Nini Bennett. ‘n Simbool van bestendigheid

 

 

1.

 

Die mooiste blomme is dié wat vetplante maak. Kinderkunsblomme. Nederig en konkreet, na aan die hartslag van die aarde. Die mooiste blomme is nie rose of orgidieë – die koninginne met die kweekhuisname nie – nee; dit is woestynblomme.

My eerste bewuswording van ’n kataklismiese gebeurtenis was die Kaapse droogte twee jaar gelede. Ek het grootgeword in ’n waterryke voorstad in Pretoria. Daar was bome. Baie bome. Dit was die sewentigerjare; ek onthou ek het buitentoe gehardloop as dit begin blits. Hoeveel klein ewighede ek so in die reën vertoef het, sou niemand kon raai nie. My huismense het bekommerd na my geroep, maar my ouma het gesê: Los die kind, sy verstaan die reën. My ouma was deurwinter soos ’n kraai. Haar snaarblink hare was teruggekam en weggevou in ’n slakkie in haar nek. Sy het ’n bril gedra wat haar oë groot en teer laat vertoon het, en as sy iets met nadruk gesê het, het sy haar ooglede toegemaak. Ek kon my die koeltes in haar brilglase verbeel, ’n gerusstelling, diggesluit: haar wimpers was ’n skadunet. My ouma was van die Karoo en sy het wysheid gehad.

Eers later het al die wonderlike dinge name gekry. Petrichor. Amberwolke. Die eensame hemele van my kindertyd.

Dan is daar ’n ánder herinnering, een oggend, Januarie 2018. Vroegdag reeds was ek bewus van ’n vreemde dyns in die lug. Dit was bloedig stil. Die blompotte in my tuin het oopgebars, die wortels het ongenadig boontoe geskrei. Dit was tasbaar, die taai knettering in die lug. Vlieswolkies het verby gedryf, die geloei van die laatsomerwinde was op pad, winde wat geen reën sou bring nie en net die vure en bergbrande verder sou aanhits. ’n Nagloed het oor alles bly hang. Die grond het gebrand en gebloei om rowe te vorm. Na die woede en opstand oor die waterskaarsste het ’n weemoed gekom. Afrika het ’n warm weemoed – en daarná volg die behoefte om te bieg. Drome, hoop en wanhoop word uiteindelik een. Daar is dié wat teen alle weervoorspellings in bly bid en opkyk, lugwortels in die oë.

In nog ’n onverwante herinnering, jare gelede, het ek op ’n dag ’n ou vrou in Checkers gesien. Daar was net ’n kaktus en ’n boks wyn in haar waentjie. Intuïtief het ek iets begryp van droogte en van dors – die woorde suchen, versugting, sug, verlange, en verslawing is tog immers verwant. Haar irisse was gerimpel en haar oë dood. Die insident het my hewig ontstel.

2.

Vetplante het ewolusionêr ontwikkel tydens die Kryt-periode, die derde en laaste tydvak van die Mesosoïese era ongeveer 145 miljoen jaar gelede. Vetplante beskik oor sukkulente eienskappe naamlik om vog in hulle blare, stingels, stamme en wortels te berg. Xerofiete, halofiete en eromofiete ressorteer hieronder. Sukkulente weefsel stoor tydelik bruikbare water wat die plant in staat stel om sonder ’n eksterne waterbron te kan oorleef. Vetplante se habitat is droë gebiede, soos halfwoestyn, en as ekostreek is die sukkulente Karoo na vetplante vernoem. Snags gaan hierdie plante se waksagtige kutikule en ingesinkte huidmondjies oop om vog op te vang en waterverlies te beperk. Sukkulente roep kaktusse, plakkies en vygies voor die oog.

Oor die poëtika van vetplante kan ek liries raak. Die blomme is eenvoudig: kinderkuns, soos reeds genoem, of is dit die rofwerk van ’n onervare skepper? Die groei is geil, ’n gulharige gawe aan die droë aarde. Want vetplante is die ambassadeurs van dorre streke, tekenend van ’n genadelose klimaat.

Vetplante vorm ’n brandwag teen die laaste vesting van wind en reën.

Kyk na kaktusse, alarmisties met dorings om te verhoed dat hulle nie uitwissing in die gesig staar deur diere wat hulle vreet nie. ’n Kaktus vertoon weerbaar in teenstelling met sy sagte, sagte binneweefsel.

Die Haworthia se kubusagtige blare laat my dink aan ’n Picasso-skepping. Vetplante mistifiseer die mens met hulle geometriese elegansie; sommiges dra immers die bloudruk van die Blom van die Lewe of die swier van Fibonacci se Goue Ratio. Kaktusse het dorings soos weerhake of prikkeldraad. Die weefsel is met growwe rygwerk en doringagtige sterre aanmekaar geheg.

Met Covid-19 het ek opnuut bewus geword van vetplante, hulle moedige eienskappe. Hulle stille krag en vermoë om op minimalistiese wyse te oorleef. Hulle dankbaarheid.

Dan is daar die mites en legendes. Die Christmas Cactus is ’n honderd miljoen jaar ouer as Christus.

Die Koningin van die nag (Selenicereus grandifloras), weer, is ’n kaktus wat net een maal ’n jaar vir net een nag blom. Volgens die legende het ’n beeldskone koningin in ’n onaantreklike vetplant verander nadat ’n draak haar met vuurtonge vervoek het. Dit is waarom sy net een maal blom, gedagtig aan haar skoonheid van vroeër; in die helder lig van die maan gaan sy vir ’n paar uur oop, verruklik en stralend soos ’n ster. Volgens oorlewering genees hierdie kaktus se blare gebroke minnaars se harte. En op ’n letterlike vlak: die Koningin van die nag word gebruik as homeopatiese middel om hartlyers te help om ’n verswakte hartspier te versterk. Die legende is dus (deels) waar.

En dan die Lithops, oftewel die ‘lewende klippe’. Dit is plantjies wat hulself voordoen en kamoefleer as klippe. Augustus breek hierdie klippe wonderbaarlik oop en blom. Maar méér as klippe: sommige Lithops lyk soos Runeklippies, kompleet met mistieke geheimskrif maar met die verskil dat dit inderwaarheid spensies vol water is.

Die gebruik van aalwyn as antieke kruiemedisyne is al vir duisende jare bekend aan die mens en is ook gebruik om lyke mee te balsem.

Met die Kaapse droogte van 2018 het ek geglo dit is ’n kataklismiese gebeurtenis. Toe kom die Koronavirius, ’n perd van geheel en al ’n ander kleur, die vaal perd genaamd die Dood as deel van die quattuor soos beskryf in die boek Openbaring. En deur alles bly vetplante die konstante, ’n simbool van bestendigheid. Ewolusionêr die pioniers en bittereinders van oorlewing.

.

Aalwyn in die droogte

 

Die ergste is dat die lewe dwarsdeur

’n droogte aangaan en dat nie

wil endkry nie, die verbete beur

van wortels vlak in die rondte,

.

dat die blare handewringend toevou

om die gees, en, gevaarrooi geverf,

krimpend asem ophou

tot eindelik die vernedering oorgaan.

.

 

Wilma Stockenström. Vir die bysiende leser (1970)

 

 

Verwysings:

 

https://af.wikipedia.org/wiki/Vetplant

https://dalenefowler.wordpress.com/2017/08/06/aalwyn-in-die-droogte/?fbclid=IwAR3bTwV-h87O2NJealSoGtlp11RHub6Tw7qO-MhvVARw5QeA-11_okt0Upw

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •