Gisela Ullyatt. Om te vergeet.

Ek wonder of ek in die minderheid sal wees as ek bieg dat ek soms erg bekommerd raak oor my geheuefunksies. Dis byvoorbeeld ver bo my vuurmaakplek (ek sal meer as net vingers verbrand) om enige gedig voor te dra, omdat ek bang is ek laat ’n essensiële woord uit. Of versreël. Of strofe. Ek kan nie begin om myself in te dink hóé Sandra Prinsloo al haar woorde vir Die Naaimasjien onthou het of hoe enige akteur P.G. du Plessis se dialoog in hul breinkaste stoor en weergee nie. Dus het die redelik onlangse bekendmaking van Wilna Snyman wat in die aanvangsfase van Alzheimer se siekte is, my erg ontstem. As iemand van haar statuur en jare se toneelspel (ook die duisende ure van sepie-dialoog) begin vergeet het, waar laat dit my in die toekoms? Waar laat ons dit dan almal?

Onrusbarend is die hoë voorkoms van demensie en Alzheimer se siekte deesdae. Dalk voel dit net so vir my, omdat ek soveel kennisse en vriende het wie se ouers tekens daarvan begin toon of reeds in ’n gevorderde stadium daarvan is. ’n Ander rede is dalk dat meeste mense bloot geen kennis besit het oor demensie of Alzheimer se siekte nie en dus kon niemand in elk geval openlik daaroor praat nie. My oumagrootjie, byvoorbeeld, het volgens oorlewering mense aan tafel se borde begin gaps terwyl hulle nog besig was om te eet, oortuig daarvan dat hulle ‘opgewas’ moet word. Sy het ook alle liefde vir haar geliefde Woord verloor en haar skooltassie met traktaatjies wat sy met sorg versamel en uitgedeel is later onaangeraak gelaat. Die familie het egter maar gepraat oor ouma se “verkalkte are”.

Deesdae is dit ’n geheel en ander storie: maak ek ’n tydskrif oop is daar ’n artikel wat lesers inlig oor die siekte en gevallestudies daarvan. Lyk my hy bekruip jou vir jare en wanneer hy hiert! skree, is dit te laat vir die persoon en vir sy/haar familie. Ons het ’n kennis wie se ma en pa in verskillende stadia van demensie én Alzheimer is. En omdat hy soms al om vyf in die oggend by die werk is en meer oortyd werk as wat meeste van ons in ’n leeftyd sal kan hanteer, het hy nie die energie of tyd om die kwessie aan te spreek nie. Self kan hy onmoontlik na sy ouers kyk. Hulle is nog nie eens op ’n waglys vir fragile care nie. Die logistiek van versorging van die huis af is ’n nagmerrie vir die meeste mense, hoe goed hulle dit ook al bedoel.

Ek haal my hoed af vir neurologiese navorsing wat op hierdie area fokus. Maar daar is net te veel teenstrydige navorsing wat gepubliseer word. Die een artikel sal byvoorbeeld bevind dat ’n dieet hoog in vetsure demensie kan beveg, terwyl ’n ander weer fokus op breingimnastiek, geheuespeletjies en soduku. So, ’n goeie salmon steak en visolie behoort die ding te doen…Of dalk nie? Ek wil sommer by voorbaat begin vergeet wanneer ek die fascis van vitamien-aanvullings, Patrick Holford, probeer lees. Dis nou bo en behalwe die feit dat ek nie die duisende ponde kan bekostig om by sy eksklusiewe instituut in Engeland getoets te kan word nie.

Die feit dat jy jou brein besig moet hou sodat demensie of Alzheimer jou nie kan bekruip nie, is beslis nie ’n versekeringspolis teen die Groot Vergeet nie. Iris Murdoch is ’n voorbeeld hiervan. In die fliek-weergawe van haar lewe, Iris, word dié dame deur Dame Judi Dench vertolk en as jong vrou, Kate Winslet. (Die klankbaan is gekomponeer deur James Horner en die solo-violis wat deurgaans optree en verruk is niemand anders as Joshua Bell nie).

