Onderhoud met Hennie Meyer (Winkel van wanklanke)

 

Alwyn Roux gesels met Hennie Meyer oor sy bundel Winkel van wanklanke. Protea Boekhuis, 2020 

 

AR: Die titel van jou bundel is Winkel van wanklanke. Kan jy ons asb. meer oor die titel van die bundel vertel?

HM: Die titel kom al baie jare saam met my mee. Ek het in 2008 die titel gebruik by my uitstalling by die Tina Skukan-galery en ook by Woordpoort en die Melville Poetry Festival. Dit is vir my ‘n baie mooi naam vir ‘n digbundel. Daar is niks “postmodern” aan die titel nie. Wel  ironie, want die gedigte is juis nie “wanklanke” nie.

AR: Jy het die laaste dekade bekendheid verwerf as een van Afrikaans se mees prominente “konkrete digters”. Kan jy asb. aan die hand van ‘n voorbeeld verduidelik wat konkrete poësie is?

HM: Van die vroegste en bekendste konkrete gedigte is die gedigte van Guillaume Apollinaire in sy digbundel Alcools (1913). Daar het hy onder andere ‘n gedig geskryf oor reën waar hy die letters van die woorde van die gedig gebruik het om die val van die reën voor te stel.

So konkrete gedigte in sy basiese is gedigte waar daar deur middel van die tipografie afgewyk word van wat mens normaal verwag van ‘n gedig, tot gedigte waar daar heeltemal weggedoen word van woorde op papier. Die uiterste ten opsigte van konkrete gedigte  wat volgens my al gedoen is, is die tuin van die digter Ian Hamilton Finlay, genaamd Little Sparta.

AR: Jy het in Nuwe stemme 4 (2010) gedebuteer met ‘n aantal verse. Kan jy ons meer vertel hoe jou digtersloopbaan vorm aangeneem het na hierdie publikasie? In watter ander publikasies het jy gepubliseer? Watter uitstallings was daar in die tussentyd van jou werk? Het jy voorlesings van jou werk voorgehou?

HM: Ek het deelgeneem aan die projek “Oor die einders van die bladsy” van die Noordwes-Universiteit in die maak van kunstenaarsboeke. Ek het  drie of vier vuurhoutjieboksies gevat en  aanmekaargeplak en versies daarin gesit. Ek het ook die gedig “sakdoek as boek” (62-65) ingeskryf as kunstenaarsboek. Die deelnemers moes notas van hulle kreatiewe proses ook ingee tesame met die kunswerke. Die doel daarvan was om sodoende ‘n studie te maak van die kreatiewe denkprosesse van ‘n kunstenaar. Ek het ook in drie tydskrifte gepubliseer, naamlik Pomp, Ons klyntji en A Look Away. Van my verse is ook op Versindaba en LitNet geplaas.

AR: Baie van jou werk daag die grense van die bladsy op interessante manier uit. Kan jy ons asb. meer vertel van die eksperimentele wyse waarop jy gedigte tot uitvoering bring?

HM: Ek is dink gedurig aan maniere hoe ek ‘n gedig anders as net as woorde op papier kan weergee as ek skryf. So het ek onder andere net een dag agter in die tuin gesit en na die duiwe gekyk wat op die gras sit. My ma het altyd sade vir die duiwe gevoer. Toe dink ek dit sal mos nou ‘n goeie idee wees vir ‘n gedig waar die duiwe die saad eet wat eintlik ‘n gedig is. Ek het toe aan die gedig begin skryf. So het die idee van die gedig die skryfproses voorafgegaan. Die gedig “Verse vol vere” het ek op ‘n tennisbaan gebou in Melville tydens die Melville Poetry Festival. Ek het die woorde met sade uit ‘n gieter gegooi. ‘n Vriendin van my het my gehelp dat ons met ‘n meetband presies die regte verhouding kry tussen die woorde. Ek was die aand voos met al my spiere wat seer was. En die duiwe het nie aan die gedig kom eet nie. Gelukkig met die video wat ek gemaak het vir die blog het dit makliker gegaan. En die duiwe het die gedig begin eet. Daar was wel ook ‘n paar probeerslae oor ‘n paar Saterdae voor ons dit reggekry het.

