De Waal Venter. Agter die kap van Tranströmer se byl
Tomas Tranströmer, die Sweedse Nobelpryswenner vir Letterkunde in 2011, se siening en vertolking van die wêreld en werklikheid om hom transendeer die beperkinge van ’n bepaalde land, kultuur en taal. Dit bied ’n universele kyk op die lewe wat in die meeste van sy gedigte spruit uit die waarneming van ’n alledaagse verskynsel: landskap, ’n voël, die see, ens. Die gedig word dan opgebou uit hierdie oënskynlik eenvoudige begin.
Met die lees van ’n Tranströmer-gedig word die leser dieper en dieper in die vreemde denkwêreld van die digter ingelei en algaande ontdek mens die onverwagte verwantskappe wat daar bestaan tusssen entiteite en begrippe; en hoe ons as mense in verband staan met die wêreld om ons.
In die volgende kort gedig kom die leser die abstrakte idee van herinneringe teë wat onder Tranströmer se hand lewende entiteite word wat kan sien en asemhaal.
Minnena ser mig
En junimorgon då det är för tidigt
att vakna men för sent att somna om.
Herinneringe kyk vir my
Een oggend in Junie wanneer dit te vroeg is
om op te staan, maar te laat om weer te slaap.
Ek moes uit die struike kom, versadig
met herinneringe, en hulle oë volg my.
Hulle is onsigbaar, hulle versmelt heeltemal
met die agtergrond, presies soos ’n trapsuutjies.
Hulle is so naby, ek hoor hulle asemhaal
die voëlgeluide is oorverdowend.
Om beter te verstaan
Elke vertaler het sy eie benadering tot vertaling en werk vanuit ’n eie filosofie ten opsigte van hierdie moeilike bedryf. Hoe kan jy ’n greep kry op die digter wat jy wil vertaal, se werk? Hoe kom mens agter die kap van die byl? Een van die strategieë wat ek volg om ’n digter beter te verstaan, en dus beter te vertaal, is om gedigte te skryf in die styl en toonaard van die bronteks, om as’t ware te skryf asof ek die oorspronklike digter is.
John Dryden (1631 – 1700), die groot Engelse digter, dramaturg, kritikus en vertaler en die eerste Poet Laureate, het hoofsaaklik uit Latyn vertaal. In die sewentiende eeu was dit algemeen aanvaar dat klassieke Latyn en Grieks die tale van fyn beskawing is en modelle is waarvolgens ’n goeie skrywer moes skryf. Dryden het interessante menings gehad oor vertaling. Sy idee van “imitation” is hier ter sake.
John Dryden oor nabootsing of naskrywing*:
“I take imitation of an author … to be an endeavour of a later poet to write like one who has written before him, on the same subject; that is, not to translate his words, or to be confined by his sense, but only to set him as a pattern, and to write, as he supposes that author would have done, had he lived in our age, and in our country.”
Ek het hierbo gepraat van die tegniek wat ek aanwend om ’n digter wie se werk ek wil vertaal, so goed as moontlik te verstaan en te internaliseer. Die doel is om ’n ’n gedig te skryf wat so oortuigend is dat dit miskien sou kon gesien word as ’n gedig van die Sweedse meester. Dit moet as’t ware in die spore volg van die digter wie se werk vertaal moet word.
Ek praat dus van ’n “volgvers”, ’n vers wat die aard en gevoelswaarde van ’n ander digter so noukeurig as moontlik volg. Om dit te demonstreer, volg hier nou so ’n gedig wat ek geskryf het. Dit is in die styl van ’n tipiese Tranströmer-gedig geskryf en is gebaseer op die tweede strofe van sy gedig “Afgesonderde Sweedse huise”. Maar eers Tranströmer se gedig.
Svenska hus ensligt belägna
Ett virrvarr av svarta granar
och rykande månstrålar
Afgesonderde Sweedse huise
‘n Wirwar van swart spardenne
en smeulende maanstrale.
Hier onder lê die kleinhoewe
en dit lyk leweloos.
Tot die oggend-dou murmel
en ‘n ou man sy venster
– met bewende hand – oopmaak
en ‘n uil uitlaat.
En in ‘n ander rigting
staan ‘n nuwe gebou en stoom
met die wasgoed-skoenlapper
fladderend op die hoek.
In die middel van ‘n sterwende woud
waar die vermolming
deur ‘n bril van sap
die bedrywigheid van houtboorders lees.
Somer met vlasblonde reën
of ‘n enkele donderwolk
bokant ‘n hond wat blaf.
Saad skop in die aarde.
Oproerige stemme, gesigte
vlieg in telefoondrade
op verkrimpte vinnige vlerke
oor die vleiland myle.
Die huis op ‘n eiland in die rivier
broei op sy klipfondament.
Aanhoudende rook – iemand verbrand
die woud se geheime papiere.
Die reën wentel in die lug.
Die lig slinger in die rivier.