Die fliek stel die twee Irisse briljant teenoor mekaar: Vroeër kon sy lang literêre gesprekke oor haar boeke voer of is sy gevra om toesprake oor literêre kwessies te hou. Maar later dool sy rond in die strate (hulle huis was so deurmekaar, die strate-invaar was dalk ’n beter alternatief) en verval sy in katatoniese geluk wanneer Teletubbies op die tv verskyn. Dit nou vir ’n vrou aan wie die Booker-prys toegeken is. John Bayley, haar professor-man (en so erg verstrooid, jy sou dink dat hy die een met Alzheimer se siekte sou wees) karteer onder meer die verloop van haar tragiese siekte in drie boeke: Iris: A memoir of Iris Murdoch (1998); Iris and her friends: A memoir of memory and desire (1999), en Elegy for Iris (1999). Gelukkig vier hy terselfdertyd ook haar lewe en boeke daarmee. Peter Conradi, ’n Murdoch-foendi en persoonlike vriend van die egpaar, se publikasie, Iris Murdoch: A life (2001) werp nog ’n blik hierop en is ’n boek wat ek beslis aanbeveel.

Nog ’n voorbeeld van iemand in die skrywerswêreld wat beslis nog nooit op sy literêre louere gerus het nie, is Terry Pratchett. Sy produktiwiteit verstom; hy is ongetwyfeld (wat produktiwiteit aanbetref) die Stephen King van die fantasie-genre. Sy Discworld-reeks het nie minder as 55 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop. Dié man hou homself dus besig. Blykbaar was dit egter nie genoeg nie. Die dokumentêre fliek, Living with Alzheimer’s, (2009) is ’n aangrypende rekenskap van sy spesifieke tipe Alzheimersiekte (Posterior Cortical Atrophy of PCA) en hoe dit hom aantas. Ondenkbaar vir ’n man met ses rekenaarskerms. Nou kan hy skaars sy eie das knoop.

Tematies is daar talle voorbeelde van hierdie slopende siekte in die digkuns, soos gesien in Billy Collins se “Forgetfulness” (Astley:214-215). Dis veral briljante insig omdat hy die gesegde “losing the plot” met soveel deernis (sonder druppende sentimentaliteit) skets in die vaktaal van ’n roman in die eerste strofe:

 

The name of the author is the first to go

followed obediently by the title, the plot,

the heartbreaking conclusion, the entire novel

which suddenly becomes one you have never read, never even

             heard of.

 

Die laaste strofe verwys na die vergeet van ’n liefdesgedig; iets wat daarop dui dat die persoon wat vergeet gelykgestel word aan daardie idee van “the missing link”, wat in hierdie geval die maan is wat nou in die liefdesgedig ontbreek. Die persoon wat vergeet word egter verder verontmenslik deur die siekte, omdat hy nou ’n liefdesgedig vergeet wat hy “by heart” geken het. Die liefdesgedig staan as tragiese simbool van die emosionele stroping wat die lyer begin ervaar –  hy het oplaas selfs begin vergeet om lief te hê:

 

No wonder you rise in the middle of the night

to look up the date of a famous battle in a book on war.

No wonder the moon in the window seems to have drifted

out of  a love poem that you used to know by heart.

 

Susan Smith se bundel, In die afwesigheid van sin, wakker die tema aan van die toenemende isolasie waarin die demensielyer haarself bevind in ’n “ou huis” (31) waarin die persoon “asemalleen” bly. Die gewigtigheid van hierdie proses wat die lyer omvou word veral effektief gebruik deur die “oorvol en swaar” stinkhoutmeubels en “toegewakste sediment”. In teenstelling hiermee word die “ligte kop”, die brein se neurale weë wat ophou kommunikeer en ironies genoeg die donker gedeeltes insluit wat op breinskanderings wys, treffend as metafoor gebruik in die laaste strofe. “Lig” verkry ook ’n dubbelsinnige betekenis deur die plasing aan die einde van die betrokke versreël:

want jou kop het lig

geword en knik waar jy sit

ligter selfs jou onthou.

