Verskeie definisies van “die woord” is al geformuleer. Byvoorbeeld: dat dit dié deel is tussen die morfeem en ’n sintaktiese frase. Of dat dit die kleinste betekenisvolle linguistiese eenheid is wat selfstandig gebruik kan word. Daar is egter al jare nie sekerheid oor die definisie van “die woord” nie. Bazell1 skryf in 1958 dat daar geen ander item is waaroor daar minder ooreenstemming is nie. Dit blyk dat ‘n universele definisie van ‘n woord dus tans nie moontlik is nie.
’n Artikel in Wikipedia som dit só op:
“’n Riglyn van wat ’n prototipe van ‘n woord is, kan só geformuleer word:
‘n Woord is ‘n (relatief) stabiele, promiskue (kan met ander woorde verbind) fonologiese struktuur wat integriteit het en wat met ‘n (relatief) stabiele semantiese struktuur geassosieer word. ‘n Woord is ook semanties en fonologies onafhanklik.”
Hier het ons nou ’n uiters skraal taalkundige bespreking van “die woord” en ons sit met die gevolgtrekking dat daar nie ’n alomvattende en finale definisie van “die woord” bestaan nie. Hierdie feit skrik geen digter af nie – woorde is trouens die “boumateriaal” waarmee die gedig geskep word. Elke digter het waarskynlik ’n effens ander begrip van hierdie boumateriaal waarmee hy of sy werk. Kom ons kyk hoe verskillende digters in verskillende tale die woord benader.
Octavio Paz
Hoe werk digters met die woord?
Eerstens, Octavio Paz (1914 – 1998). Hy was ’n Meksikaanse digter wat in 1990 ’n Nobelprys vir sy poësie ontvang het. Hy word beskou as een van die heel belangrikste digters wat in Spaans geskryf het in die twintigste eeu, en hy het ’n groot invloed gehad op Suid-Amerikaanse digters sowel as ander digters in die wêreld.
Saúl Yurkievich (La Plata, 1931— Caumont-sur-Durance, 2005) was ‘n Argentynse literêre kritikus, vertaler en digter wat ‘n intense akademiese lewe in Frankryk en die Verenigde State gelei het. In sy essay “Octavio Paz, ondersoeker van die woord”2 het hy onder andere die volgende gesê oor Paz se benadering tot die woord: “Die woord is ’n weerspieëling van weerspieëlings, ’n beeltenis, skuim; dit kan nie die wêreld beskryf nie, dit verwoord slegs die tydelike wese van die digter, die menslike toestand; dit is ’n teken van ’n wese wat lewe, nie spraak nie, maar suiwer handeling.”
Hier is Paz se gedig, “Die gesproke woord”.
La palabra dicha
Octavio Paz
La palabra se levanta
de la página scrita.
La palabra,
labrada estalactita,
frabada columna,
una a una letra a letra.
El eco se congela
en la página pétrea.
Die gesproke woord
Die woord styg op
uit die geskrewe bladsy.
Die woord,
gevorm soos ’n stalaktiet,
gekerfde pilaar
een letter na die ander.
’n Eggo verhard
op die verklipte bladsy.
’n Siel,
wit soos die bladsy,
die woord styg op.
Dit loop
op ’n draad gespan
tussen stilte en ’n gil,
oor die rand
van streng spraak.
Die oor: ’n nes
of labirint vir klank.
Wat gesê word sê nie
wat dit sê nie: hoe kan mens sê
wat dit nie sê nie?
Sê
miskien is die maagd dierlik.
’n Gil
in ’n dooie krater:
hoe sê mens ataraksie
in ’n ander sterrestelsel?
Dit sê wat dit sê
direk en onderstebo.
Bedenklike denke
orent ment:
krematorium is ’n seminarium,
’n saad is nie ’n daad nie.
Labirint van die oor,
wat jy sê word ongesê
vanaf stilte tot die gil
nie gehoor nie.
Met die eienskap van wetenskap:
om te praat en leer om stil te bly.
Hier lees mens van ’n hele stortvloed van beskrywings van die begrip “woord”: gekerfde pilaar, ’n verharde eggo, ’n gil in ’n dooie krater. Mens kry onwillekeurig die gevoel van ’n soort magteloosheid van die digter – hy bied een na die ander treffende beskrywing van die woord, maar dit is asof nie een hom heeltemal bevredig nie. Aan die einde van die gedig verwys hy na ’n eienskap van die wetenskap: “om stil te bly”. Met ander woorde, as jy iets (soos die woord) nie bevredigend kan omskryf nie, moet jy liewer niks sê nie.
