Persvrystelling: Tuin van Digters in November 2020 huldig digter, vertaler en skrywer Daniel Hugo
Die negende jaarlikse Tuin van Digters-fees, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, sal in 2020 op 27, 28 en 29 November saam met NB Uitgewers as medeborg by die Breytenbach Sentrum in Wellington sowel as op sosiale media platforms aangebied word.
Daniel Hugo, digter, woordmeester, vertaler, redakteur, keurder, proefleser en vele meer, wat op 26 Februarie 2020 sy 65ste verjaardag gevier het en al meer as 40 jaar deel is van die Afrikaanse literêre wêreld, is die digter wat vanjaar by Tuin van Digters gehuldig sal word.
Die feeskunstenaars is die landskapkunstenaar Estelle Marais van Port Elizabeth, Joubert Stander van die Strand, en Sandra Hanekom van Piketberg. Die opening sal op Vrydag 27 November 2020 in die galery sowel as virtueel plaasvind.
Tuin van Digters word jaarliks in September aangebied op die naweek naaste aan die verjaardag (16 September) van die digter Breyten Breytenbach, wie as skoolkind saam met sy ouers in die gebou wat vandag die Breytenbach Kultuursentrum is gewoon het. Dit sou vanjaar op 18 en 19 September plaasgevind het, maar sal weens die COVID-19 pandemie nou op Vrydag 27, Saterdag 28 en Sondag 29 November aangebied word.
Tuin van Digters 2020 word ook die volgende drie jaar saam met NB Uitgewers as medeborg gehou. Die Dagbreek Trust is steeds die hoofborg van die fees.
Die tema van Tuin van Digters 2020 is grendels slotte sleutels. Soos NP van Wyk Louw in sy eerste reël van Tristia, XIVb geskryf het: “slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:”
COVID-19 het elkeen noodgedwonge nuut en anders laat dink oor die hier wees en die lewe en dood en skep en anders wees. Ook om die sleutels te soek waarmee die grendelslotte binne elkeen oopgesluit kan word op soek na hoe om die sin van ons hier wees en die nuwe normaal te verstaan en dit op skeppende wyse te aanvaar en uit te leef.
Die program van Tuin van Digters 2020 sal bepaal word deur die COVID-regulasies. Dit sal soos in die verlede bestaan uit ’n kombinasie programitems by die Sentrum self (met getal teenwoordiges soos wat die COVID-regulasies vereis) en virtuele/internet item-aanbiedinge en “live streamings”. Die finale program sal in die begin van Oktober aangekondig word.
Die klem van Tuin van Digters sal uiteraard ook val op die inperking en hoe verskillende digters en gewone mense uit alle gemeenskappe die pandemie, die grendeltyd, die angs, die behoeftes, die verwagtinge, die onsekerheid, die toekoms, die situasie, die honger, die samesyn, die geen werk, die geen geld, en die vele ander emosies op verskillende maniere verwerk en in digwoorde weergegee het – en nog gaan doen. Dit sal help om begrip tussen almal wat hierdie nuwe ervaring op verskillende wyses in hulle koppe en in woorde verwerk, te vestig.
Soos in die verlede sal Tuin van Digters met akademiese en ander gesprekke en interaksies – insluitende toonsettings van gedigte – ’n inspirasie vir Afrikaanse digters en liefhebbers van die Afrikaanse digkuns se skeppende vermoëns weens.
Akademiese en tafelgesprekke sal plaasvind oor die belangrikheid van Kaaps as digtaal, die rol van blootstelling van Afrikaans, Engels en isiXhosa – die Wes- kaap se drie amptelike tale – by wyse van vertaling aan die verskillende kultuur- en taalgemeenskappe asook ‘n interessante interaktiewe debat, So jy dink jy is ’n digter, oor wat egte en wat vals poësie is.
Die fokus op Afrikaanse digters en gedigte se vertalings in ander tale en andersoms, spesifiek Nederlands en Vlaams, sowel as die blootstelling van Afrikaans met isiXhosa en omgekeerd sal voortgesit word. Gesprekke sal ook plaasvind met digters van verskeie nuwe digbundels, hoofsaaklik in Afrikaans, maar spesifiek ook bundels wat in Kaaps uitgegee is.
