryd met die dood (thanatos) wat ook deurgaans in die bundel teenwoordig is en herinner aan die elegiese verse in apostroof. Beide temas word in die bundel uitgebou deur aanverwante aspekte soos intimiteit (“nagstorting”), ontrouheid (“disseldons – bestek”), kuberliefde (“voorlopige scenario 3”), eensaamheid (“ontgogelde prins”), veroudering (“aanhef 1”), verganklikheid (“by ʼn foto”), nostalgie (“staning bokant levubu”) en afskeid (“welwetende”) in eksperimentele kwatryne, sonnette, villanelles, koeplette, ballades en vrye verse te ondersoek.

Die motto voorin die bundel is die twee slotreëls uit die Nederlandse digter Esther Jansma se vers “Schaduw” in Alles is nieuw (2005):

– al dat schuim, al dat verdwijnen
in onze hoofden van wie er niet zijn

Jansma se vers handel oor die ontkenning van die dood omdat gestorwenes deur middel van herinneringe weer “lewend” gemaak kan word. Herinneringe is egter net mentale nabootsings en dus bly die onderwerp daarvan altyd abstrak en buite bereik. In ou laaie word die digkuns dikwels ingespan om geheueverlies teen te werk:

ek bêre dit alles in die vers vir jare
later: ʼn klein stukkie, ʼn oomblik, ʼn kier
in die onsekerheid (p. 8)

en:

noudat jy weg is, loop ek rond tot die papier
toe gewapen, bang dat ek iets vergeet, iets
misloop, dat iets opduik en weer wegraak voor
ek dit onthou, angstig om verlies te verhoed (p. 27)

Onbereikbaarheid en onvervuldheid vind voorts ook neerslag in verse wat handel oor die verhoudings tussen mense wat geografies van mekaar verwyderd en op tegnologie aangewese is om ʼn verhouding in stand te probeer hou. Die siklus “oorstuur” (p. 47) bestaan uit 14 verse wat handel oor ʼn sodanige verhouding tussen ʼn man en ʼn getroude vrou. Die titel van die siklus verwys enersyds na die stuur van videomateriaal en boodskappe via Skype en andersyds na die onderliggende ontsteltenis van die man wat voyeuragtig alles gadeslaan wat die vrou aan die ander kant van die skerm doen, sonder om werklik deel van haar lewe te wees. Die siklus word ingelui met ʼn verwysing na Rodgers en Hammerstein se lied “Hello, young lovers” uit die 1951-musiekblyspel The King and I sowel as ʼn boodskap: “vir brian en vir rima: dat sy geluk mag hou”. Beide die verwysing en boodskap impliseer dat die man die gelukkige een is om die vrou te mag ken – selfs al bly sy buite fisieke bereik.

Ook die digkuns blyk soms buite bereik te bly soos in die eerste gedig in die siklus (opgedra aan Joan Hambidge) gesien kan word:

[i] loading

[vir joan]

Poësie was nog altyd
niks meer as virtuele werklikheid

nie: deur ʼn spieël in ʼn raaisel
ʼn skerm waardeur wat jy verraai wil

sien, gestalte kry maar ook weer net-net
nie – wanneer jy dink dat jy dit het

verdwyn dit iewers op ʼn kuberstraat
lees maar er bestaat niet wat er staat

is die graffito teen die mure
van gedigte uitgetik as dure

les. wees bedag onthou dis ʼn wit
vlokkie skuim wat rondom die woorde sit

ns.
lees maar [mene, mene, tekel …] – daar staan
nie wat daar bestaan nie [of: nie bestaan
nie] – deser en gene algar hoe hekel
die digter dit waarop die verse slaan

Nóg ʼn vers wat met die tema van onbereikbaarheid en afstand in ʼn verhouding geassosieer kan word, is “redding – variasies” (p. 83) waarin dieselfde situasie vanuit twee perspektiewe beskou word. Aan die een kant is daar die man wat gestrand is op ʼn eiland as metafoor van eensaamheid terwyl ʼn vrou hom probeer red, waarby gebruik gemaak word van die metafoor van ʼn reddingsoperasie in ʼn mynskag. Hoewel die poëtiese dialoog slim geskryf is, raak dit hier met tye te uitgesponne.

Die intertekstuele vers “ingebed” (p. 69) verwys na die bekende verhouding tussen die Franse non Heloïse en die filosoof Peter Abelard gedurende die Middeleeue. Dit roep ook onwillekeurig die onderskeie gelyknamige verse van N.P. van Wyk Louw en Sheila Cussons op wat weereens sinspeel op ʼn liefde gekleur deur onbereikbaarheid en onvervuldheid. Die koeplet “die digter hét geen verbeelding nie dis die troos: elke lies / elke wang elke jy elke dy is outobiografies” sinspeel op die idee dat die digter (dit wil sê Olivier) sigself outobiografies in verse kan inskryf. Dit lei tot die versoeking om die verse in die bundel vanuit ʼn heel ander perspektief te beskou. Aansluitend by hierdie outobiografiese identiteitskwessie is die vers “aanhef 2” (p. 2):

ek weet nie meer hoe elke hef-aan in die stemvurk steek nie.
weet nie meer wie is “ek” of “jy” nie.

