Kraalogies
Pa het van jongs af
wedrenduiwe gehad
opreg geteel
nie sommerse duiwe nie
kransduiwe met rooi om die oë
kon hy nie verduur nie
irriterend die alewige gebrom
hooo-hooo-hooo-hooo-hooo
Kraalogies
was Pa se spogduif
Kraalogies
het hy vir my benoem
die rooibontes
was graanplunderaars
stoepbetjortsers
met willewragtag-oë
Kraalogies het Pa geleer
om hoog en ver voëlvlug-
perspektiewe te sirkel
en korreloog terug te keer
die voorbarige vettes
met die spikkels en die pokkies
en die lewerrooi vlekke om die oë
het Pa verfoei
Kraalogies was ’n sieraad
hy en sy nageslag die hoogedeles
bekers het hulle verower
uitgestal in vertoonkas en op gordynkappe
die kransduiwe
se oë was amberbruin
net soos Kraalogies s’n
maar Pa het die gemaskerdes verdoem
nou sit ek met die naam
van Kraalogies om die nek
en in my die kransduiwe se
gehooo-hooo-hooo en geflap-flap-flappe
© Ronel de Goede, 2020
Baie dankie aan almal vir die kommentaar.
Ek waardeer dit.
Groete
Ronel
Geagte Zandra, om te motiveer: in teenstelling met die eksterne etiket om die nek (wat is ín ‘n naam per slot van rekening?) is die inherente, die wesentlike, van die eienskap wat Ronel de Goede d.m.v. die geluid van die (inheemse) kransduiwe verwoord.
Rasverbetering by die digter, juis deur daardie kruising van stipkykende kraalogie, hoë vlug en bandelose hoo en flap? So lees ek dit.
Dat die gedig ook so ‘n goeie spyker in eugenetiek se kis is!
Sou meer van die hoo en die flap van jou wou hoor, Ronel!
Absoluut, Bernard. Helemaal mee eens.
Lekker om Ronel de Goede terug op die digkunsveld te sien – en sprankelend so!