As mens dink aan Saúl Yurkievich se opmerking, “Die woord is ’n weerspieëling van weerspieëlings” besef jy dat die pogings om die woord te beskryf, juis in woorde aangepak word. Die woord moet homself beskryf, en dit lyk of daar nie genoeg objektiwiteit in die woord geleë is om hierin te slaag nie.
In Breyten Breytenbach se “gedig vir woorde” wat op 27 Julie 2018 op Versindaba verskyn het, beskryf hy nie woorde soos Paz in sy gedig nie. Hier het die digter te doen met die handeling van woorde, hulle dinamiek en uitwerking. Die digter “soek nie na woorde nie” want “hulle lê agter my bloed”. Dit lyk of die digter wil aandui dat woorde ’n oer-uiting is wat diep uit die wese van die mens ontstaan: “agter my bloed”.
Dan weer jaag die woorde “sillabes op in die donker”. Nou sien die digter nie net die woorde raak nie, maar ook die dele van woorde – sillabes. Dit is asof mens eers die menslike liggaam bewonder en dan meteens besef dat hierdie funksionerende liggaamsgeheel bestaan uit kleiner en kleiner onderdele – organe, senuwees, selle.
Uit Versindaba 27 Julie 2018:
gedig vir woorde
Breyten Breytenbach
dis nie dat ek na julle wat woorde is soek
(sê wié van wanneer ?)
want ek weet julle lê eweneens
agter my bloed kom klop
aan die sinnelose hart wat al lank
‘n eggokamer van vlerkslae is
en jaag soms sillabes op in die donker
soos die ettering van ou swere
weer bloei
luister
moenie blindemol speel
moenie ophou voel-voel na omlyning
van die herinnerde gesig
in die donker bloed nie
ek sal hier wees soos altyd
(effens vervloek van ‘n té lang reis)
in die leë gedig
om verby genade die holtes oop te hou
en die fees van vlervoëls weer verbeel
vir julle huis toe kom
en indien dit dan moet wees
dat ons ons afwesighede aanneem
is dit ook goed
sweer ek hier met my hand op papier
kyk
in die skryflaai van raaisels
is die goëlaar se handkaart gebore
en weggebêre
(myne ? van wanneer af ?)
neem dit
sodat julle die beweging
na mag maak
om aan die skyn
van volbringing te raak
Pablo Neruda
Pablo Neruda, die Chileense Nobelpryswenner, se begrip van die woord is ook besonder diep gevestig in die organiese, die liggaam en bloed van die mens. Sy gedig “Die woord” (La palabra) kom uit Plenos poderes, 1962 (Volle kragte). Hy sien die woord as “gebore in bloed, gegroei in die donker liggaam”.
La palabra
Pablo Neruda
Nacio
la palabra en la sangre,
creció en el cuerpo oscuro, palpitando,
y voló con los labios y la boca.
Die woord
Dit is gebore
die woord, in bloed,
gegroei in die donker liggaam, polsend,
en uitgevlieg deur die lippe en mond.
Verder en nader
steeds, steeds het dit gekom
van gestorwe vader en van swerwende volke,
van lande gemaak van klip,
wat moeg was van hulle ellendige trekvolk,
want wanneer pyn die pad vat
het die volk geloop en aangekom
en nuwe wêreld en water het verenig
om hulle woord opnuut te saai.
En daarom is die erfenis dit:
dit is die lug wat ons verbind
met die gestorwe man en met die oggend
van nuwe wesens wat nog nie ontwaak het nie.
Nog steeds sidder die atmosfeer
met die eerste woord
gevorm
in paniek en gekreun.
Dit het opgestyg
uit die skadu’s
en tot nou is daar geen donderslae
maar tog donder die ysterklank
van daardie woord,
die eerste
woord wat gepraat is:
miskien was dit net ‘n sug, ‘n druppel
en tog val en val sy kaskade.
Toe vul sinvolheid die woord.
Dit was swanger en gevul met lewens.
Dit was alles geboortes en krete:
bevestiging, helderheid, krag,
ontkenning, vernietiging, dood:
die werkwoord het al daardie magte verwerf
en het bestaan met essensie verenig
in die elektrisiteit van haar prag.
Mens-woord, lettergreep, heup
van groot lig en duursame silwerware,
oorgeërfde beker wat die kommunikasie
van bloed ontvang:
hier is dit waar stilte saamgesmelt is
met die volledige menslike woord
en om nie te praat nie is om te sterf tussen wesens:
taal ontspring uit menshare,
die mond praat sonder dat die lippe beweeg:
die oë is skielik woorde.
