Die gladde stiltes in glas. Louis Esterhuizen. Protea, 2020.
Resensie: Alwyn Roux
Louis Esterhuizen se elfde digbundel, Die gladde stiltes in glas (2020), bestaan uit drie afdelings, naamlik “Steierwerk”, “Buiteligmusiek” en “Grondwaarts”. Die motto tot afdeling een is ontleen aan Milan Kundera se roman The Unbearable Lightness of Being (1984):
Anyone whose goal is something higher must expect someday to suffer vertigo. What is vertigo? Fear of falling? No, Vertigo is something other than fear of falling. It is the voice of the emptiness below us which tempts and lures us, it is the desire to fall, against which, terrified, we defend ourselves.
Die motto is verhelderend ten opsigte van die bundelstruktuur in soverre dit ‘n spanning tussen afdeling een “Steierwerk” en afdeling drie “Grondwaarts” bewerkstellig. Dit is nie dat die digterspreker verskrik staan voor die leegheid (of nie-bestaan) nie; dit wil egter voorkom asof die spreker verskrik staan voor sy eie aangetrokkenheid daartoe. Vergelyk die derde gedig van die gedigsiklus, getiteld “Elegie by die afreis” (103), wat die digter opdra aan sy gestorwe moeder: “jy kyk af in die gang / jy weet aan die onderpunt van hierdie donkerte is jou ma / […] dit roep jou” (r. 1-2, 26).
Die eerste afdeling, “Steierwerk”, impliseer dat herstelwerk aan ‘n gebou gedoen word, wat as uitgebreide metafoor dien, soos gesien kan word in die gedig “Restourasie” (15). In die gedig gaan dit oor die spreker se begeerte om “die gedig [as steierwerk] te vestig / […] teen ʼn stadige verkrummeling” (r. 5-6) (let op die slim woordspel in strofes twee, vier en ses – “stadige verkrummeling” (r. 6), “‘n eie verdwarreling” (r. 12) en “‘n gewaande verduiseling” (r. 17)). Die suggestie van instandhoudingswerk by die gebou word dan op figuurlike wyse gelykgestel aan
… ‘n digterskap waar jy witgekalk nog altyd
bly sirkel in ‘n eie verdwarreling
binne skeefgedrukte hoeke, te luister
na die droë geluid
van sterre –
ternouernood sélf metafoor te word
as weerstand teen ‘n gewaande verduiseling
van val – tot daar heel bo,
dig by die hoogste nok, een is
wat uitkyk
Dit gaan nie oor die strewe om bo uit te kom nie; dit is reeds bereik, maar die gebou (in teken van ‘n digterskap) moet in stand gehou word. Daarom dat die digterspreker “sélf metafoor” moet word om “weerstand” te bied “teen ‘n gewaande verduiseling / van val” (r. 16-18).
Die begeerte om te val word deur die titel van die derde afdeling, “Grondwaarts”, beklemtoon. Dit herinner aan Nietzsche se aforisme §146 in Beyond Good and Evil (1886): “… when you gaze long into an abyss the abyss also gazes into you.” Dié gekyk word deur die bundelmotto, wat ontleen is aan Henning Pieterse se gedig “Liturgie van kristal” uit Die burg van hertog Bloubaard (2000), bekragtig: “As jy lank genoeg na mure kyk, / sien jy dalk ‘n vonk, kristal of glas, / ‘n venster op dit wat is én dit wat was.” Dus word die kyk ook ‘n belangrike motief in die bundel, waarvan dit reeds in die eerste gedig, “Eerste lig” (11), geaktiveer word:
Eerste lig
Met eerste lig maak jy jou oë oop
en besef: die glas water op die vensterbank
is begeerte se uitbeelding
van ‘n samespel tussen vorm en inhoud.
Want soos die glas gevorm is, so die water –
Wat is, was, wat was, verwaas.
So is dit altyd. Jy kyk deur die venster, sien
die dag nader met ‘n eie gedagte
van groen in boom en struik. Opeens
straal die son deur die ruit en die waterglas
vlek hierdie gedig laag teen die muur
in ‘n eie spektrum uiteen.
Die glas onthou immers die vuur.
Nie die water nie.
Die motto word dan ook geïntegreer in die laaste gedig van Esterhuizen se bundel, getiteld “Reën” (122-123), wat op hierdie manier die bundel tot ‘n eenheid snoer.
