Versindaba kompetisie vir vertaalde gedigte (40)
Ted Hughes. Vertaling van Engels in Afrikaans. Vert. deur Waldemar Gouws.
Die engel
(Met apologie aan Ted Hughes)
In my droom het ek iets rampspoedigs gesien.
Die volmaan het kom neerstort op Agulhas.
Kalkbleek Agulhas het in fosfor gekook.
Agulhas was ‘n krater aan die uitbars.
Die vlamme het gelyk of hulle sukkel. Toe het ‘n dagende gloed
rysend uitgelig gekom en boontoe gewriemel –
en dit was ‘n malgas so groot soos ‘n stad!
Veels te swaar vir die lug het dit al beurende na my toe aangekom,
laag oor die strandveld by Struisbaai.
En dit was nie ‘n malgas nie.
Dit was ‘n engel gemaak uit rokende skuim.
Haar lang rok het om haar enkels gewapper,
haar kaal voete net-net bo die veld onder haar
wat gegloei het soos die nagwolk oor Kaapstad.
Ma, het ek uitgeroep, Ma tog, daar is ‘n engel –
is ons geseënd? Toe het my ma se antwoord
daardie skoonheid skielik in verskrikking verander.
Ek het gekyk of die engel nie dowwer sou word en onmoontlik gaan wees nie.
Maar die enorme skoonheid wou nie uitdoof nie.
Sy was in brandende metaal gegiet. Haar stralekrans
was ‘n enigmatiese vierkantige karos
waarvan die soomfraiings golwend aan die beweeg was soos ‘n tongvis.
Ek het nie geweet wat daardie vreemde hooftooisel beteken nie.
Totdat hierdie ontsaglike voorbode, met strak vlerke,
uit my oog verdwyn het, Swellendam se kant toe,
onder die veld weggesak, en my donkerte leeg gelaat het.
Toe ek ‘n volgende keer daardie vreemde vierkantige karos sien
het ek my hand uitgesteek en daaraan geraak.
Toe ek ‘n volgende keer staan waar ek in my droom gestaan het
was daardie woorde van my ma,
verbind met die bodem en gegraveer in klip,
onder my voete.
***
The Angel
Ted Hughes
In my dream I saw something disastrous.
The full moon had crashed on to Halifax.
Black Halifax boiled in phosphorus.
Halifax was an erupting crater.
The flames seemed to labour. Then a tolling glare
Heaved itself out and writhed upwards –
And it was a swan the size of a city!
Far too heavy for the air, it pounded towards me,
Low over Hathershelf.
And it was no swan.
It was an angel made of smoking snow,
Her long dress fluttered about her ankles,
Her bare feet just cleared the moor beneath her
Which glowed like the night-cloud over Sheffield.
Mother, I cried, O Mother, there is an angel –
Is it a blessing? Then my mother’s answer
Turned that beauty suddenly to terror.
I watched for the angel to fade and be impossible.
But the huge beauty would not fade.
She was cast in burning metal. Her halo
Was an enigmatic square of satin
Rippling its fringed edges like a flounder.
I could make no sense of that strange head-dress.
Till this immense omen, with wings rigid,
Sank out of my sight, behind Stoodley,
Under the moor, and left my darkness empty.
When next I saw that strange square of satin
I reached out and touched it.
When next I stood where I stood in my dream
Those words of my mother,
Joined with earth and engraved in rock,
Were under my feet.
Bronverwysing:
Hughes, Ted. (1979) 2011. Remains of Elmet. London: Faber and Faber (pp.67-68).