Smith dig ook oor afasie, ’n spesifieke tipe demensie wat die Wernicke-area van die brein wat spraak beheer, aantas (“afasie”:88):

en iewers tussen die oog se kyk

en die klank op die lip

word van die neuronpaadjie afgeglip

word in die omstreke van Wernicke die spoor verloor

word die dobbelsteentjie geskommel

 

In “woordslaai” word die toenemende gapings in woordvermoë van die afasielyer uitgebeeld deur letterlike gapings in die tipografie en in “laaste taal” (90) word tydens ’n breinskandering uitgewys dat “bykans alle taal” nou uitgewis is, iets wat die laaste skakel met geliefdes wreed afbreek:

 

net die essensiële bly oor

 

my ma sê

my kind

 

só sê sy:

 

my

liewe

liewe

kind

 

dis al wat sy nog sê

 

Izak du Plessis, wat in Nuwe Stemme 5 debuteer, bied ’n unieke blik op Alzheimer se siekte. In “Alzheimer” (123) skryf hy oor sy oupa Jaap en gebruik hy deurentyd plaas-metaforiek. Die term “drukgang” verkry nuwe betekenis in hierdie konteks vir die leser:

 

In oupa Jaap se kop het stories tougestaan

om deur die drukgang van sy mond te stap.

As die dag uitgemelk en uitgevreet op stal was

het hy hul deurgejaag tot by die enemmeltafel

op die bloedrooi stoep. My hart het tiet getrek

vir hierdie hanslammers van Oupa.

 

Die dag toe groot vergeet die hek ooplos

het hulle met die grootpad weggedwaal.

 

 

Ek sluit af met die idee dat Alzheimerpasiënte ’n natuurlike Zen-begrip van die oomblik begin ontwikkel en handhaaf en nie meer in die verlede of toekoms lewe nie, maar wel slegs in die hier-en-nou. In Living with Alzheimer’s word ’n 88-jarige man met Alzheimer se siekte van Kalifornië, wat eens ’n vlieënier in die Tweede Wêreldoorlog was, gevra in watter Amerikaanse staat hy op die oomblik is:

 

Are we in New York?

 

I don’t think so.

 

Then where are we?

 

I guess we’re here.

 

Where is here?

 

Right here.

 

 

Bibliografie

 

Astley, N. ed. 2011. Staying Alive. Real poems for unreal times. Tarset: Bloodaxe.

Marais, L., du Plooy, H. eds. 2013. Nuwe stemme 5. Kaapstad: Tafelberg.

Smith, S. 2012. In die afwesigheid van sin. Pretoria: Protea.

Bookmark and Share

24 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Om te vergeet.”

  1. Baie dankie vir jou belangrike bydrae, Gisela! Ontrent almal wat ek ken,
    voel presies soos jy oor hierdie tema. Ken jy miskien David Sieveking se
    doku-film VERGISS MEIN NICHT van 2013 wat hy oor sy ma gemaak het?
    (Pryse gewen in Locarno, Leipzig en Montreal). Vol deernis maar ook sagte,
    onverwagse humor – wat n gevoel van verligting in die toeskouer laat ontstaan. Kritici het wel ook gevoel dat die feit dat sy ma nie kon begryp dat
    sy die hoofrol in n film speel nie problematies is. Ek dink nogtans dis absoluut die moeite werd om te sien.

  2. Gisela Ullyatt :

    Vielen Dank, Engela! Nee, ek dra nie kennis oor hierdie fliek nie, maar ek sal dit bittergraag wil kyk. Dis nogal moeilik om Duitse boeke en flieks hier te kry sonder Amazon.de se erge verskepingskoste. Waar sou ‘n mens hierdie fliek in die hande kry?

  3. Gisela, kyk op youtube onder die titel FORGET ME NOT.
    Haal baie van die groot seerkry uit. Laat weet wat jou mening is!

