covid-19/2021
dis ’n vreemde seisoen dié
’n aandklokreël lui doof
en sonder tong oor spookstrate
as ek snags my woorde inspekteer:
voetsoldate, my bataljon vol ridders –
mag my liefde jou beskerm
teen die gespeekte blom
op my bevel sal jy landmyne
systap, want ek ontplooi my woorde,
ook die beseerdes; dít gee ek
geskenk aan die leser – ek het nog
altyd mildelik gebloei
soos rose
laat my woorde
wagstaan oor jou naam: ek plaas jou
in ’n aller-, allerhoogste nis,
heilige kwarantyn en verskans
my metafore in Jerigotrompette
wat atonaal oor slagvelde
en Covid-psychoma ween
ek ryg ’n patroongordel vol juwele
ja, ek dans nakend, net
my bandelier met verse
voor jou deur
maak oop, beminde
die verweerwond het uitgeblom
© Nini Bennet, 2021