Terselfdertyd sal potensiële onontginde en onontdekte Afrikaanse digters uit die verskillende gemeenskappe blootgestel word aan nuwe idees en skeppendheid en die geleentheid kry om hulle talent op die verhoog (en elders!) te wys. Dit is ’n natuurlike uitvloeisel en belangrike stap vorentoe vir jong digters wat betrokke is by die twee amptelike digkuns-projekte wat deur die Breytenbach Sentrum aangebied word, naamlik Die Hoop-projek van jong Afrikaanse digters by die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington en Diana Ferrus se Mengelmoesdigters.
Die doel van die Breytenbach Sentrum, in samewerking met deelnemende digters, uitgewers, ’n gevestigde skrywersorganisasie soos PEN Afrikaans en ’n borg soos die Dagbreek Trust bly steeds om die Tuin van Digters die geleentheid te maak waar Afrikaanse digkuns en digters op allerlei wyses en vorme en op alle vlakke gekoester word. Terselfdertyd ook ’n plek waar elkeen en almal van alle tale en groepe welkom is om binne hierdie konteks by mekaar en vir mekaar te leer en blootstelling te kry aan dit wat nuut en anders en die toekoms van die taal is.
- Die huldiging van Daniel Hugo sal Vrydagaand 27 November plaasvind net na die opening van die feesuitstalling. Digters wat al gehuldig is, sluit in Breyten Breytenbach, Adam Small, Wilma Stockenström en TT Cloete.
Hugo, wat in Prins Albert in die Karoo woon en ’n doktorsgraad met die titel Die digter en sy middele: ’n Ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans in 1989 verwerf het, het 20 digbundels op sy kerfstok. Die eerste een, Saad uit die septer, het in 1989 by PJ de Villiers verskyn en die mees onlangse een, Openbare domein, in 2018 by Naledi.
Hugo is ook die samesteller van 12 bloemlesings terwyl hy reeds 59 publikasies uit Nederlands in Afrikaans en 15 uit Engels in Afrikaans vertaal het.
Talle akademiese publikasies oor die Afrikaanse letterkunde het ook uit sy pen verskyn. Dit sluit resensies in tydskrifte en koerante oor nuwe Afrikaanse boeke, inleidings by verskeie bloemlesings uit die Afrikaanse letterkunde, Blokboek: Sy kom met die sekelmaan (Hettie Smit, Blokboek: Na die geliefde land (Karel Schoeman), die F. Malherbe-gedenklesing met die onderwerp: Die geheime werking van literêre invloed: D.J. Opperman en D.F. Malherbe, Halala Afrikaans by Protea Boekhuis, 2009 en die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing met die onderwerp: N.P. van Wyk Louw en die geestige vers in “Tristia”.
Hugo het ook verskeie toekennings vir joernalistieke en vertaalwerk ontvang, insluitende die S.A. Akademieprys vir die vertaling van Stefan Hertmans se roman Oorlog en terpentyn in 2017, die Van Ewijck-stigting se prestasiebeurs vir die bevordering van kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika in 2016, die S.A. Akademieprys vir die vertaling van Tom Lanoye se roman Sprakeloos in 2015, Via Afrika se Boekjoernalis van die Jaar in 2004, die S.A. Akademieprys vir hoorbeelde vir die dokumentêre program oor die digter Uys Krige in 1898, ‘n Radio Artes-toekenning vir So is die lewe vir een pond sewe – ’n hoorbeeld oor R.K. Belcher in 1993, en 10 ATKV-radiopryse.
- Feeskunstenaars: Estelle Marais is in die Karoo gebore en woon in Port Elizabeth. Haar uitstalling van landskapkuns by Tuin van Digters 2020 sal die laaste solo-uitstalling van haar loopbaan wees. Joubert Stander van die Strand se miniatuur-werke is geinspireer deur Daniel Hugo se gedigte. Sandra Hanekom is ‘n kunstenaar en kurator van Piketberg wie se intelektueel en visueel prikkelende en uitdagende werk delikaat en hiper noukeurig geskilder is.
(Foto van Daniel Hugo deur Marlene Malan)