  4. Leon Retief :
  5. Gisela Ullyatt :

    Wat ‘n interessante blog, Leon. (Jou klem op ‘onthou’ en myne op ‘vergeet’ in die titels). Ek het nie geweet dat jy jou psigiatriese internskap by Oranjehospitaal gedoen het nie. Ek het as Sielkundestudent vir drie jaar daar ‘gevolunteer’. Die plek bly maar angswekkend lelik en selfs gedurende die somer hou die personeel asbesverwarmers aangeskakel. Die babasaal was veral vir my verskriklik. Ek sal nooit die reuk van verrotting vergeet nie. Daardie erge bedompige kak-en-pisreuke. Dis asof die lug daarbinne gesterf het. Baie van die pasiënte is nou uitgesit op die strate van Bloemfontein want daar is glo geen ‘budget’ meer om hulle daar te huisves nie. Dis godskreiend.

  6. Leon Retief :

    Gisela daar het meer in daai hospitaal gesterf as net die lug. En ek praat nie van mense se fisiese liggame nie. Ek moet darem byvoeg dat ek ‘n hele tyd voor jou daar was toe dit nog ‘n min of meer “redelike” begroting gehad het maar geskiedkundig het psigiatriese inrigtings altyd maar aan die agterste speen gesuig en selfs toe het dit maar sleg afgesteek teen die ander hospitale. Dis ‘n wêreldwye verskynsel. Toe ons Gent was in 2000 het my vrou Lesli en ek daar die psigiatriese hospitaal besoek (darem vrywillig  ) omdat daar ‘n uitstalling was met die titel “Verstoorde Vorste.” Baie interessant, daarna het ek ‘n wandeling deur die gronde onderneem. Dit het my so aan die Oranje laat dink: dieselfde verwaarloosde gronde, verlate gange, sigaretstompies wat oral rondlê, hier en daar een van die beter funksionerende pasiënte wat op ‘n bank sit en rook en by hom/haarself mompel. Ek dink dat ‘n psigiatriese hospitaal in SA vandag ‘n nagmerrie moet wees. En laat ek maar nie uitbrei oor die “vrylating” van sulke pasiënte in die gemeenskap nie, dit gebeur hier ook en om dieselfde redes, net verdoesel om te probeer voorgee dat dit kamma verhoed dat hulle geïnstitutionasliseer word.

  7. Desmond Painter :

    Een van die mees troostelose plekke waar ek al ooit was: die psigiatriese hospitaal in Fort Beaufort, Oos-Kaap, op ‘n alreeds troostelose Sondagmiddag in ‘n alreeds troostelose dorpie. Behalwe dat die plek vervalle, verwaarloos, en verlate gelyk het (daar was wel groepies pasiënte wat rondgedwaal en toegesak het op enige besoeker se kar om te vra vir geld of sigarette) was dit ook duidelik uit gesprekke met ‘n vroulike pasiënt dat te veel van hulle daagliks uitgelewer is aan ‘n soort Hobbesiaanse “mense-is-wolwe-vir-mekaar” situasie van geweld, verkragting, prostitusie vir sigarette, ens.

  8. Buiteblaf Breytenbach :

    Wat ‘n kalamiteit en wat ‘n skande! Tereg word daar gesê ‘n gemeenskap sal gemeet word aan die wyses waarop omgesien word na die swakkeres en die onaangepasdes en die verworpenes – die gevangenes, die sielsiekes, die clandestinos, die Marikaners, die Anderlinge… (En sou mens nie die politici hieraan moes toevoeg nie?) In ons Gaddareense verbruikershisterie word hierdie ‘onoplosbaarheid’ al hoe meer opsy geskuif, onsigbaar gemaak deur afstomping en sinisme en ‘n real-moral of, vir ons wat geleerde ape is, die geraffineerde ontleed-en-lees van die eie derms, die eindelose eiewaardeskepping van ‘n gekrap aan en in die eie karkas. Dis soos die dood: ons laat dit aan die lykbesorgers oor om dit wat ons nie wil sien nie vir ons te begrawe, laat ander katte ons ontlasting toekrap.

    En Moerlekland dan, met ons horison van ‘n Nasionale Demokratiese Revolusie, ‘regeer’ en deur die eie duistere kloaak (Parlement) getrek deur ‘n kaste van allesvretende morele dwerge in die naam van ‘regstelling’, waardige opvolgers van ons vroeëre fasciste met as oorgangbrugbouers die mieliemond polities korrekte mutante soos Louis Wessels, Andries Nel, Adam Habib… – wat is die kans dat die medemensregte van die swakkeres en die ellendelinge nog met respek en deernis en die begrip van verantwoordelik te wees benader kan word?

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘n ‘Roman’ wat ek werklik baie sterk wil aanbeveel: “Harlequin’s Millions” geskryf deur Bohumil Hrabal. Stacey Knecht se vertaling daarvan het onlangs by Archipelago Books verskyn. Dit wys miskien hoe iemand met die vaardigheid en ambisie en baie spesifieke wêrelde-skeppende werktuie van ‘n skrywer met die onthou van gedeelde verantwoordelikheid omgaan.

  10. Heilna du Plooy :

    Nog ‘n ontroerende roman oor die verlies van geheue as gevolg van Alzheimer se siekte is Hersenschimmen van die Nederlandse skrywer Bernlef wat in 1984 verskyn het. Die interessante is dat die verhaal vertel word vanuit die perspektief van die karakter wat sy geheue verloor en dat die leser die aftakeling en die toenemende gebrek aan ‘n greep op die werklikheid direk met die verteller deel. Die roman self verloor na die einde toe al hoe meer sy samehang soos wat die verteller vir homself verlore raak. Die roman is ook verfilm . Die verhaal speel af in Kanada en die wit sneeulandskap in die film maak dat ‘n mens regtig al hoe kouer voel as jy jou inleef in die verhaal. Soos die verteller op ‘n plek in die roman sê: ” Maar het blijft sneeuwen. Het sneeuwt zelfs binnen in mij. Nergens meer verweer.”

  11. Gisela Ullyatt :

    Leon, veral nadat Oranje Hospitaal na “Free State Psychiatric Complex” herdoop is, het die lelike dinge begin gebeur. Generiese naam, generiese behandeling of geen behandeling, soos dit van toe af begin blyk.
    Desmond, “troosteloos” is absoluut in die kol met hierdie inrigtings. Ek het begin ‘volunteer’ op n troostelose wintersdag (gelukkig nie Sondag). Nie ‘n groenigheidjie te bespeur nie. Toe kom ek later agter dat dit nie veel beter in die somermaande was nie…ek het geen idee hoe mense veronderstel is om ‘gesond’ te word in so ‘n siellose omgewing nie. Ek dink die veronderstelling is dat hierdie mense in elk geval “too far gone” is? Ek dink nie enigiemand weet meer wat die oorspronklike doel was nie…

  12. Gisela Ullyatt :

    Buiteblaf: soos ek in ‘n vorige kommentaar gesÊ het, dis godskreiend dat hierdie pasiënte net so op straat soos uitskot uitgeskiet word (nie eers soos plastiek wat ‘herwin’ kan word nie, sommer net plein stront). Hierdie mense word geÏnstitusionaliseer vir jare, met geen moontlikheid op ‘n werk, niks. Dan besluit die powers that be dat die ‘ongevaarlikes’ teruggestuur moet word na hulle families, meeste van hulle in gehuggies. Hulle word daarheen geneem met ‘n ou skedonk van ‘n ambulans. Meeste families wil dan ook nie hul eie uitskot hê nie, hulleself leef in die afgrond in. Dan kom die ambulans terug en word hulle na die strate verban saam met die samelewing se ander ‘uitskot’. Geen halfway-house, niks. Hulle medikasie word gestop. Of aan hulle word gesê om na ‘n kliniek te gaan. Jy sien hulle rondloop soos arme voëlsverskrikkers, so al pratende met hulleself, soms in volle psigotiese aanval. Die breë publiek is nie hiervan bewus nie. Hulle word gesien as gevaarlike boemelaars. Kriminele.
    Dankie vir die boekaanbeveling. Gaan dit beslis opvolg.

