Veel liefliker is dit
(In die spore van NP Van Wyk Louw se “Groot ode”)
Laat daar dan dinge wees
wat die mens nie begryp nie, dinge
waaraan hy hom sal wil meet,
maar geen berekening vind nie.
Laat daar spieëls wees. En raaisels,
laat hom verward staan
voor die wydgevlerkte geduld
van ’n voël in die voue van die wind,
want wat ontbreek, kan nie
getel word nie. Laat daarom
die weg van ’n man by ’n vrou
sonder rede wees,
want wat baat dit hom –
’n ete van droë brood is immers
beter as maaltye in ’n huis
van twis. Ja, wat baat liefde
wanneer daar dinge is wat hy nie
begryp nie, dinge
wat afgemete lê in skale
van afskeid en berou: ook dit
kan nie getel word nie,
want teen skemertyd
loop hy manhaftig dog droef
en wil dat alles aan sy aard
gelyk wees: getuies vir mekaar,
inderdaad, met niemand om namens
húlle te getuig wanneer
die boom in die agtertuin
sy vrugte swel en sonder huiwering
grond toe stuur nie.
Laat daar dan dinge bestaan
wat die mens nie begryp nie, dinge
soos die skramse spel
van hande, die fluisterstem
van begeerte, want ja, ook dít vergaan
sonder rede. En vergifnis, los maar
vir hom tussen die flenters
van sy refleksie hierdie oomblik,
so sonder vraag
of verwyt, en noem dit vreugde
terwyl die drif nog bestaan
vir die mens om ironies te wil leef
en die liefde steeds
te behou.
(Uit: Sloper. 2007: Protea Boekhuis)
silwerdriet…
Beste Lewies – as ek nou stuitig mag wees: daardie “luister na die stiltes te vinde in glas”, tensy jy nou ‘n besonder fyn oor ontwikkel het vir die glasblaser se asem waar dit nog beweeg in weerkaatsing, oorval mens tog met ‘n byna Skandinawiese droefheid by gedagte aan die leë glas. Veral wanneer dit teen die lig gehou word. Dit word glo ‘stilverdriet’ genoem.
aan elke kelk
al is die lippe ook verwelk
glinster nog die skyn
van ‘n mondjievol synpyn:
die wyn se geheue aan druif
Dankie vir die kompliment, Charl-Pierre. Uiteraard ook aan Marlies Taljard vir die plasing. Waarmee ek my besig hou? Meestal luister ek maar na die stiltes wat te vinde is in glas.
Louis, dis ‘n allemintige vers.Ek sal graag wil sien waarmee jy jou tans bedig hou. Hierdie, en Waldimar se vertaling, is van Versindaba se beste oomblikke.Hierdie maak my middag.