Marlies Taljard gesels met Joan Hambidge oor haar bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Imprimatur, 2021
Marlies Taljard:
Joan, ek het pas jou nuwe bundel, “Konfessies, kaarte en konterfeitsels” van Imprimatur ontvang en moet jou gelukwens. Die bundel is stylvol en professioneel uitgegee en ek het dit ‘n uitdagende dog bevredigende leeservaring gevind.
Die titel is ‘n baie sterk gemerkte plek in enige teks in die sin dat dit die drempel is waardeur die leser die teks betree en dus tot ‘n mate die leser se indruk en verwagting van die teks rig. ‘n Goeie titel verskaf ook ‘n sleutel ter ontsluiting van die teks.
Wanneer het jy die titel vir jou bundel gekies (voor, tydens of na die skryf daarvan) en hoe speel dit in op die bundel as geheel?
Joan Hambidge:
Die aanvanklike titel was Astrak. Twee lesers het tereg gemeen dit aktiveer Opperman se werk te veel, ofskoon hy natuurlik in hierdie bundel staan. Opperman is en bly naas Van Wyk Louw en Eybers kragtige pole in my digkuns.
Die titel het daarna gebeur – die bundel is begin in 2016 na die dood van my moeder en daarna is HJ Snyman oorlede, ‘n kenner van die digkuns. Sy Mirakel en muse is my belangrikste rigtingwyser oor hoe mens die digkuns behoort te benader. Ek het ook ‘n tweede PhD onder sy leiding in 2000 voltooi oor genderkonstruksies.
Konfessies soos in belydenisse; kaarte soos in reise en konterfeitsels soos in leuens of verdraaiings. Die digkuns werk met taal en semantiese prosesse.
MT:
Ek het “Konfessies, kaarte en konterfeitsels” gelees as ‘n uitgebreide gesprek met ‘n gestorwe moeder. Dikwels elegies, soms besinnend en soms bloot geselsend – dikwels ontroerend, hoewel nooit sentimenteel nie. Die omslagfoto van die bundel is van ‘n vrou wie se gesig gedeeltelik in skadu gehul is met die oë neergeslaan. Die buitelyne is vaag en die beligting sag. Die vrou wat hier afgebeeld is, sou die argetipiese moeder kon verteenwoordig. Hoe praat hierdie foto saam in die gesprek van gedigte in die bundel?
JH:
Hierdie foto van my moeder as jong vrou versinnebeeld alle moeders. Ek het dit by my suster gekry voor die grendeltyd met ons laaste Kersfeesvieringe.
My moeder (soos my vader) loop regdeur my digkuns. Die eerste vers in Hartskrif is uit die verre New Haven aan haar gerig.
Hierdie bundel moet waarskynlik as ‘n antwoord gelees word op my bundel Dad waarin ek die dood van my vader en daardie verlies navigeer.
My moeder het ‘n geweldige invloed op my intellektuele ontwikkeling gehad. In die laerskool het sy ons vir ses maande lank tuisonderrig toe ons by die see gewoon het waar geen skool was nie.
MT:
Uit die bundel is dit duidelik dat daar dikwels (dalk meestal) na ‘n spesifieke persoon verwys word in gedigte oor die moederfiguur. Ek dink hier, onder andere, aan gedigte in Afdeling IX waarin daar byvoorbeeld by name (“Jacoba Cornelia Maré”) na die moeder verwys word. Die gedig “Pase 2018” (p.84) is ‘n gedig oor die bekende Franse feminis en psigoanalis Julia Kristeva: “blootlegger van die chora” (…) / “ikoon, / psigoanalis, / Madam Sollers, / teoretikus, / abjektis, / Sabina”. Ook elders: “ek slaan my Kristeva oop / skil die woorde af / tot by soveel genderidentiteite.” (p. 96). Sou dit verkeerd wees om te beweer dat die gedigte oor die moeder in hierdie bundel ook op ‘n ander, teoretiese, vlak funksioneer? Dalk as reis ín en verkenning van die chora?