  13. Gisela Ullyatt :

    ENgela: dankie vir die skakel. Ek het op Youtube wel ‘n voorskoutjie van Vergiss mein nicht gevind, maar niks onder Forget me not, net slegte popmusiek. Dit lyk na ‘n geweldige onroerende dokumentêr, veral omdat die ma so ‘n betrokke mens was (anti-Viëtnam) en nou weet sy nie eens wie haar man se naam is nie. Wanneer haar seun haar dan verduidelik en vertel en haar reaksie ‘noch nie davon gehört’, of iets in daardie lyn, is dit duidelik dat haar skakel met haar geliefdes wreed verbreek is. Dis beslis ‘n dvd wat ek in die hande wil kry.

  14. Gisela Ullyatt :

    Heilna, hierdie roman klink na iets wat ek graag onder oë sal wil kry. Waar sal ‘n mens dit in die hande kan kry? Bookfinder dalk?

  15. Gisela, ek sien Ulrich Naumann Buchhandel, Burgstr. 17 in Kaapstad,
    bestaan darem nog – vanaf 1 Maart 2014 deur Andrea Schmidt en haar man
    bestuur. In die laat 60’s het ek die pragtige Switserse kunstydskrif DU daar
    ontdek (bestaan ook nog, maar heelwat dunner).

  16. Hilda Smits :

    Ek het onlangs ‘n Suid-Koreaanse film deur Lee Chang-Dong gekyk, Poetry. Oor ‘n bejaarde vrou wat met Alzheimer’s gediagnoseer word en in die finale weke van haar lewe ‘n poësie klas begin bywoon. Die professor se opdrag aan sy studente is om elkeen een gedig te skryf. Baie roerend, en visueel stunning.

    http://en.wikipedia.org/wiki/Poetry_%28film%29

  17. Gisela Ullyatt :

    Engela, dankie vir die inligting. Wanneer ek weer in Kapstadt is, sal ek baie beslis dit wil besoek.
    Hilda: hierdie fliek klink aangrypend. Kon hierdie groepie ‘studente’ toe gedigte produseer? Indien wel, is ek absoluut verstom en ‘humbled’.

  18. Hilda Smits :

    Gisela, sy alleen word aan die begin van die film met Alzheimer’s gediagnoseer. Dit gaan oor die geleidelike uitdoof van die geheue se lampe, maar ook oor integriteit, oor dit wat waardigheid is. En oor wat die essensie van ‘n gedig is – nie altyd iets wat ‘n mens kan verstrik in woorde nie, maar ‘n dier om met al die hande van die sintuie te verstaan.

  19. Hilda Smits :
  20. Gisela Ullyatt :

    Hilda, jy sal my nou nie glo nie, maar Poetry gaan ‘n draai kom maak by die Vryfees in Bloem in Julie. Sinchronisiteit, as daar al ooit was!

  21. Hilda Smits :

    Dis great, Gisela.

  22. Gisela,Ek gaan telkens terug na jou gedig,en lees ook graag al die kommentaar.
    Noudat tagtig vir my nader is as sewentig,is die agteruitgang van liggaam en brein,en die denke daaromheen,dikwels in my gemoed.
    Vriendelike Groete
    Louwene van Wellington.

  23. Gisela Ullyatt :

    Louwene, dankie vir jou kommentaar. Tagtig is ook nie meer wat dit voorheen was nie, deesdae is dit nader aan sewentig (en jonger). Wat my hoop gee is dat daar ook nog vele mense bó tagtig en negentig is wie helder van verstand en emosie is.Ek dink nou maar aan ‘n skrywer soos Elsa Joubert en die doyenne van die Afr digkuns, Wilma Stockenström.

  •