M.M. Walters ter nagedagtenis, 1929 – 2020

 

 

 

Met die oorlye van M. M. Walters op 28 Julie 2020 het die Afrikaanse letterkunde `n belangrike kritiese stem en `n beduidende digter verloor.

Walters het graag die storie van sy oupa vertel, ook M. M. Walters, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as die skoolmeester in Moorreesburg deur die Britse owerheid in hegtenis geneem is nadat hy Britse soldate ernstig tereggewys het omdat hulle in die NG Kerksaal gefuif en rumoer het. Hy is skuldig bevind aan inmenging met Haar Majesteit se troepe en na die strafkamp vir “Enemy Undesirables” by Matjiesfontein in die Karoo gestuur. Min het die skoolmeester tóe besef dat sy kleinseun op sy eie manier die status van `n ongewenste persoon sou verwerf en deur baie van sy eie mense byna as `n vyand beskou sou word.

Aan die begin van 2020, toe hy al oor die negentig jaar oud was, het hy `n vers aan my gewys wat in sy bedrieglike eenvoud `n hele verhaal vertel. Dit moet een van sy laaste gedigte gewees het:

 

Elke voëltjie

het sy lied    –

selfs die seevoël

en die kokkewiet.

Of dit nou fraai

of goor of gek is,

elkeen sing maar

soos hy gebek is.

 

Hy self, Matthys Michielse Walters, het deurentyd sy eie lied gesing soos hy “gebek is”, en dit was nie om ander te bekoor of te behaag nie, nóg om by modes of nuwerwetse rigtings aan of in te pas. Hy was van vroeg af aan wars van die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde se dikwelse saamkloekery in groepe en klieke. Toe ek hom op `n dag in die jare tagtig vra of hy van voornemens is om die Skrywersgilde se beraad (in Gordonsbaai, as ek dit nie mis het nie) by te woon, het hy plegtig verklaar: “Ek het my ma op haar sterfbed belowe dat ek nooit `n skrywersberaad sal bywoon nie.”

Hy het deurgaans eenkant gestaan, en die literatuurwetenskaplikes kon ook nie geredelik `n plek vir hom vind by hulle pogings tot netjiese indelings en periodisering nie. In sy omvattende verslag oor “Die poësie van Sestig” wat as `n eerste verantwoorde bestekopname oor dié tema beskou kan word, noem Ampie Coetzee byvoorbeeld `n rits name van digters op wat wél, en ander wat nié tot die kategorie “Sestiger” behoort nie.[1] Ook dié wat in die jare sestig gedebuteer het, is volgens Coetzee nie noodwendig deel van die groep nie; hy noem “debutante van Sestig soos George Weideman, M.M. Walters, P.W.G. Grobbelaar” wat “nie heeltemal as Sestigers beskou kan word nie” en herhaal met nadruk: “veral nie M.M. Walters nie.” (1973: 51)

Walters was `n private, stil  persoon en het `n broertjie dood gehad aan pretensies en geveinsdhede, grootpraterigheid en eiewaan. Hy, wat in so baie opsigte `n egte Swartlander uit die ou boeregemeenskap aan die Weskus was, het maar min respek gehad vir die Afrikaner se kultuurinstellings, van kerkbasare en skoonheidskompetisies tot bombastiese politici en dweperige dominees, van grootdoenerige kultuurleiers tot organisasies soos die FAK, die Nasionale Party of die Broederbond, en les bes die NG Kerk. Ook sy kollegas in die onderwys- en akademiese wêreld, ja selfs en vernaamlik mede-skrywers moes dikwels sy spot verduur.

Hy kon met reg aanspraak maak daarop dat hy miskien die belangrikste satiriese digter in Afrikaans was.

