AVBOB-Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig
Die menigtes
Altyd die menigtes
– ná twee of drie in ’n kamer mekaar aanpraat:
ons wil om die dood
dít of dát of dié stad of daardie ryk
of hierdie nooitvolprese skat besit –
wat huis, haard, bees,
gryse ma en jong, sagte vrou moet los
en aantree.
En dan nóg afstaan:
(hier, waar skoon water eers
soos sluiers oor rante gestroom het)
baie vergruis
baie aan doodsmoorsiekte
baie aan uitsuigsiekte
baie aan maersiekte
baie aan gebrek
baie aan kapmes, klip-teen-kop, woede
baie aan verlang
baie in die trein toe die brug breek
baie aan loesings
baie voor gewere
baie aan die galg
baie aan koekies seep
en van al hierdie menigtes
wou geeneen toe al sterf nie, nie só nie,
nie vir die mans in die kamer se begeerte nie.
© Corné Elizabeth Coetzee, 2020
Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:
https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_
AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB
(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Corné Elizabeth Coetzee verskyn wel.)