‘n Sleutelgedig in afdeling een is “Die glasblaser” (19), waarin die digterstaak aan dié van ʼn glasblaser gelykgestel word – vergelyk:
Die glasblaser
Voor ‘n hoogoond staan hy, bring
die blaaspyp se mondstuk stadig na sy lippe –
speel met ‘n oeroue geduld die eerste note
van ‘n melodie sonder klank. In die oond vonk
‘n sterrestelsel uiteen en kyk hy op, gewaar hy
die heelal van lank gelede: die trae lig
van ‘n ander leeftyd wat nou neerslag vind
in ‘n hulsel sonder vorm.
Hy weet hierdie is tyd se geskenk, die lig
wat smelt om stilte op te vang as iets
breekbaar, dog leeg.
Soos ‘n gedig, die refrein
sonder geluid
of beweging. Tydsaam draai hy
die glastrompet
om en om, blaas, draai. Om en om, tuit –
die wêreld gaan hom verby,
blaas, asof
hy nog daar is.
Van Wyk Louw se gedig “Ars poetica” uit Tristia, kan op intertekstuele wyse met dié van Esterhuizen in verband gebring word. Die spreker in Van Wyk Louw se gedig verklaar by die aanvang van strofe drie die volgende:
Eintlik was ‘n fluit nodig,
wat, terwyl jy blaas: trompet word;
en ná trompet: ‘n stad;
én, waar die stád verwilder:
dat dit bloeiende maankraters
word wat uitblom in
bloed en vuurpyl
en afgly na die suiwer syfer
en die beginnende uitsypeling en die begin.
Esterhuizen se ars poëtikale gedig kan gelees word as ‘n gesprek met Louw, waarin die verbeeldingskrag van woorde beklemtoon word. Dit gaan veral oor die ambag van die glasblaser (wat gelykgestel word aan die digterstaak) terwyl dit blyk dat die wêreld die glasblaser verbygaan (vgl. versreël 17). Wat is dan eintlik die nut van skrywe? Is dit alleen maar om met jouself besig te wees? Esterhuizen se digbundel fokus op die ambag van skryf, maar hy maak by uitstek bemoeienis met die mens se daar-wees in die wêreld, wat talle wêrelde deur sy digkuns tot onthulling bring.
Op hierdie noot kan genoem word dat een van die belangrikste motiewe in die bundel dié van weerloosheid is. Weerloosheid nie net ten opsigte van menslike verhouding nie, maar die mens se verhouding met menslike en niemenslike wesens in die omgewing waar hy/sy hom/haar bevind. Die onderwerpe wat die digter aanraak, oorspan vele aspekte, van die natuur en die natuurhistoriese tot die kultuur en die kultuurhistoriese. Verder is ‘n belangrike gegewe ‘n bewus wees van ouer word binne die konteks van ‘n geweldgeteisterde Suid-Afrikaanse werklikheid.
Historiese verhale word deel van die tekstuur van die bundel soos die leser in “Toakaspeler” (18) vertel word van “die stryd van ‘n voorgeslag”; hoe hulle “al die koper uit hul torings verwyder / om tot kanonvoer te smelt” (r. 2-4). Toeligting by die gedig (agterin die bundel) wys hoe tydens voortslepende oorloë in Roemenië die koperklokke uit kerktorings verwyder is om ammunisie van te maak (125). Dit is alleen die narratief wat oorbly (in afwesigheid van die geluid van die kerkklokke) met die gevolg dat die erfenis slegs in “klinker en konsonant” (narratiewe) behoue bly, wat poëties beskryf word as “die houtblokke van ‘n taal / om teen verloopte tyd se beskeie plank / te bly klepel // tot dit die taal sélf is wat hamer word” (r. 5-9).
Die bundelaanbod word nie slegs tot die kultuurerfenis van die mens beperk nie, maar, soos reeds genoem, word die natuur ook verweef as deel van die ryk tapisserie van die bundel. In “Klipgeheue” (21) verklaar die spreker: “Want ‘n klip is tog die aarde se eie dagboekinskrywing / en daaraan vertrou ons toe die inskripsies van ons verblyf / van graf tot monument, van bouwerk tot ruïne” (r. 1-3). Dié gedig laat ook Esterhuizen se voorliefde vir vaste vorms blyk, alhoewel die digter minder vormvas te werk gaan as in vorige bundels. “Aardlesse” (31-32) is ‘n voortsetting van die digter se bemoeienis met die “natuurlike” wêreld – vergelyk die tweede gedig van die siklus van twee gedigte:
2
Teen meer as 1600 km/h draai die aarde
om ‘n eie as, snel teen 30 km/s op sy wentelgang
deur die ruimte. En jy, jy staan
op ‘n berg –
besef hoe eensklaps
die blou bitterbos die heelal
tot stilstand
dwing.
Musikale intertekste is volop in die bundel en dit is veral die musiek van die Estlandse komponis Arvo Pärt wat aan bod kom. “Tintinnabulasie” (56) is geskryf na aanleiding van ʼn swart-en-wit foto van Pärt in 1976; ook word die begrip van “tintinnabulasie” aan Pärt toegeskryf en soos volg in die erkennings uiteengesit:
“Tintinnabulation is an area I sometimes wander into when I am searching for answers – in my life, my music, my work. In my dark hours, I have the certain feeling that everything outside this one thing has no meaning. The complex and many-faceted only confuses me, and I must search for unity. What is it, this one thing, and how must I find my way to it? Traces of this perfect thing appear in many guises – and everything that is unimportant falls away. Tintinnabulation is like this … The three notes of a triad are like bells. And that is why I call it tintinnabulation.”
Ook die gedig “Tabula rasa” (38-39) verwys na ‘n gelyknamige album deur Pärt. Hier gaan die digter interessant te werk deur musiek na poësie te ver-taal. Gaan lees gerus die twee gedigte “1. Ludus: Con moto” (38) en “2. Silentium: Stenza moto” (39) terwyl jy na gelyknamige liedere op Pärt se Tabula rasa luister. ‘n Vergelykende lees van dié twee gedigte, soortgelyk aan die luister van die musiek deur Avro Pärt, dra by tot ‘n leesproses wat die volle kleurspektrum van die gedigte laat sien.
Die spreker in Esterhuizen se verse tree dan ook meermale in gesprek met die groot Afrikaanse digter NP van Wyk Louw – vergelyk “Piekniek op Clifton” (42-43) en “Drieluik” (54-56) vyftig jaar na die digter se afsterwe. ‘n Omdigting van Margaret Atwood se “Notes towards a poem that can never be written” (1981) word voorgehou as “Aanloop tot ‘n gedig wat nooit geskryf kan word nie” (46-50), met die sesde gedig wat die hoogbloei van kriminaliteit in Suid-Afrika onthul: “‘n man en sy gesin kom tuis / sewe rowers wag hulle in: drie met wapens / vier daarsonder” (r. 5-7); “die man op die kombuisvloer in eie bloed, / sy vrou op haar knieë langs hom, rewolwer teen die kop / vir ‘n selfoon / en ‘n skootrekenaar” (r. 13-16). Sardonies volg die slot: “Hierdie gedig / wat onskryfbaar blyk te wees” (r. 25-26).
Die digter probeer ook die komplekse Suid-Afrikaanse werklikheid belig. In “Hawelose weelde” (41) word armoede onder die loep geneem en verken die digter “die rykdom van ‘n kartondoos” (r. 1). In “Skaamte” (44-45), geskryf op 16 Desember 2018, skaam die spreker sigself “vir eenkant toe se leef” (r. 23) met “lemmetjiesdraad, / alarmknoppies en sekuriteit oraloor” (r. 21-22). Een van die hoogtepunte van die bundel is “Puin en as” (61). Dié gedig borduur voort op Lucebert se bekende slagsin, “Alles van waarde is weerloos”, ontleen aan sy “De zeer oude zingt”:
Puin en as
Alles van waarde is weerloos – Lucebert
In Wellington word ‘n oudste saal
brandgesteek en jy lees: De zeer oude zingt.
Lê dan donker se tyd en luister
na die dreunsang van vlamme, die gedruis
van woede wat deur ‘n petrolbom
uit hout en staal bevry is,
gesigloos,
die ouwêreldse plafon, net-net buite greep
wanneer die beendroë klavier
vlamvat, ‘n allerlaaste akkoord speel
met snare wat
pieng! pieng! en jy verbeel jou
grensdrade wat skietgee vir al die wild
om na nuwe kampe
oor te loop,
want watter sin.
Hierdie vraag wat reeds ‘n antwoord is.
