Daniel Hugo. Billy Collins en die vergelyking

 

Die vraag oor wat die poësie nou eintlik is, is nog nooit beantwoord nie. Want daar ís nie net een antwoord of ’n régte antwoord nie. Dit is waarom dit al eeue lank ’n interessante, onstuimige en soms omstrede gespreksonderwerp is, met net soveel sienswyses as wat daar soorte gedigte is.

Vergelykings is die essensie van die digkuns, sê die Amerikaanse digter Billy Collins. In sy gedig “The trouble with poetry” uit die gelyknamige bundel van 2005 vra hy of die skryf van poësie ooit tot ’n einde sal kom. Dit sal gebeur, beweer hy dan, wanneer

 

… the day finally arrives

when we have compared everything in the world

to everything else in the world.

 

Dan gaan hy voort en vertel watter uitwerking die lees van ander se gedigte op hom het. En hy doen dit – hoe anders? – deur beeldspraak te gebruik:

 

Poetry fills me with joy

and I rise like a feather in the wind.

Poetry fills me with sorrow

and I sink like a chain flung from a bridge.

 

But mostly poetry fills me

with the urge to write poetry,

To sit in the dark and wait for a little flame

to appear at the tip of my pencil.

 

Daardie vlam van inspirasie wat aan sy potloodpunt verskyn, het my dadelik laat dink aan ’n gedig wat ek in 1998 in die bundel Skeurkalender gepubliseer het. Daarin vertel ek hoedat ’n gedig ontstaan het wat ek in my pa, ’n predikant, se studeerkamer geskryf het toe ek nog op skool was. Die eerste twee strofes van “Geroepene” lui só:

 

Dit is eksamentyd. My pa se studeer-

kamer is die stilste plek in die stampvol huis.

Ek sit agter sy lessenaar en probeer

om die skool se Algekadabra uit te pluis.

 

Buite rammel Ou-Testamenties ’n storm.

Plotsklaps slaan ’n weerligstraal my byna blind.

Daar spat wragtag ’n vonk uit my potloodpunt

en – uit my geloof geskrik – vind ek my vorm:

 

Dan volg die gedig wat ek destyds as skoolseun geskryf het, waarskynlik gedurende my matriekjaar in 1972. Dit behels die noukeurige optekening van wat ek alles om my in my pa se studeerkamer en teen sy aansteekbord bo die lessenaar opmerk. Sonder ’n enkele vergelyking.

 

Studeerkamer: V.D.M.

ek sit by sy groot bruin lessenaar

met sy potlode, skêr en seëls:

“Gezelligheid kent geen tijd”

hang teen die muur in goue reëls

 

agter stof sit ses-en-vyftig se sinode

met beffies lankal uit die mode

starend, langs suur Calvyn, Jan van Riebeeck

en onder Die Burger lê Sondag se preek

 

“Dient elkander door de liefde”

’n briewemes en halwe bottel ink

bo-op ’n brief in trane-trant:

“Dominee my man drink”

 

“Prompte et sincere in opere Domini”

waarsku bo rye boeke wat hy nog moet lees

onder die Bybel Cohen se faktuur

en op Andy Capp daal die Heilige Gees.

 

Wat Collins met ’n beeld weergee – die inspirasie soos ’n vlammetjie aan die loodpunt van sy skryfinstrument – het dus werklik met my gebeur. En daardie gebeurtenis laat my ’n gedig skryf waarin die konkrete werklikheid sonder die versiering van vergelykings gestalte kry.

Daar is natuurlik baie soorte gedigte – vanaf die metafories-digte verse van D.J. Opperman of die tuimelende beeldspraak van Breytren Breytenbach tot die gestroopte, beeldlose vertelverse van Danie Marais en Hannes Visser, en al die moontlikhede tussenin. Ek was reeds vroeg onder die invloed van die tipiese Opperman-gedig met sy gelaagdheid en meerduidigheid. Ek sou ook intuïtief en onmiddellik met Billy Collins wou saamstem dat metaforiese taalgebruik die wese van die digkuns is. Maar toe herinner daardie potloodvlammetjie my aan my eie “prosaïese” opnoemgedig.

En dit verklaar dan ook my gefassineerdheid deur ’n gedig soos dié deur Hannes Visser. Dit staan in sy bundel Die jaar toe pa … (2019). Die jaar is 1967:

 

Sondag 12 Maart

pa koop ’n skildery

onder die bome

by floridameer

by ’n man met

’n geel kombi

 

dis magaliesberg

en ’n rivier met

’n maer boom

ek moenie vat

die verf is nat

 

pa betaal vyf rand

en die res

elke maand

maal ses

 

hy sê dis soos

skuld vir ’n kar

maar ‘n skildery

is iets anders

 

dit word duurder

 

Die lakonieke verteltrant en die gedempte humor maak hierdie gedig so aantreklik. En dan is daar ook nog die woordspel “skuld” / “skildery”. Maar nie ’n enkele vergelyking nie. Jammer, meneer Collins.