JH:
Inderdaad. Die moeder aktiveer moedertaal en die chora (baarmoeder) van poëtiese taal. Kristeva se Desire in language en al haar tekste oor taalteorie doseer ek al jare lank saam met die werk van Jacques Lacan, Derrida en natuurlik Cixous ook.
Ina Gräbe, die ander belangrike invloed op my siening van poëtiese taal, het my daarop gewys dat my gedigte werk met teorie.
MT:
Joan, jou hele oeuvre word gekenmerk deur byna oordadige verwysing na ander digters, literêre werke, films, musiek, kunswerke en kunstenaars. In die eerste paar bladsye kom ek byvoorbeeld af op verwysings na die Bybel, na Heilna du Plooy se roman Die taal van been, Gregoire Boonzaier, frases uit gewilde volksliedjies, Heather Dubrow se Genre en verwysings na die Klassieke (Prometheus, Skilla en Charibdis), ens.
Eerstens, die vraag wat ek myself dikwels afvra wanneer ek onervare digters se werk lees: Wat is die doel van die intertekstuele verwysings in jou werk (en natuurlik ook in goeie gedigte oor die algemeen)?
JH:
Intertekste is sleutels na ‘n ander letterkundige sisteem, dalk? Ek het pas die belangrike handleiding van Kim Addonizzio te wete Ordinary Genius (W.H. Norton, 2009) gelees. Hierin beklemtoon sy hoe gedigte altyd verwys na ander gedigte. Party digters steek dit goed weg; by ander sien jy dit duideliker raak.
MT:
Tweedens, die vraag wat studente graag vra: Is intertekstuele verwysings in gedigte (veral sonder behoorlike bibliografiese verwysings) nie plagiaat nie?
JH:
Daar is ‘n biobliografie agterin en waarna openlik verwys word, is in die openbare domein.
Het Eliot nie reeds hierdie kwessie afgehandel in The wasteland nie? Hy het immers na Franse en bekende middeleeuse tekste verwys wat sy geslag geken het. Gaan lees gerus D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok, die eerste werklike postmodernistiese teks in Afrikaans en kyk hoe hy werk met verwysings. En Tristia – Louw took no prisoners … Dit sou ‘n hele lywige boek in beslag neem om al die intertekste van hierde tekste te publiseer.
MT:
En derdens: Maak verwysings na (byvoorbeeld) onbekende teoretiese werke, onbekende kunstenaars of films, asook aanhalings in vreemde tale soos Latyn en Frans nie jou werk ontoeganklik vir ‘n bepaalde lesersgehoor nie? Doen digters dit doelbewus om ‘n soort superioriteit te suggereer?
JH:
Weer eens: vir wie skryf jy jou verse?
My teikengehoor is daardie digters en geleerdes – lewend en dood – wat Latyn, Frans, Spaans, usw. kon lees. Mense soos HJ Snyman kon Middelnederlands lees. Ek lees elke Latynse grammatika en ander grammatikaboeke. Louis Eksteen se sinoniem/antoniem-woordeboek verklap waarskynlik hoe ons algemene skryftaal al verskraal het.
Iemand soos W.E.G. Louw, ‘n voortreflike dosent, kon Italiaans, Frans en Nederlands vlot praat en lees. Die semantikus Meyer de Villiers was eweneens vele tale vaardig.
Daardie geslag geleerdes kon sonder om te hik of kik ‘n woord se stam verduidelik. T.T. Cloete kon Hebreeus en Grieks lees. Hy het homself Frans geleer en in ‘n stadium selfs Frans gegee toe daar ‘n dosent nodig was om in te staan.
My teikenleser is altyd daardie soort geleerde met wie ‘n digter by implikasie praat. Wat sou Opperman hiervan gedink het?
Johann de Lange is altyd my eerste en strengste leser.
MT:
Ek moes glimlag toe ek sien hier is nóg ‘n reeks gedigte oor Marilyn Monroe (p.69-73). Die Monroe-gedigte (dink ek) het met TT Cloete begin, maar het sedertdien dikwels in jou eie werk verskyn. Hoekom skryf jy dié gedigte, en by herhaling?
JH:
Marilyn Monroe is ‘n argetipiese figuur.
Vir my simboliseer sy ongelukkigheid, ‘n lewe geleef waaroor sy geen beheer gehad nie. Jacqueline Rose, die bekende psigoanalis en bekende vertolker en vertaler van Lacan, skryf in A rumbling of things unknown hoe dit haar sielsongelukkig gemaak het dat sy altyd die dom blondine moes vertolk, terwyl sy intelligent was. Almal kon tog sien dat Tony Curtis en Jack Lemmon mans is in vroueklere in Some like it hot, maar sy moes saamspeel.
https://www.lrb.co.uk/the-paper/v34/n08/jacqueline-rose/a-rumbling-of-things-unknown
Vir die rekord: sy is ook ‘n politieke simbool, omdat haar dood onopgelos is en waarskynlik gekoppel was aan vuilspel. Was dit selfmoord of moord? Ons sal nooit weet nie …
Johann de Lange het vir my die foto aangestuur waar sy in haar kamer lê. Hierdie foto spreek boekdele.
Marilyn Monroe: stillewe in wit
Weggedraai van die kamera
die foto van ’n lyk,
met merke, yke
op die rug uitgekerf,
bly sy slaap daardie slaap
van die rusteloses
ingebed en ingelê.
Oordosis of moord?
Die mes van die lykskouer
die hand van elke digter
(en speurende leser)
soekend na antwoorde
of uitsluitsel
in gedig na gedig:
ontleders, agoniste,
poësie-paparazzi
en ander oopvlekkers
staan langs dié bed
nes die priester,
afwesig en gebedloos,
druk toe aan die leuens
op die imperium se bevel.
Pyn het geen protokol,
dekorum of maniere:
Dis ’n ongenooide gas
waarop die rug
kilbloedig iets
soos ’n sug
van ontvlugting slaak.
’n Bottel slaappille
langs die skrynende
instrumente wat
moes oopmaak
en nooit weer
heelhuids
sou kon toekry
nie, nooit weer nie.
’n Onopgeloste saak
met digtende jurielede
terugkerend, soekend
na haar én die oerakkoord:
lewe onverbiddeliker
as dié konserf.
MT:
Ook die gedigte oor ander beroemdes en bekendes is nou reeds eie aan jou werk. In hiedie bundel byvoorbeeld Maria Callas, David Bowie, Leonard Cohen en Cassius Clay. Wat fassineer jou aan sterre en ikone?
JH:
Hulle is moderne gode. Ons leer uit hul lewens.
Callas se verstommende sangtalent, Bowie die verkleurmannetjie, Cohen die digter en sanger, Cassius Clay wie se verstommende talent deur siekte uitgewis is.
Ons moderne gode is ook mense, maar ons leef en leer deur hul ikoniese werk.
Skilders skilder portrette; hierdie is portretverse.
MT:
Watter “reëls” wat jy vir jou studente in Kreatiewe Skryfkuns stel, het jy met die skryf van “Konfessies, kaarte en konterfeitsels” oortree?
JH:
As ek hierdie vraag kon beantwoord, sou ek nie die bundel kon skryf nie.
MT:
‘n Laaste vraag: Watter gedig was vir jou die moeilikste om te skryf (en hoekom), en watter gedig in die bundel dink jy is besonder geslaagd (weer: hoekom)?
Die gedig “Aflegging”, omdat ek die dood van my moeder en die impak daarvan vierkantig in die gesig moes staar.
2
Aflegging
Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag;
daar waar jy nou vertoef in ‘n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, Moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaareinde.
’n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar het jy klavier gespeel
in jou huis met ’n tuin vol blomme en struike.
Later al reisend het ek uit vreemde ruimtes
jou opgebel en uit ’n koue New Haven ’n gedig
gepos, ’n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dit van jou jeug wat ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van ’n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in ’n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos ’n mens ’n e-pos delete, ’n brief opskeur …
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep.
En watter geslaagd is al dan nie: daaroor moet die lesers self besluit.
Ek hou van die Pase-vers oor Kristeva – ‘n dubbelloop-gedig soos in haar gesprek met Philippe Sollers.
jh
Klik hieronder op die skakels om te luister hoe lees Joan Hambidge enkele gedigte uit “Konfessies, kaarte en konterfeitsels”: