N.P. van Wyk Louw 50. Lynthia Julius.
Namakwalanddorp: someraand
Die laat-middag het Boom geword
vir Anthony wat langsaan staan fluit
en ʼn afvallige godsman kom verby
wat in dronkenskap van God se liefde getuig
en wag-hou vir sy meid wat agter die klipbank pis
en die rook uit die plakkerskamp rook
verby by die sjoeriesdam sing
mense in vuil overall-broeke
stappend die appelkoosdjêm-skemer in
doer om Tolweg
stuck ʼn boer se bakkie met eelthand-werkers agterop
Oom-Oupa-Teerpad se ou taxi
kom staan, vanself, geroes, voor die smokkeljaart
Ant-Doesie-met-die-dooie-kleinkind kom
sit op haar aangeboude huis se stoep
vanaand hoor ons weer hoe sy
die Jirre verwyt en vir Ryan roep
© Lynthia Julius (wie se debuutbundel, Uit die kroes, pas by Kwela verskyn het), 2020