Ek vang die woord en steek dit oor
asof dit net menslike vorm is,
sy lyne boei my en ek vaar
deur elke resonansie van taal:
ek praat en ek is en ek kom nader sonder taal
aan die einde van die woorde die stilte.
Ek drink aan die woord, en lig
‘n woord of ‘n kristalglas
daarin drink ek
die wyn van taal
of die oneindige waters,
moederbron van woorde,
en glas en water en wyn
gee oorsprong aan my lied
want die werkwoord is die oorsprong
en dit vloei lewend: dit is bloed,
dit is die bloed wat sy wese uitsê
en so gereed is om uit te groei:
dit gee kristal aan kristal, bloed aan bloed,
en dit gee lewe aan lewe, die woorde.
Neruda benader die woord uit ’n hele reeks hoeke in hierdie gedig. Nie alleen het dit in “die donker liggaam” ontstaan nie, hy besin ook oor “die eerste woord” wat “gevorm is uit paniek” en wat die “atmosfeer laat sidder”. Hy wonder of die eerste woord wat gepraat is net ’n “sug, ’n druppel” was en dan sien hy die woord as “’n kristalglas” waaruit hy “die wyn van die taal drink”.
Daar is nie vir Neruda sprake van ’n finale en onveranderlike definisie van die woord nie. Vir hom is dit ’n reeks ervaringe, beelde en emosies, die grondstof van sy poësie.
Tomas Tranströmer
In skerp teenstelling met Neruda se tropiese, swoel beeldspraak en stromende emosionaliteit, is Tomas Tranströmer (Nobelpryswenner 1990) se gedig gestroop tot op die been. Elke woord in sy twee “formules” pas presies op sy plek en is onvervangbaar.
Vinterns formler
Tomas Tranströmer
Jag somnade i min säng
och vaknade under kölen
Winter se formules
I
Ek het aan die slaap geraak in my bed
en wakker geword onder die kiel.
Om vieruur in die oggend
wanneer die lewe se skoongeskraapte bene
koulik met mekaar gesels.
Ek het aan die slaap geraak tussen swaels
en wakker geword tussen arende.
II
In die lamplig
glinster die ys op die pad
soos spek.
Dit is nie Afrika nie
dit is nie Europa nie
dit is nêrens anders as hier nie.
En dit wat “ek” was
is net ‘n woord
in Desember se donker mond.
“En dit wat ‘ek’ was is net ’n woord”. In hierdie reëls kom ’n essensiēle eienskap van Tranströmer na vore: die digter se menswees, sy identiteit, raak weg in die werklikheid waarin hy homself bevind, hy word deel van die groot geheel en doen afstand van sy indiwidualiteit. Hy word “net ’n woord / in Desmeber se donker mond”. Vir Tranströmer is die woord hier ’n soort geestelike entiteit, iets waarin die mens homself transendeer.
Coral Bracho
Coral Bracho (1951 – ) is een van die bekendste en mees gewaardeerde Meksikaanse hedendaagse digters.
Haar gedig Geheime woord (Palabra oculta) bring weer ’n ander perspektief op die aard van die woord.
Palabra oculta
Coral Bracho
Esta palabra oculta
abre su selva. Su ensortijada
sombra.
Geheime woord
Hierdie geheime woord
openbaar sy oerwoud. Sy ineengekrulde
skadu. Die water in
die alligator
en die lig verdeel. Die gees
kom nader,
fluister, soos ’n muur wat oprys
teen die golwe.
In hierdie kort gedig word “die geheime woord” met meevoerende beelde en metafore beskryf. Daar word nie in die gedig eksplisiet aangedui waarom die woord “geheim” moet wees nie. Dit is die digter se manier om te sê wat aan die begin van hierdie essay gesê is: die woord kan nie finaal omskryf en vasgepen word nie, dit bly ’n geheim.
Onbekende boustof
Mens wonder dan, nadat oor en oor aangedui is dat die woord eintlik ’n onbekende entiteit is, hoe kry digters dit dan reg om gedigte met woorde te maak as hulle nie presies weet wat dit is waarmee hulle werk nie?
Ek kan aan een verklaring dink en sal dit probeer verduidelik met behulp van ’n metafoor. ’n Plant of ’n dier of die mens se selle produseer boustowwe uit die voedingstowwe wat hulle bereik, sonder om te “weet” hoe dit gedoen word. Tog word dit gedoen, onophoudelik en amper altyd foutloos.
