Joan Hambidge. Illness as metaphor
Illness as metaphor
Binnewaarts immer bewus,
soos buitewaarts, van siekte slopend
kenner van die metafoor,
wys jy op al die trope vir ongesteldheid.
In die Cimitière du Montparnasse,
word jou graf druk besoek, dog afsydig gehuldig.
Jou afgetakelde liggaam – sonder toestemming – gefotografeer
deur haar, ‘n vulkaniese geliefde.
Oor jou laaste dae, skryf jou seun, David Rieff,
hoe leukemie, jou lyf oorwin
sonder om daardie wit vlag ooit te hys.
Wat sou jy van die nuwe, onsigbare oorlog maak?
Hierdie virale aanval, dalk ‘n Sarajevo, ‘n Wagtend-op-Godot?
Of ontglip dit alle interpretasies?
Op ouderdom twintig glo
was jy die eerste keer in ‘n sinagoge.
Ongelowig, skepties, afsydig,
behalwe oor die mag van foto’s, die liefde,
politieke hebsug; jy, Susan Rosenblatt, pionier
van vrye spraak en volledig één-saam afgeneem
teen die New Yorkse skyline
voor 9/11 alles finaal sou omkeer.
Wat sou my vanoggend na die lees
van Rainier Maria Rilke inspireer
om oor jou én ongesteldheid te skryf?
Dalk dat engele nooit sonder
demone kan regeer?
© Joan Hambidge, 2021