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Daniel Hugo. Billy Collins en die vergelyking”

  1. charl-pierre naude :

    Interessante storie! Maar dan wonder ek: is die “vergelykinglose” gedigte nie maar net vergelykings op ‘n ander “niveau” nie? Want, altyd met ‘n gedig, ‘n goeie een, een wat werk, kry mens daardie gevoel van: dit verwys na iets anders ook. Daar is meestal daai spanning tussen twee werelde, verskillende situasies, al is die een pool in die vergelyking bykans onsigbaar in die agtergrond.

    Is dit nie dalk ‘n soort vergelyking nie? In Hannes se vers lyk dit so. En in “Eksamentyd”, is dit dieselfde, vir my.

  2. Ek stem nogal met Charl-Pierre saam. Vir my is ’n goeie manier om die kwessie te benader, woorde te gebruik soos “implisiet” en “eksplisiet”. Die eerste strofe van “Studeerkamer” beskryf die digter se vader se studeerkamer. Waar is die vergelyking? In Daniel se kommentaar hierbo praat hy van die “enigste stil plek: in die huis. En hier skuil die implisiete vergelyking: Studeerkamer – “soos ’n rustige stil plek om in te skryf”.
    Tweede strofe: foto van die sinode – vergelyk met “die ‘stowwerigheid’ en ‘suurheid’ van die destydse kerklike dogma.”
    Derde strofe: Motto teen die muur en tranebrief – “die (soms sware) plig van die leraar om mense liefdevol te dien”.
    Vierde strofe: Latyn: “Vinnige en opregte diens aan die Here” – “die indringing van die alledaagse lewe met “banaliteite” soos ’n faktuur en Andy Capp”.
    Dit is juis waar die trefkrag van hierdie gedig lê: die teenstellinge van ’n geestelike lewe en pligte met die harde werklikhede van ’n lewe waarin hoëre sake dikwels verontagsaam word.

  3. Marlies Taljard :

    De Waal, jy is SO reg. Die gedig werk met jukstaposisie, en myns insiens is dit ‘n implisiete vergelyking.

  4. Bernard Odendaal :

    ‘n Beskrywing (waarin raak gekies word), soos in Daniel se gedig oor wat te sien is in die domineestudeerkamer, en ‘n verhaal (waarin nie te veel klaar geïnterpreteer staan nie), soos in Hannes se pa-gedig, werk ook ‘n bietjie soos beeldspraak. Ek dink graag daaraan dat “beeldspraak” en “verbeelding” ‘n woordstam deel – en dat die poëtiese werking spruit uit hoe ‘n beeld-in-woorde die leser se verbeelding op gang kry, onderweg na betekenisskepping toe.

  5. Waldemar Gouws :

    Miskien lê daar aan die wortel van die beelding iets soos Antonin Artaud idee dat “poetry is anarchic in as much as it questions all object relationships or those between meaning and form.”

  6. Ek vind hierdie uiteensetting van Bernard besonder knap en grondig: “poëtiese werking = beeld-in-woorde … verbeelding … betekenisskepping”. Dit is vir my een van die beste omskrywings van die digterlike skeppingsproses. Gedigte wat min beelde bevat, vind ek gewoonlik taamlik futloos. Poësie is vir my amper ondenkbaar sonder beelde. ‘n Beeldelose “gedig” is omtrent net betoog, nie poësie nie.
    ‘n Goeie digter kan vernuftig en met baie min aanduiding ‘n beeld ryk betekenis gee. In Daniel se gedig is daar die reël:
    “agter stof sit ses-en-vyftig se sinode”.
    Met net hierdie paar woorde sien mens ‘n geraamde foto agter glas wat al stowwerig geword het met verloop van tyd (regte fisiese stof en ook die metaforiese stof van, sê nou maar, bekrompenheid). Op die foto sit die lede van die sinode van ses-en-vyftig met hulle outydse beffies. ‘n Hele reeks interessante en emotiewe feite.

  7. Hein Viljoen :

    Maar daar is mos ‘n vergelyking: “hy sê dis soos skuld vir ‘n kar” (die tertium is jy betaal albei af, maar die digter maak ook die verskil duidelik).

Los kommentaar

 

*

  •