Die digter doen dieselfde met die gedig. Dit word aanmekaar gesit met woorde wat die digter intuïtief uit sy of haar onbewuste put, en wat nie volkome deur die digter verstaan word nie. Natuurlik speel die bewuste denke, die intellek ’n groot rol om die gedig te vorm en verstaanbaar en genietbaar te maak vir lesers. Die digter wil die woorde sekere begrippe laat dra en wil hulle met sekere emosies belaai. Maar die essensiële skeppingsproses is die taak van die onbewuste, die skeppende impuls waaruit die woord “opstyg”.
Bronverwysings
Haspelmath, M. 2011. The indeterminacy of word segmentation and the nature of morphology and syntax. Folia Linguistica, 45(2): 31-80.
Paz, Octavio, indagador de la Palabra – https://zonaoctaviopaz.com
Gedigte in hierdie essay is uit Spaans en Sweeds vertaal deur De Waal Venter. Van die gedigte is gepubliseer in die bundels “ Vandag is boordensvol – Pablo Neruda in Afrikaans”, Naledi 2019 en “Alles keer om – Tomas Tranströmer in Afrikaans”, Uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2020.
Dit is ‘n besonder interessante gedig oor die woord. Een merkwaardige beskrywing van die woord na die ander! Ek waardeer ook die skakel na die toonsetting van die gedig. In die toonsetting kan elke woord duidelik gehoor word, iets wat nie in alle sangstukke gebeur nie. Soms word iets gesing en mens wonder hoekom die moeite gedoen is om liriek te skryf – die sanger kon netsowel geneurie het.
Dankie vir hierdie oor die Woord. Vir my is die beste beskrywing Toast Coetzer se gedig, Die Woord, wat dan ook lied is van Buckfever Underground. Ek haal dit aan. Aan die einde is ʼn skakel na die lied.
Die Woord – Buckfever Underground
elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond
elke woord is ’n magneet wat die waansin kom opvreet
elke woord is ’n wapen warm teen jou sy
elke woord trek water uit die diepste grond
elke woord skep lug soos voëls wat vlug met kenne in die lug
elke woord is ’n wurm wat stil verorber
aan elke blaar wat val soos ’n druppel bloed
elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond
uit die tong van ’n mespunt kom moord
uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel
en die plukkers is die punte wat verlief is op kommas
die glans van die woord is die ronding van ’n koeël
die loodboot wat seil soos ’n brief op die see
jy’t jou lewe se tyd om in blind te verdwaal
die gif in jou wond is skaars ’n kwaal
want die woord kom genees al die siektes van die vlees
die woord is die agteros wat verbrand in die kraal
en speke steek deur die koppe van die kinders
’n foon wat lui is blomme in jou ore
elke sin wat klap is ’n vars pan vol goud
elke sprong van jou lippe is plesier in die klippe
die kapkapkap van die lepels en die vurke
en die messe en die borde wat skree
koopkoopkoop
elke woord draai die rat in jou oog net stywer
die drukgang word nouer en nie wyer nie
elke woord is die kraak in die rand van jou kop
die woord vir weeskind die gom wat vassit die spyker wat buig
die pos in die pakkie met die rekkie om
elke woord is ’n sambreel wat oopvou en vertel
elke storie uit die maag is ’n slang wat vervel
elke woord dra die grein van die eeue-oue pyn
die sement en die stene die stof en die puin
die uitbasuin die binnehou die inkerker die uitblaker
die woord haal die hoek uit sy mond en steek dit in die grond
die woord staan halflyf in die water en roep om hulp
die woord was buite toe die wind gaan lê het
toe die mis verdwyn het
toe die nag verseker ’n warm dag beloof het
elke woord gooi duim
in die uitgewiste pad van die vulkane se strepe oor die stomme leë landskap
wat traanbevlek en oorbewei teen die kosmos se roetine wil stry
elke woord se hande ruik na die olie van die pistool onder die kussing
daar gebêre vir wanneer die waansin te veel raak
en die boewe en die vrese en die aansteeklike siektes
met gemak deur die tralies voor die venster invloei
soos die son in die oggend
wanneer voëls teen die dak kom krap
elke woord is ’n pot met kos in ’n skerm aan’t kook,
elke woord is geraam in ys
elke woord herlaai koeëls by die huis
elke woord is ’n wekroep om terug te baklei
elke woord is ’n pleister vir die steekwond in die hart
wat bly bloei want die bloed is te dun om rowe te maak
elke woord is ’n tafelgebed
in ’n huis van winter weemoed en
worshonde skeur jou in twee vanaand
maar die rivier vloei aaneen
is jy ook so alleen as jy sê ‘ek’?
https://youtu.be/8VnCOI1SrFo