AR: Jou bundel word ook van ‘n webblad vergesel. Kan jy ons meer vertel wat kykers hier te wagte kan wees?

HM: Die webblad (www.winkelvanwanklanke.com) se uitsluitlike doel is om ‘n platform te skep vir die video’s en die oudiogedig wat saam met die bundel ‘n eenheid vorm.

AR: Jy tree dikwels in jou werk op ‘n intertekstuele wyse in gesprek met heelwat van jou digterlike voorgangers. Sodoende lewer jy kommentaar op die tradisie van die Afrikaanse poësie en skep terselfdertyd ‘n staansplek vir jouself as digter. Kan jy ons meer vertel omtrent jou verhouding met die tradisie van Afrikaanse poësie?

HM: Ten opsigte van konkrete gedigte is daar natuurlik my voorgangers Willem Boshoff met sy Kykafrikaans (1980) en die digbundels van Wopko Jensma. Alhoewel ek sinies omgaan met die digters in die gedig “Poets” (52-58) en ook in “Die gedig” (17) en “Geldig” (27), haal ek terselftertyd my hoed af. Deur juis na die digters te verwys, al is dit op ‘n siniese wyse, gee jy mos tog ook erkenning.

AR: Die vorige vraag het spesifiek gehandel oor Afrikaanse digters, maar watter ander digters is vir jou ‘n bron van inspirasie?

HM: Ek het hierdie jaar D.A. Levy se werk ontdek. Die digter Aram Saroyan se spel met woorde spreek baie tot my. Die werk van Augusto de Campos van Brasilië. En natuurlik is E.E. Cummings die Prins van die Konkrete.

AR: Dit gaan seker by konkrete poësie nie net oor digters nie, maar ook oor skilders. Kan jy ons meer vertel van die visuele kunstenaars en hulle impak op jou werk?

HM: Ja, ek glo die visuele kunste het ‘n groter impak op my gedigte gehad as die woordkuns. So het die werk van die visuele kunstenaar Lucio Fontana waar hy die doek sny en ‘n spleet maak in die doek direk gelei tot die gedig “poesie oepsie bedoel poësie” (51). ‘n Ander voorbeeld is die visuele kunswerk “Erased de Kooning” (1953) van Robert Rauschenberg wat die inspirasie was vir die gedig “Poëntjie” (50). Die gedig was oorspronklik ook in potlood geskryf vir die leser om uit te vee. ‘n Ander kunstenaar wat ‘n groot invloed op my gehad het rakende hoe ek na gedigte kyk is natuurlik Marcel Duchamp. Die konsep van “no art must look like art” bring mens dan by die segging “no poem must look like a poem”. My gedig “Geldig” (27) as anti-gedig kan mens direk terugvoer na hierdie idee van Duchamp toe.

AR: Kan jy asb. vir ons een van jou gedigte deel wat jou gunsteling is?

HM: Ek sal seg my gunsteling gedig of die gedig waarop ek die trotse is ten opsigte van die eksperimentele aard daarvan is my gedig “Picasso” (48). Ek het spesiaal kunslesse gaan neem met die uitsluitlike doel om ‘n gedig te skryf wat terselftertyd ‘n visuele skildery is. Ek het eers met die frase “met geil die geel in die leeg agtergrond” gespeel en dit probeer weergee deur verskillende vorms op die doek. Toe het die gedig “Picasso” homself vir my kom gee in woorde en van daar het die kreatiewe proses gebeur.

AR: Geluk met Winkel van wanklanke. Dit is ‘n groot wins vir die Afrikaanse letterkunde. Is daar reeds ‘n tweede bundel in die vooruitsig?

HM: Dankie, Wyn. Miskien.

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •