Louis Esterhuizen. Die glasblaser (Stemgreep)

Die glasblaser

Voor ’n hoogoond staan hy, bring

die blaaspyp se mondstuk stadig na sy lippe –

speel met ’n oeroue geduld die eerste note

van ’n melodie sonder klank. In die oond vonk

 

’n sterrestelsel uiteen en kyk hy op, gewaar hy

die heelal van lank gelede: die trae lig

van ’n ander leeftyd wat nou neerslag vind

in ’n hulsel sonder vorm.

 

Hy weet hierdie is tyd se geskenk, die lig

wat smelt om stilte op te vang as iets

breekbaar, dog leeg.

 

Soos ’n gedig, die refrein

sonder geluid

 

of beweging. Tydsaam draai hy

die glastrompet

om en om, blaas, draai. Om en om, tuit –

die wêreld gaan hom verby,

blaas, asof

hy nog daar is.

 

[Uit: Louis Esterhuizen. Die gladde stiltes in glas. Protea Boekhuis, 2020]

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Louis Esterhuizen. Die glasblaser (Stemgreep)”

  1. Jacobus Swart :

    In die vers is daar n totale verloor van die self;
    n ode aan die verwondering. Ek eien hierdie gedig
    met trots vir myself toe as deel van my kultuurbesit.

Los kommentaar

 

*

  •