Ouderdom en liggaamlike aftakeling is nog ‘n aspek wat in die bundel na vore kom. Hiervan is “Reuke” (59), “Dubbelbollens” (66) en “Handomkeer” (67-70) uitstekende voorbeelde. Nog ‘n hoogtepunt in die bundel, wat by dié tematiek aansluit, is “Seepbelle” (57-58):
Seepbelle
As kind het die ooms stringe seepbelle
vir jou geblaas – oor die grasperk sou dit dryf
op pad na die kweperlaning
straataf en verder
en pligsgetrou sou jy die stringe agternajaag
oor gras en veld, verby hoekhuise,
skoolgrond en kerk, stoptekens en ompaaie,
voetpaaie
en doodloopstrate –
deur grensdrade, dooie grond en hinderlaag
sou jy hulle agternahardloop – deur
troues, strak huise en kraamsaal, horlosie
en beroep tot jy
oplaas, lyfseer en moeg, één
gevang
kry – draai jy
met hande nat van seepwater
om na al die ooms,
sien jy
jou pa, onderwysers, skoolhoof en dominee;
dosente, sammajoor, die hele regiment,
en base: almal, almal,
al die ooms in ‘n versorgingsoord
met borrels spoeg
geseepbel
om iedere skeefgetrekte
mond. Nogeens, soos jou troue aard dikteer,
tree jy aan om al die wange
droog te vee, te troos,
en tog –
soveel leed, soveel drif,
met net ‘n lewensmoeë sakdoek
in jou bebloede
hand.
Uit bogenoemde kan gesien word waarom die afdeling “Steierwerk” heet. Dit is die afgetakelde liggaam, nie net van die mens as individu nie, maar van ‘n groter en geknelde gemeenskap en ‘n verweerde aarde waarop die individu hom/haar bevind.
Die vraag na die betekenis van afdeling twee se titel, naamlik “Buiteligmusiek” kom wl by ‘n mens op. Anders as in afdeling een en afdeling drie, word hierdie gedigte onthul as ‘n komposisie met tema en variasie in veertig bewewgings.
Die motto tot afdeling twee is ontleen aan Avro Pärt: “I could compare my music to white light which contains all colours. Only a prism can divide the colours and make them appear; this prism could be the spirit of the listener.” Dié aanhaling van Pärt skiet eweneens terug na die openingsgedig, “Eerste lig” (11), waarin die spreker met wakker word sien hoe die son deur ‘n glas water skyn in ‘n spektrum kleur teen die muur.
Sou mens die vergelyking vanuit die wêreld van musiek tot dié van letterkunde vertaal, is dit die wit lig van taal wat deur die prisma van die leser moet gaan, om die kleurspektrum van Die gladde stilte in glas tot aanskoue te bring. Dit wil sê, die fragmentariese aard van die gedigte in afdeling twee bied ʼn uitnodiging aan die leser om ʼn aktiewe deelnemer te wees in die skep van betekenisse.
Twee onderwerpe kom deurentyd aan bod in “Buiteligmusiek”, naamlik die liefde vir die beminde en die liefde vir die musiek, wat blyk asof dit buite die strewe van instandhoudingswerk in “steierwerk” en die begeerte na die val “grondwaarts” strek. Dit is egter asof die liefde vir die beminde en die liefde vir die musiek self twee pole vorm, met die liefde vir die beminde wat die digterspreker grondwaarts trek en die liefde vir die musiek iets is wat lig voorkom deurdat dit die spreker wegneem van die aarde. Vergelyk die ongetitelde gedig met die eerste versreël “Om musiek te luister” (80):
Om musiek te luister
tot jy later nie meer weet wat is klank,
wat melodie, of selfs taal nie –
te luister
tot alles net ‘n blou wasem word
teen glas: dan op te staan,
te verdwyn
in refleksies van ‘n sagter akkoord –
In teenstelling met die musiek wat as lig gekarteer kan word, word “die liefde se gewig” soos volg verbeel in ‘n ongetitelde gedig (81):
Nooit vlerke groei en lugwaarts vlug –
die liefde se gewig
is wat jou grondlangs hou.
Die opposisie van lig/swaar herinner aan Kundera se romantitel The Unbearable Lightness of Being, wat soos volg deur die verteller in die roman bespreek word:
“But is heaviness truly deplorable and lightness splendid? The heaviest of burdens crushes us, we sink beneath it, it pins us to the ground. But in the love poetry of every age, the woman longs to be weighed down by the man’s body. The heaviest of burdens is therefore simultaneously an image of life’s most intense fulfilment. The heavier the burden, the closer our lives come to the earth, the more real and truthful they become. Conversely, the absolute absence of a burden causes man to be lighter than air, to soar into the heights, take leave of the earth and his earthly being, and become only half real, his movements as free as they are insignificant. What then shall we choose? Weight or lightness?” (Kundera, 1999: 4–5).
Die derde afdeling, “Grondwaarts”, begin met ʼn motto ontleen aan die Romeense digter Ana Blandiana: “(We) are like sand in the hourglass / Which can be time only in falling.” Dié aanhaling is ontleen aan die gedig, “Condition”, soos vertaal deur Peter Jay:
Condition
I
am like
sand in the hourglass
which
can be time
only
in
falling.
Dié aanhaling sluit tematies aan by “Tyd is” (100):
Tyd is
die rooibekkie
by die ruit met sy lang stert
as pendulum pik-pik
deurentyd teen ‘n spookbeeld in glas
maar die gejil
binnenshuis, die gelag en
lewensvreugde doof
die laspos se stoornis vir ‘n wyle nog
tot slegte nuus
meedoënloos die kleine skrik
deur stil gange sweepslag
en die gepik-pik oplaas in alle geluid
stil word
en die voëltjie
Meeste gedigte in afdeling drie handel oor die komplekse aard van familieverhoudings. In “Glasgeheue” (98-99) vermeld die spreker ‘n herinnering aan ‘n motorkarongeluk: “L’envoi // Jy was slapende op die agtersitplek. / Agter die stuur het jou pa duskant die afdraai huis toe / beheer verloor. Soos jy ook jare later. Dit is / asof jy nooit wakker / kan word nie: die asem se stulping bly / onklaar // tot die blaser sy maaksel in koue water stol” (r. 23-30).
Die reeds vermelde elegie, “Elegie by die afreis” (101-103), opgedra “vir my moeder, 21 Januarie 2016″ is besonder treffend. In “Bloedverwant” (105) word melding gemaak van “twee geliefdes – jul moeder en suster –” wat “binne die yl bestek van maande [sterf]” (r. 1-3).
Dan ook die gedig “Koning Dawid treur oor sy seun” (106), waarin die digterspreker hom vereenselwig met Dawid wat uitreik na sy seun: “En blaai ek die sterre om, / sien ek jou naam uitgespel / in al die sirkels wat deur die son wyer / of nader” (r. 9-10). Dié verlange word voorgesit in “Lamentasie” (108-109) – vergelyk versreëls 12 tot 17:
My seun, my dierbare, geliefde seun,
deel jou wonde met my, want jou het ek nog altyd
in die hart gedra, jou opreg gedien –
praat met my, maak my deel – al het jy my
so vroeg reeds gestroop
van hoop.
‘n Hoogtepunt in dié afdeling is “Vergeetsiekte” (115-117), ‘n lykdig aan Esterhuizen se skoonmoeder. Ek haal die eerste van die twee gedigte aan:
Vergeetsiekte
In memoriam, my skoonmoeder: Ma Didi (1922-2016)
1
Daar is ‘n oewer en daar is ‘n skuit.
Met ‘n dik tou bly die twee aan mekaar gebind.
En die houtpaal anker dit alles –
die een wil weg, die ander wil bly.
Sit jy laatmiddag in die skuit, sien jy
dit is die oewer wat eenkant toe stap tussen bos
en moeras: jy sien die paal as die onthou –
die een wat oewer en skuit,
dit alles
byeen moet hou. Maar water roep die skuit.
Die tou hang slap en die ankerpaal staan skeef.
Die oewer
is nêrens te vind nie.
Wasig word die uitvaart
ingereken by soveel vervlakkings.
In die laaste gedig, “Reën” (122-123), stel die spreker dat die gedig steeds “onklaar” (r. 26) is (wanneer is ‘n gedig dan uiteindelik klaar geskryf?), en wys ten slotte terug na die Pieterse-motto wat die bundel voorafgaan: “by monde van ‘n laaste gedig – / onklaar soos dit is, want / as jy lank genoeg na mure kyk, / sien jy dalk // ‘n vonk, kristal of glas, / ‘n venster op wat is én wat was” (r.25-30).
Die gladde stiltes in glas is ‘n swaar bundel, alhoewel daar ligpunte is. Dit is ‘n bundel waarin die digterspreker veral ingestem is op toonaard en stemming, terwyl opposisies tussen strewe en val, en ligtheid en swaarte op meervlakkige wyse betekenisse genereer. Dit is ‘n bundel wat vanuit die aardse struweling strewe om meer te wees as wat dit is – musiek of lig. Dit is ‘n bundel wat vra om die lig van taal deur ‘n glas te laat skyn sodat die volle kleurspektrum onthul word namate die leser se begrip van die kunswerk verruim.
Bronne geraadpleeg
Kundera, Milan. 1999. [1984]. The Unbearable Lightness of Being. Translated from the Czech by Michael Henry Heim. London: Faber and Faber.
Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg.
Nietzsche, Friedrich. 2001. Beyond Good and Evil. Cambrige: Cambridge University Press.
Reg so, Charl-Pierre.
Geluk met hierdie bundel, weereens. En Alwyn ek gaan nou jou resensie lees.