N.P. van Wyk Louw 50. Danie Marais
Met vrese soos met verse
“… dat hy altyd eensaam
met sy vrees
om kosbare dinge tussen
hulle sou wees.”
Moenie bang wees vir dié eensaamheid nie, want
juis dít gee spesiale waarde
aan kosbare dinge.
Febe
Stellenbosch, 30 Mei 1990
Dit staan voor in die dun hardeband-Raka
wat Febe my op my 19de verjaardag gegee het
in Simonsberg-manskoshuis
waar die vrees om kosbare dinge
ten alle koste onder ’n alkoholwalm
skynmanlikheid versteek is
en eensaamheid soos silwer munte
en halwe leuens
geval het
in die blou tiekieboks
langafstand Sondagaand
na Pretoria.
Wanneer ek Febe se opregte skoonskrif
op die verbruinde bladsy sien,
kan ek nie alles niks noem nie, maar
op 30 Mei, dertig jaar later, tref
die brose onvertaalbaarheid
van die vreemde kosbaarheid van 1990
en Kamer 44 in Simonsberg my,
onthou ek die penarie van 19
die einde van onskuld
met ’n wye, droewe wit land
soos ’n koorsdroom agter my
’n verdoemende verlede wat anderkant
die sneeublindheid van nuwe hoop wag.
Dertig jaar later weet ek niemand
kan Van Wyk Louw,
die Digters van Dertig of Voëlvry,
Koki, Febe of my
uit die verbeelde kou van “Afrikaner” bevry
nie daar is geen
geloofwaardige verdraaiing
van ons skelmdier-verlede nie geen
nuwe beryming van polities verdagte metafore nie geen
Raka-remix met ’n sick beat
wat die Twitterbots van die hede
en die slawedrywers
van honger en dors
kan swaai nie.
Dertig jaar later is die outydse vrees
om kosbare dinge
– die majeurwense van mineurmense –
net ’n dowwe klop
in die donker bors tot
ek alles een helder herfsdag
weer oopslaan en besef
ek is steeds op pad
met die dronk skatkaarte van gedigte
in die lanternlig van ou wonde
op die bloedspoor
na komvandaan.
© Danie Marais, 2020
Pragtige reëls staan hierin. Gaan nou weer lees.