Met die inploffing van Afrikaner-hegemonie het hy een van sy belangrikste teikens verloor. Hy het wel magsmisbruik en verwaandhede van die nuwe bedeling ná 1990/1994 ook gegésel, maar die angel van sy kritiek was nie meer so skerp nie. In sy latere bundels het hy toenemend algemene stommiteite en menslike swakhede uitgelig, soos in die bundel Braille-briewe (2011). Sy skeptisisme met betrekking tot die gevestigde kerk en religieuse kwessies het hy egter tot die einde behou, soos byvoorbeeld in die bundels Sprekende van God of Satan ter sprake, al is die dae toe hy swaarde gekruis het met dr. Koot Vorster of die Kerkbode ook al lank verby. Nietemin sal ek die plesier wat Adam Small se “woera-warra” van die predikant op die kansel vir hom gegee het, nie maklik vergeet nie.

 

Ja, vroeër of later sterf die gode. Vroeër of later

word die brandende bos net as,

word die bulderende stem gewoon donderweer

skrik niemand meer vir die preekstoel se dreigende

so-sê-die here nie, vlieg die wit duif

wat heilige gees was, weg in mites en legendes …

(Uit “In memoriam”, Satan ter sprake: 74)

 

Benewens `n paar bundels satiriese opstelle het Walters ook enkele verhoogstukke met `n satiriese strekking gepubliseer. Hy het ook met die redaksie van vertaalde gedigte uit ander streke, Poësie uit Verre Lande,  asook met sy eie vertalings, byvoorbeeld die pragtige “liedereboek” Shih-Ching (uit die Chinees) gehelp om die wêreldletterkunde aan Afrikaanse lesers voor te stel en sodoende bygedra tot die verruiming van die Afrikaanse poësieskat.

In `n laat gedig, “In die begin was die woord”, wat `n mens m.i. as Walters se poëtiese credo kan beskou, praat hy oor al die verskillende gode (en afgode) wat hy in sy lewe gevolg en gedien     –    en verwerp het. Wat oorbly is die hoogagting vir die poëtiese woord, alhoewel, ironies genoeg, die religieuse dimensie van dié opvatting nie misgekyk kan word nie:

 

[…]

So met die jare voortgesweef deur doolhowe

van gelowe, oorvertellings, mistifikasies,

tot in die mens se miteparadys van saligmakers,

verlossers, heilande wat herrys    –   maar altyd

was dit die woord en die woord alleen wat lei.

Slegs dáárin vind die Groot Verhaal vervulling.

Sy dit op tafels van klip, Babelse gebakte klei,

Egiptiese papirus, perkament,  of selfs onheilige papier,

gevorm met die beitelpunt, griffel, pen of veer    –

dit is die wóórd wat ek as god

bo alle ander gode eer.

(Satan ter sprake: 82)

 

 

Gunther Pakendorf

28 Julie 2020

gunpak@telkomsa.net

 

 

[1] Die artikel is gebaseer op `n lesing is tydens die “Sestigerberaad” by die UK: A.J. Coetzee: “Die poësie van Sestig”, in: J. Polley (red.), Verslag van die Simposium oor die Sestigers. Gehou deur die Departement Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad, 12-16 Februarie 1973. Kaapstad en Pretoria: Human &Rousseau, 1973: 50-78.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “M.M. Walters ter nagedagtenis, 1929 – 2020”

  1. Fanie Olivier :

    Gunther:
    Baie dankie vir hierdie pragtige en raak waardering vir die werk van Thys en die besondere persoon en persoonlikheid wat hy was. Hy was die deeglikste voorbeeld van die egte “polities onkorrekte” skrywer in Afrikaans en dit is waarskynlik ook so dat hy daarom nooit eintlik in die groter/makliker gesprekke na waarde geskat is en sal word nie.

  2. ‘n Heerlike huldeblyk, Gunther, by ‘n hartseer gebeurtenis. En so sluit Walters aan by die geledere van ontslape digters wat nooit die Hertzogprys gekry het nie, maar dit onteenseglik verdien het: Peter Blum, P.J. Philander, Barend J. Toerien, George Weideman, Lucas Malan.

  3. Francis Galloway :

    Walters het ook nie ‘n profiel in “Perspektief en profiel” nie.

  4. Ja, Francis, dit is onverstaanbaar, daardie dawerende afwesigheid in P & P. By my lysie van oorlede digters wat die Hertzogprys toegekom het, wil ek Olga Kirsch voeg.

Los kommentaar

 

*

  •