Huise op die hoogte hou toesig
oor die waterval se wit osse.
Herfs met ‘n swerm spreeus
wat die dagbreek skaakmat.
Mense beweeg styf
in die lamplig se teater.
Laat hulle geen vrees ken nie
die gekamoefleerde vleuels
van God se energie
opgekrul in die donker.
Religieus by uitsondering
Tranströmer roer ’n hele paar punte aan in hierdie gedig. Behalwe die ou man en die uil is daar die aanduiding van ander mense, die ander huis met wasgoed aan die lyn. Dan kom die natuurbeelde, die woud, vermolmde hout, saad in die grond, wolke. Dan weer tekens van die mens in die landskap, die telefoondrade en die huis op die eiland. Aan die einde van die gedig kom ons uiteindelik ander mense teë – maar hulle is “styf” en laat mens dink aan marionette soos hulle beweeg in die “lamplig se teater”.
Hierdie is een van die min Tranströmer-gedigte waarin ’n religieuse element eksplisiet en duidelik na vore kom: “God se energie opgekrul in die donker”.
Ek het ’n “volgvers” geskryf wat konsentreer op net twee van die idees wat in die Sweedse gedig voorkom. Die ou man en die uil. Hier is die gedig:
Uilgesprek
Vanoggend sluimer die huise nog.
die uil kyk
die vreemde dag in.
Stadig syfer
die donkerte weg
in die mond van gister.
Sneeu is die wit van wange
net waar die son skyn,
elders is dit blou
en byna die swart
van die Baltiese See in Desember.
Die ou man
kyk uit deur die krakende luik,
soekend na die uil.
Hulle het ’n gesprek gedroom
wat nie afgesluit is nie.
Die gesprek is ’n trein
wat deur die nag geloop het,
alle sinjale geïgnoreer het.
Die wind leun
’n stuk bleek koerant teen die heg.
Daar is ’n opskrif:
Dit is gevaarlik
om asem te haal.
Ek het ook ’n tweede volgvers geskryf wat ander klemme lê, Die ou man en die uil bly sentrale karakters.
Bestuiwing
Die ou man
in sy hemelsblou huis
maak die venster oop
en laat die uil uitvlieg.
Hoër en hoër vlieg die uil.
Onder hom
trek die landskap saam,
’n kuslyn verskyn, dan
word die ronding van die aarde sigbaar.
Vastelande staan bruin uit
teen die donkerblou see.
Die aarde is ’n groot bol,
geil van lewe
in die swart heelal.
Kleiner en kleiner
word die bol
tot dit ’n ligpunt is
tussen eindelose ander.
Die uil vlieg
onvermoeid
tussen die sterre deur,
swenk weg van suiende donker kolke,
ver verby woedende novas,
draai rond hier en daar
om sonne met troppies planete,
soek
na nog ’n uil.
Die byl kap
Om mee af te sluit, bied ek ’n derde volgvers wat ek geskryf het in navolging van Tomas Tranströmer. Hierdie een verwys nie direk na ’n spesifieke gedig of strofe nie. Hierin het ek daarna gestreef om die soort beelde en atmosfeer te skep wat ek dink Tranströmer sou kon gebruik het.
In hierdie gedig kom daar ’n ontmoeting en ’n gesprek voor tussen ’n mens, die weduwee, en ’n voorwerp, die klavier. Dit is die soort terloopse surrealisme wat tipies is van die Sweed. In sy gedig, “Die paleis” is daar iets soortgelyk. Die spreker in daardie gedig beland in ’n groot, leë saal waar daar ’n standbeeld van ’n perd is. Maar in die loop van die gedig blyk die standbeeld lewendig te wees en het baie duidelike en sterk menings van sy eie.
Ek verbeel my ek sien Tranströmer, met ’n byl in die hand, kap aan ’n dennestomp, besig om ’n beeld daaruit te dwing. Ek kyk en kyk en verbeel my ek begin effens agter die kap van sy byl te kom.
Morgon och piano
Det är kallt nog
för havet att tysta
gråmusik med vita måsar,
spridna musik noter.
Oggend en klavier
Dit is koud genoeg
vir die see om stil te lê,
grys bladmusiek met wit meeue
as verspreide note.
Die klavier kom met swaar pote
afgestap teen die steil trappe
na die hawe.
Dit neurie ’n andante
wat Chopin nooit gekomponeer het nie.
Onder op die kaai
gaan staan die klavier kortasemig
en knoop ’n gesprek aan
met ’n weduwee wat nog daar wag
vir niemand wat kom nie.
Die Baltiese lug
val uit oor die landskap,
nog klam van die seeswelling
om die kus van Runmarö.
Uiteindelik laat die klavier die weduwee toe
om ’n paar note te druk –
hulle beweeg stadig weg
die yl oggend in,
geklee in die donker pakke
van afgetrede skeepskapteins.
* Uittreksel uit John Dryden se “preface to his translations of Ovid’s Epistles, 1680”.