[…]

ek wonder ook of verse anders lyk, klink, gelees sou
word wanneer die “ek” verander in ʼn “jy”; of “haar” vir “jou”
geskryf sal staan. is dit verskillend as i.p.v. “sy”
die voorwerp van die vers by ʼn hersiening skielik “hy”
gaan heet?

In die vers word die vloeibaarheid van die identiteite van sprekers en aangesprokenes belig. Hierdie insig beteken dat die digter die verse in der waarheid ontsluit vir alternatiewe interpretasies en selfs seksualiteite soos in die interaksie tussen twee vroue in “a fool for love” (p. 42) geïllustreer word. Dit gee aan die gedigte ʼn soort universaliteit wat herinner aan die “dubbelloop-bestaan” in “disseldons – bestek” (p. 66) met aan “die eenkant dit waarmee jy jouself bedrieg […] / en aan die anderkant jou hart [waaroor jy lieg]”.

Hoewel ou laaie nie noodwendig as ʼn laatwerk bestempel kan word nie, staan sommige verse wel in die teken van ʼn laatstyl – veral waar daar verwysing na veroudering is. Voor die hand liggende metafore van herfs en winter (pp. 1, 12, 31, 95) as verteenwoordigend van ʼn verloopte lewe is soos ʼn silwer draad deur die bundel verweef en dui op ʼn bewustheid van veroudering en al die aspekte wat daarmee gepaardgaan, soos byvoorbeeld in “die onbegrip wat ook hier witter / elke oggend staan. verstom oor hoe swaar die brose / ingekleurde blare van ʼn geleefde lewe weeg” (p. 1); “jou kop hier digby my waar grys / soos veraf watervoëls in jou slape sit” (p. 38); en “ek het gewonder oor die hoe van my lyf / vir jare afgesonder van die bedryf” (p. 52).

Dit is opvallend hoeveel geykte beeldspraak in sommige verse voorkom, maar dikwels blyk dit dat die digter hiervan bewus is en dit selfs doelbewus inspan om die atmosfeer van vergange liefdesverse weer vir ʼn moderne lesersgehoor op te roep en toeganklik te maak. Voorbeelde hiervan sluit in “ons pluk die dag versigtig soos rose” (p. 8); “die dag wat weggesink / het in die see” (p. 11); “my hart loop oor stuwalle” (p. 25); “wolkies watte” (p. 38); “wat die oog nie sien nie kan die hart nie deer nie” (p. 94); en “hy sien om hom lê die aarde woes en leeg” (p. 98). Daar is selfs ʼn gedig met die titel “geyk” (p. 90) waarvan die clichés inderdaad nostalgie by hierdie leser gewek het. In ʼn ongetitelde gedig (pp. 26-27) word meestal ouer Afrikaanse woorde doelbewus aan die vergetelheid ontruk: “verkneuter”, “aai”, “strengel”, “tintel”, en “du” om maar ʼn paar te noem – die digter bieg immers self dat sig uit die “oude doos” (pp. 5 & 108) is.

In die digbundel is daar ook heelwat intertekstuele verwysings na musiek (David Kramer, Buffy Sainte-Marie, Leonard Cohen), die visuele kuns (Andrew Verster) en ander digters (Wiel Kusters, Henry Wadsworth Longfellow, Richard Church, Pablo Neruda, Martinus Nijhoff). Veral subtiele verwysings na bekende werke van Afrikaanse digters val op: “diep riviere die donker stroom” (p. 29) (Eugène Marais); “vreemde liefde” (p. 50) (I.D. du Plessis); en “mot en die kers” (p. 79) (C.J. Langenhoven). Met hierdie verwysings tree Olivier in gesprek met ʼn breë spektrum internasionale en Suid-Afrikaanse kunstenaars en digters wat aan die verse ʼn meer gelaagde betekenis gee. Terselfdertyd word haas vergete kunsartefakte na die voorgrond gebring.

ou laaie is ʼn waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse poësie en getuig van Fanie Olivier se bedrewenheid as digter van veral die optimistiese liefdesvers gesetel in nugter realiteite wat die botoon voer soos verwoord in ʼn ongetitelde vers (p. 96) waar thanatos en eros vir oulaas ontmoet:

wanneer ek gaan net dit:
diep diep onder waar die soetste water lê
die eerste die begin van al die diepste sê
wat mens kan kry
daar in die mooiste sagste wit
is jy

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •