Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Deur Joan Hambidge. 2021. Imprimatvr. ISBN 978-0-620-90397-4
Resensie: Bernard Odendaal
Die opnoeming wat met alliterasie gepaard gaan in die titel van hierdie nuutste toevoeging tot Joan Hambidge se digoeuvre – haar bundels tel nou al sowat twee dosyn – suggereer tegelyk verskeidenheid én samehang.
Die opskrif van die bundel kan trouens gesien word as merker van meer as net die tematiese, stilistiese en selfs vormverskeidenheid wat daarin onderdak gebring is. Talle kenmerke en bekende motiewe uit haar werk, en die verweefdheid van dié bundel daarmee, word ook in die gedagte geroep. Op ʼn manier is dit ʼn digterlike samevattingsblik wat gebied word, bykomend beklemtoon deur die verwysings na en aanhalings uit vorige bundels van haar (naas, op nou al kenmerkende wyse, dié van ʼn magdom ander skrywers) wat oral opduik.
In Konfessies, kaarte en konterfeitsels val die belesenheid van Joan Hambidge as akademikus en leesavonturier dus weer eens op. Die talle motto-aanhalings en ander intertekstuele toespelings, die aanhalings in en ontlenings uit ʼn verskeidenheid tale, die inspan van teoriekonsepte en vakterminologie, spreek algar hiervan. As leser moet jy, as jy nie reeds Hambidge se wye verwysingsveld deel nie, bereid wees om na te lees en na te slaan as jy wil saamreis onderweg na sin in ʼn gedig soos die een waarmee die bundel afgesluit word. Ek haal, naas die titel, net die openingstrofe daarvan aan.
Viaticum
Carthago delenda est?
Op hierdie reis stap ek verby
die Al Kasbah-moskee
terug tot by die Av. H. Bourguiba,
die vreemdklinkende name
soos ʼn klip in my skoen:
in simplicitate cordis?
Die tour de l’horloge wys tyd,
die St. Vincent de Paul-katedraal
staan stoets op ʼn kerkhof waar die dooies
tydloos rus, ruggespraak hou,
soos jy wat immer
vir my proviand verskaf het
en steeds bly doen
met my hart op my mou
elisie én illusie
tussen aankoms en vertrek
ʼn sakrament van verlies.
Daar is min reisdigters in Afrikaans wat by Hambidge kan kers vashou. Die woord “kaarte” in die bundeltitel dui al aan dat dié motief weer belangrik is. Sulke reise is, om by twee gedigtitels uit afdeling IV te leen, van sowel “uitwaartse” as “inwaartse” aard, meermale gelyktydig so. Wat eersgenoemde betref, is dit hierdie keer veral Suid-Amerikaanse, Noord-Afrika- en Verre-Oosterse bestemmings wat aangedoen word. In die vyf gedigte uit die reeks “By Jeroen Bosch se triptieke” (afdeling IV) kom nog méér wêrelddele ter sprake. Vraagstukke oor die eie kunstenaarskap tree, by wyse van gesprekvoering met ʼn mentorfiguur (“HJS”), hierin tesame met dié oor Bosch s’n na vore. Ook indrukke uit ʼn buurlandse besoek val met digterskapbesinnings saam, naamlik in ʼn gedigtedrieluik (“Landskap: Namibië”) uit afdeling VIII. Laasgenoemde sluit, met ʼn kopknik rigting D.J. Opperman, met welluidende Namibiese plekname –“Aftelrympie” – maar waarvan die slotsom aan voorspelbaarheid mank gaan:
Pas, hoogte,
kloof,
vlei, berg,
noutes
hier in soveel
tale uitgekerf.
Sulke ars poetica-gedigte, die “konterfeitsels” waarvan in die bundeltitel en in die gedig “My moeder praat met haarself” gewag gemaak word, en waarvolgens “die waarheid geleuentaal” kan word (“Marilyn Monroe en Arthur Miller”; oorspronklike kursivering), is sterk aanwesig, in ooreenstemming met wat ʼn mens al leer verwag het van opvolgende Hambidge-bundels. Die gesprekke wat aangeknoop word met “HJS” in hierdie verband, is al genoem. Dié “geliefde mentor”, soos hy bestempel word in die gedig “Pase”, is wyle Henning Snyman, in lewe ʼn gesiene literator aan onder andere die Universiteit van Kaapstad en wat besonder insigryk oor die digkuns kon skryf. Hy was voorheen Hambidge se studieleier en reeds in vroeër bundels ʼn gespreksgenoot vir haar. Hy is sowat vier jaar gelede oorlede, enkele maande ná Hambidge se moeder, juis in die tyd toe die gedigte in Konfessies, kaarte en konterfeitsels aan ’t ontstaan was (aldus Hambidge self, in ʼn onderhoud wat elders op hierdie webblad verskyn).
Op besonder boeiende wyse word, met benutting van Julia Kristeva se konsep van die chora soos dit slaan op die vroegste stadium van psigoseksuele ontwikkeling, in meerdere gedigte verbande gelê tussen die lewegewende potensiaal van die baarmoeder en van die gedig – in beide gevalle, helaas, van onvermydelik tydelike aard. Hiervan is die volgende gedeelte uit gedig 5 van die reeks “Die grein van die stem” (afdeling I), met ’n ironiegelade woordspeling aan die heel einde, ʼn sprekende voorbeeld:
Nege maande
en drie dae lank
het ek geskuil
in jou moederbuik.
Terug in die chora
skandeer ek die verliese
in my –
die afwysende moeder,
die liefhebbende moeder,
die versorgende moeder,
die treurende moeder,
die moeder wat vertrek …
En hierdie gedig,
ʼn swart sonar skerp belig,
voorspel
ʼn posisie
fataal.
Verwant hieraan is die “matriosjka-” oftewel skilpop-motief wat in enkele gedigte opduik (“Pase 2018”; gedig 3 uit die reeks “My moeder”), naamlik as beeld van identiteit-veelvuldigheid. Ek “skil die woorde af / tot by soveel genderidentiteite”, skryf Hambidge in laasgenoemde gedig. Op pynlik ontroerende wyse word die vervreemdende van sodanige (her)definiëringstrewe bely in “Immigrant”, waarvan enkele strofes soos volg lui:
Stuksgewys word jy afgeskil,
ingedwing, uitgevang:
Daar is stof op jou skoene.
Deeglik besin en afgedwing
om ou verwysings en verswygings
vir oulaas weg te boen.
[…]
Nou is daar net die inlaut oor,
die binneklanke van taks
en taksering.
Verduur die proses,
hoe duur die proses
van ʼn opname:
die self geskei
van die krassende self.
Hambidge het haar reeds dekades gelede naas Johann de Lange gevestig as ʼn rigtinggewende verkenner en vertolker van die gay-belewing in die Afrikaanse digkuns. In hierdie bundel vind die gendertematiek ʼn besonder skrynende uiting deurdat dit, veral in die gedigte waarin die oorlede moeder aangespreek word, belig word in terme van matriargale en ander familiale rolverwagtinge. Sulke apostrofiese “konfessie”-gedigte – om weer die bundeltitel te betrek – veral dié in die reeds vermelde reekse “Die grein van die stem” en “My moeder”, maar ook enkele familiegedigte in afdeling X, behels myns insiens die ware hoogtepunte van die bundel.
Daarom dat Konfessies, kaarte en konterfeitsels as ʼn waardige teenhanger gesien kan word van die versameling vaderfiguur-gedigte wat Hambidge in Dad (2006) byeengebring het. Vandaar ook dat Hambidge die volgende twee versreëls uit “My ouers”, ʼn gedig wat by haar 2015-bundel Matriks ingesluit was, bevestigend kan aanhaal in gedig 3 van die “My moeder”-reeks: “Haar stem die metrum van my verse, / sy hand die vorm van my verse.”
Dit was nie net Hambidge se “geliefde mentor” wat haar akademies en digterlike gestimuleer het nie. Die aansporing wat van haar oorlede moeder uitgegaan het, was van ewe deurslaggewende belang vir haar in hierdie opsig – hetsy, meermale, in rebelse reaksie op geykte verwagtinge.
Ars poetica
My ma lees vir ons voor
uit Little women;
niks van dié verhaal
kan ek nou onthou nie:
net haar poging om my
in optima forma te kry,
ek versamel spinnekoppe
en bestudeer reptiele
in die buitelug
agter hierdie verhaal om
bou selfs ʼn plastiekmodel
met ʼn padda se binnegoed
netjies inmekaar gepas
soos ʼn perfekte gedig,
wat al die bloed en derms
moet afwas, uitwis, uitgooi,
wegsteek, weghou,
sodat die eindproduk,
met Bostik aan mekaar geplak,
pienk en groen en rooi geverf,
paraat op ʼn staandertjie kan pas.
Daar het toe dadels
van my ma se vermanings gekom.
Haar moeder was en is vir haar in bepaalde opsigte, so skryf Hambidge in die eerste gedigdeel van die genoemde tweeluik “Landskap: Namibië”, “ʼn split-scene-konfigurasie”. So ʼn konfigurasie behels die instelling van, byvoorbeeld, ʼn selfoon sodat die voorwaarts fotograferende kamera en die truwaartse selfie-kamera tegelyk werk.
Verdere aangesprokenes in Konfessies, kaarte en konterfeitsels is Hambidge se bekende digterlike geprekgenoot Johann de Lange (in “Landskapvers”), maar ook, op nou al verwagte wyse, nasionaal en internasionaal bekende figure van dikwels populêr-kulturele allure (in afdeling VII). Aan Marilyn Monroe word daar selfs drie gedenkgedigte afgestaan – ʼn tragiese vroueseksualiteitfiguur oor wie “poësie-paparazzi” (“Marilyn Monroe: stillewe in wit”), waaronder ʼn aantal Afrikaanse digters, “kloekmoedig bly dig” (“Marilyn Monroe en Arthur”). Sulke “ikoon”-gedigte (luidens “Dawid Bowie [1947–2016]”) bevat dikwels egter ook iets konfessioneel met betrekking tot Hambidge as mens en digter self.
Die feit dat die afdelings genommer maar ongetiteld is, kan gesien word as aanduiding dat die gedigte in hierdie bundel rondom bepaalde tematiese fokuspunte gegroepeer staan sónder dat sulke indelings streng afbakenend funksioneer. Die “konfessies”-, “kaarte”- en “konterfeitsels”-motiewe duik, telkens in ʼn mindere of meerdere mate verweefd, dwarsdeur die bundel op.
Plek-plek is gedigte ingesluit wat myns insiens esoteries aandoen – soms weens die moeilik agterhaalbare interteks-verwysings daarin (in “Chirografie”, byvoorbeeld), ander kere weens dubbelsinnige (troebele?) stelwyses. Ter illustrasie van laasgenoemde haal ek die openingsin van “Moeder: jeugfoto” aan:
Op ʼn ou vergeelde foto sit my moeder,
tot nou onbekend vir my, die kyker,
op Kersdag 2017, ʼn nakyk, stil nagelaat
met ander beelde aan haar erfgename.
Is dit die foto of die moeder wat “tot nou onbekend vir my” was? Eersgenoemde, veronderstel ʼn mens aanvanklik. Die sintaktiese nabyheid van “moeder” en “onbekend” laat egter deurskemer dat laasgenoemde waarskynlik ʼn faset van (ook) die moederfiguur benoem. En van wie kom die “nakyk”? Van “die kyker” (die “ek” in die gedig)? Van die moeder op die vergeelde foto? Albei?
In ʼn gedig oor haar oorlede moeder se “gewoonte om kajuitraad / te hou met haarself in die kombuis” (“My moeder praat met haarself”) wonder die digter, met implikasies vir haar eie (en alle) digterskap, oor die relevansie en nut van sodanige “intieme binnespraak”: “Wat is hierdie selfpraat of soeke tog / vir ʼn Ideale-leser-of-toehoorder?”
Wel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels het my díkwels geboei en ontroer. As bundel van die hand van een van ons bekendste literator-digters is dit ʼn bydrae wat ek, die enkele punte van moontlike kritiek ten spyt, kwalik sou wou sien ontbreek op my poësierak. Dit gaan dié plek van onmisbaarheid inneem langs vier ander publikasies deur Afrikaanse veteraandigters by die jonge Imptimatvr-uitgewershuis: Pirow Bekker se Aan die deur van die wis en die onwis, Dolf van Niekerk se Berigte uit die skemerland en Johann Lodewyk Marais se Insektarium en ander gedigte en Veldboek.