Resensie: Konglomeraat (Francois de Jongh)

 

 

 

Konglomeraat deur Francois de Jongh. Naledi, 2019.

 

Resensie: Stefan van Zyl

38 jaar ná sy debuutdigbundel, Klipsweet (1981), publiseer Francois (F.W.) de Jongh sy tweede digbundel getiteld Konglomeraat (2019). Die twee bundeltitels hou met mekaar verband in dié opsig dat eersgenoemde verwys na verharde dassie-urine op klippe wat in die volksgeneeskunde gebruik is, terwyl laasgenoemde verwys na ʼn rotssoort wat bestaan uit aanmekaar gesemente klippies soos op die voorblad geïllustreer word. In die mediese wetenskap verwys konglomeraat ook na die samestelling van verskillende bestanddele in een massa waar die bestanddele nog afsonderlik onderskei kan word (sien Pharos se Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe). Met die lees van die bundel word dit duidelik dat dit ʼn inventaris is van die digter se uiteenlopende lewenservarings as dienspligtige, onderwyser, joernalis, gesinsman, natuurliefhebber en geograaf.

Die verse, wat ʼn breë spektrum temas dek, word in agt afdelings georden wat siklies beweeg vanaf die digter as vertrekpunt na die verhouding met ʼn geliefde (liefdesverse waarskynlik geskryf vir De Jongh se vrou, Deonora, aan wie die bundel opgedra is); denke en herinneringe aan kinders en kleinkinders; belewing van verskillende omgewings (geografiese, landskap- en reisverse); ervarings as dienspligtige en landsburger (betrokke en oorlogsverse); verse oor indrukke van bepaalde sake en plekke; idees oor poësie en digterskap; en laastens verse oor veroudering, siekte, afskeid en dood.

Die titelvers in die eerste afdeling dien as ʼn soort vrywaring, want die oorwegend sentimentele vrye verse in die bundel rym met die beskrywing van “brokstukke” wat “in die vloei / van die oomblik” geskryf is:

Konglomeraat

My denke sedimenteer
in konglomeraat:
brokstukke en rolklippe
afgeset in verse
ongebonde aan reëlmaat
grootte of vaste vorm
natuurlike spoelgoed
in die vloei
van die oomblik.

Op die agterplat skryf Daniel Hugo dat enkele verse uit De Jongh se debuutbundel ook in Konglomeraat opgeneem is “om die beeld van ʼn gevoelige en vaardige vakman af te rond.” Om meer spesifiek te wees, is 11 verse (oftewel 20%) uit Klipsweet herpubliseer, naamlik “Patrollie”, “Tuisfront”, “My mense”, “Winterberg”, “Somerkruistog”, “Katvoet”, “Bangmaakding”, “Konsentrasiekamp”, “Digter”, “Vinger van God” en “Lakkoliet”. Die redes vir die herpublikasie van verse van ʼn digter met so ʼn beperkte oeuvre kan wel bevraagteken word, maar dit is moontlik ʼn edisiewetenskaplike kwessie waar Klipsweet lankal uit druk is en die uitgewer of digter van die verse in daardie bundel vir ʼn moderne lesersgehoor toeganklik wou maak. Omdat hierdie verse egter nie duidelik as sodanig gemerk word nie, was dit aanvanklik nie moontlik om tussen die ou en nuwe verse te onderskei nie, wat dui op ʼn bestendigheid in die digter se styl en tematiek. Hoewel ek met Hugo saamstem dat De Jongh ʼn “gevoelige” digter is, kom daar wel geykte beeldspraak in sommige verse voor wat met deegliker redigering uitgeskakel kon word: “ek rol jou druppel / vir druppel / om my droë tong” (p. 12), “blinkoog / van verwondering” (p. 15), “klokkielag” (p. 20), “wind se blarefluister” (p. 21), “geraamtes doringtak” (p. 31), “vuurtoring / knipoog” (p. 34), “sterf ʼn duisend maal en meer” (p. 43), “reuk van die eerste reën” (p. 71) en “donker vrese” (p. 72).

Die vers “Geograaf” (p. 24) getuig wel van die digter se poëtiese vermoëns:

Die aarde bestaan.
Komponente:
silikon, aluminium, magnesium
en die kern (Ni/Fe/2 500 grade Celsius)
statistiek mediane grafiek.

Maar daar ís nog mistiek
in groot druppels reën
vulkane vuur
en ʼn berg se versteen.

Kyk vanaand
as die koue los-
glip van ʼn piek
en huise
se hoeke rond
word in die mis
se simboliek.

Die eindrym met “grafiek” en “mistiek”, “reën” en “versteen”, “piek” en “simboliek” gee aan die vers ʼn meer formele struktuur in vergelyking met sommige van die ander verse wat dikwels in die rigting van verkapte prosa neig. Die wetenskaplike beskouing van die aarde in die eerste strofe word goed gekontrasteer met die abstrakte en mistieke beskouing daarvan in die tweede strofe. Beide natuurbeskouings versmelt in die menslike ervaring van die natuur in die derde strofe en dui op ʼn weldeurdagte idee wat in die vers ontwikkel word. Die vers dien ook as grondlegger vir ander verse oor die natuur en geografie in die vierde afdeling wat handel oor die Karoo (“Karootuin-ode” en “Droë Winter”), die Boland (“Maart in Worcester”), die Kalahari (“Somerkruistog”), die Weskus (“Konsentrasiekamp”), die Kaapse Middellande (“Glen Avon”) en die Strandveld (“Ode aan Gansbaai”). Daar is ook verse oor Namibië (“Vinger van God”) en Nederland (“Dambordspelers van De Walletjes”) in die sesde afdeling. Sommige verse dien as mini-inventarisse waarin die volksname van plantsoorte (soos “bababoudjies”, “beeskloutjies”, “koesnaatjie”, “wildegansie”, “katjiedrieblaar”, “kinkelbessie” en “sieketroos”) opgeskryf en sodoende bewaar word.

Die digter se ervaring van en verhouding met die omgewings waarvoor hy lief is, is egter ook kompleks weens dit wat hy in hierdie ruimtes ervaar. In die vers “Vryspraak” (p. 47) word hierdie worsteling as “[e]ienaar van geboortegrond / erfgrond, besitgrond / bloedgrond, swerfgrond / haatgrond” uitgebeeld. Ook die ervarings van diensplig tydens die Grensoorlog in afdeling vyf word met fyn waarneming geskets teen die agtergrond van die natuur. Die natuur word trouens deurgaans op een of ander manier met die temas en beelde van die verse in die bundel vervleg wat dui op die digter se voorliefde vir en kennis van die onderwerp.

Die vers “Digter” (p. 63), wat ook in Klipsweet verskyn het, gee ʼn blik op die digter se beskouing van poësie en die skryf daarvan:

Julle het jul tonge ontwortel
en soos groente op die mark kom lê
om bleek te word in die son.
Maar tog is ek op julle aangewys;
my tong moet in jul ore trom
wanneer ek reeds doof en dood is
en die dun vlies waarop woorde speel
net stof en sonder klank is.
Of julle moet ʼn beentjie
met ʼn skoon breuk uit my bors uit breek
sodat dié suiwer klank my deel kan wees.

Die versugting “my tong moet in jul ore trom / wanneer ek reeds doof en dood is” kan gelees word as die digter se behoefte om iets konkreets na te laat in die vorm van sy verse, of, soos in die vers “Meester” (opgedra aan W.E.G. Louw), sy “woordswaels / met herfs / op ʼn somervlug” te kan stuur (p. 68). Die derde vers in “Kortverse” (p. 64) toon dat die digter deeglik bewus is van die moontlikheid dat hy vergeet kan word:

Ek sal sterf
as ʼn man van geen belang
want ʼn dienaar
word maklik vervang.

Die skryf van verse word dus ʼn konkrete poging om nie in die vergetelheid te verdwyn nie en die verse in die daaropvolgende slotafdeling handel heel gepas oor veroudering (“Fopspeen”), siekte (“Nagwaak”) en afskeid meegebring deur die dood (“Afskeid” en “ʼn Kind se liefde”). Ten spyte van verhoudings met ander bly die mens inherent alleen, soos in die slotvers “Alleending” (p. 75) beskryf word:

Die een
wat my gaan uitlê
moet aan klippe vat
soos aan ʼn blom,
sywurms of die vlerke
van ʼn mot.

Hy moet
ʼn droë tak kan breek
en die grein sien vlam
voordat hy die vuur
aansteek in die hout.

Só een
sal my net so stukkend
en sonder tooisels los –
hy sal weet:
dis ʼn alleending
om in die vlees
dood te wees.

Konglomeraat is myns insiens nie ʼn grootse toevoeging tot die Afrikaanse poësie nie, maar wil dit ook nie noodwendig wees nie. Die algemene liefhebber van poësie behoort hierdie bundel “sonder tooisels” te waardeer vir die eerlikheid waarmee De Jongh met sy onderwerpe omgaan.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •