disteltyd deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis, 2021.
Resensie: Stefan van Zyl
In 1970 sluit Marlise Joubert, toe ongeveer 24 jaar oud, haar debuutdigbundel, ʼn Boot in die woestyn, met die volgende vers af:
Só is my vingers (pp. 60-61)
Só is my vingers
verminkte planete
maar wandelend deur ruimtes lig
brandend donker en dis jammer
dat my haat heel is en hél is
oor dit waarin my woord geen bestaan het
oor dit waaroor my bloed wetend strek
álwetend maar los sinnig
los en leeg soos niet
en só is my voete
windgewaaide bote oor woestyne
niemandswêrelde van wit verlore strande
en dis jammer dat ek sleepvoetend reis
korrels land en dorp en gesigte sluk
maar nêrens
nêrens spore trap
te wéét dat ek is ek.
Waar die jong digter in hierdie introspektiewe vers voel dat sy “sleepvoetend reis” en “nêrens spore trap” nie, wéét literêre fynproewers dat die einste digter, nou deurweek van lewenservaring, wel spore in die Afrikaanse letterkunde gelaat het.[1] disteltyd (2021) is Joubert se tiende (en volgens haar die laaste) digbundel in ʼn poësie-oeuvre wat strek oor ʼn tydperk van 51 jaar.
Titel, voorblad, motto’s
Die titel van die bundel aktiveer gelaagde betekenisse wat aansluit by die tema van verganklikheid wat, soos in haar bundel Grondwater (2019), regdeur die bundel resoneer. ʼn Distel word beskou as beide ʼn blom en ʼn onkruid en hierdie ambivalensie vind ook neerslag in die verse in Joubert se selfverklaarde swanesang. In een van die vroegste iterasies van die Victoriaanse blomwoordeboek, The language of flowers (1834), word die distel gelykgestel aan ʼn persoon se vermoë om sigself te beskerm en die gepaardgaande koeplet lui soos volg:
Free to herself my potent mind remains,
Nor fears the victor’s rage, nor dreads his chains.
In ander weergawes van hierdie blomwoordeboek word die distel met die woord austerity verbind. Gelees in die konteks van die tematiese inhoud van die bundel is dit uiters gepas aangesien ʼn distel dikwels interpreteer word as simbool van die vermoë om ontberings danksy veerkragtigheid te oorkom. Vanselfsprekend word ʼn distel ook met pyn geassosieer en in disteltyd is die pynlike besef van verloopte tyd onderliggend aan byna al die verse. Voorts dui die samestelling met die woord tyd in die titel op die digter se komplekse verhouding met hierdie verloop van tyd wat onvermydelike veroudering, die dood en al die emosies en belewings wat daarmee gepaardgaan meebring. Daar is deurgaans by haar die besef dat sy nou, op 75-jarige ouderdom, haar “disteltyd” betree.
Die woord distel herinner egter ook aan die woord distilleer wat in die alkoholbedryf verwys na die suiweringsproses deur middel van verdamping wat gevolg word deur kondensasie. Joubert se sober poëtiese kondensering van die komplekse abstrakte psigiese prosesse wat die alomteenwoordige bewustheid van verganklikheid kenmerk, vind neerslag in toeganklike verse waarmee Afrikaanse lesers van enige ouderdom kan identifiseer.
Die voorblad, ʼn foto deur die Amerikaanse fotograaf Jim Larimer getiteld Delft Blue, is ʼn stillewe wat gelees kan word as ʼn soort memento mori met die gekraakte Delftse blou vaas en die distels wat disintegreer. Beide objekte toon tekens van verweer en word dus simbole van tydsverloop en die sigbare verwering wat dit laat.
Die bundel word met twee motto’s ingelui. Die eerste is ʼn aanhaling uit die Amerikaanse digter Theodore Roethke se vers “In a dark time” (1961). Roethke vra in die volledige weergawe van sy vers die vraag “Which I is I?” wat Joubert in die laaste versreël van “Só is my vingers” eggo: “te wéét dat ek is ek”. Die verwysing na “a dark time” is ook toepaslik in die lig van die huidige Covid-19-pandemie waaroor Joubert uitgebreid in disteltyd skryf.
Die tweede motto kom uit die vers “Die lied van die gebreekte riete” in Ingrid Jonker se debuutbundel Rook en oker (1963):
Die wind uit die Torwanna-berge
met haar skoot vol mos
dra ʼn slapende kind
dra ʼn nag van distels
dra ʼn dood sonder duisterheid
Joubert brei die distel-metafoor uit in haar vers “afsondering” (p. 96) wat handel oor die nasionale inperking in Suid-Afrika by die aanvang van die pandemie:
[…]
my hare het lank geword
soos ʼn heuningbruin rivier
waarin die dae grys pluime spat
en ek disteldryf, ek dommel
verby alle verlate landskappe
soos al die jare van die wêreld
ek gee oor aan die nivellerende
niks, word een met die aarde
se liggaamlose wond
Afdelings
Die bundel bestaan uit ses afdelings en hoewel temas in verse oorvleuel, is daar tog ʼn soort ordening. Die eerste afdeling bevat herinneringe aan die digter se ouers en haar kinderjare, verse oor en vir haar kinders en kleinkinders, die verlies van ʼn niggie wat weens kanker sterf, sowel as gedagtes oor die dood en veroudering. Die natuur speel ʼn sentrale rol in die tweede afdeling en die digter se vermoë om fyn waar te neem word hier vervleg met die belewing van liefde, veroudering, die dood en herinneringe aan plekke soos Rustenberg, Devon Valley en Groenpunt, asook ʼn vers getiteld “nuwejaar” wat terugkaats na ʼn gelyknamige vers in haar debuutbundel. Joubert se ars poëtikale beskouings kom in die derde afdeling aan bod met verse wat handel oor ander verse, (dooie) digters en die digproses – altyd met die ondertoon van aflegging en veroudering. Hierdie temas manifesteer ook in die vierde afdeling, maar dié keer met ʼn fokus op vrouwees, liggaamlike belewing en hedendaagse gruwels soos geslagsgebaseerde geweld (“agter geslote deure”). Een van die mees aangrypende verse in die bundel, “nagboekgesprek”, word in die vyfde afdeling aangetref. Hierdie narratiewe vers is in die vorm van ʼn lang brief aan die digter se ontslape moeder (Didi Joubert). Op hartroerende wyse bied Joubert ʼn blik op enkele fragmente van haar moeder se lewe deur na laasgenoemde se dagboeke te verwys. Die afdeling word afgesluit met ʼn vers getiteld “gedagtig aan ma” wat ook in die bloemlesing I wish I’ve said (2020) opgeneem is. Afdeling vyf herinner voorts aan die vers “Jou kind huil my ma” in ʼn Boot in die woestyn. In die laaste afdeling word die tema van verganklikheid verder verken teen die agtergrond van die huidige Covid-19-pandemie.
Poëtiese stylkenmerke
Al 57 verse in die bundel is vrye verse wat bes moontlik konkrete vergestaltings is van die digter se eie vrye gees en denke. Daar word wel dikwels van interne rym gebruik gemaak (byvoorbeeld “vanoggend het die lelies diepviolet / in jou naam oopgegaan” (p.17)) en soms word eindrym onverwags aangewend: “en vandag staan kranige bome soos ʼn kring / van groen troebadoere om my – hulle sing” (p. 25). Heelwat van die verse het ʼn gedrae ritme wat gevoelens van nostalgie en melankolie versterk, soos in die versreëls “want hier het die son in die waai / van ʼn bloekom nesgemaak / soos ʼn lamp se vlam / en lang skaduwees / oor tafels kom hang” (p. 51). Joubert het die vermoë om met sorgvuldig gekose woorde helder beelde voor die geestesoog op te roep (“daar was ʼn stem soos klaviere wat oor / ʼn afgrond kletter toe ek tien jaar oud was” (p. 22). Veroudering, verganklikheid en tydsverloop word dikwels uitgebeeld met seisoenale metafore soos winter en herfs, maar ook met meer konkrete verskynsels soos roes. Nes die ambivalente aard van die distel, is daar egter ook ligter oomblikke (“staptog”) en sprankies hoop (“instandhouding”) regdeur die bundel verweef.
Laatwerk
Vanuit gerontologiese perspektief beskou is die bundel ʼn voortsetting van die tendens in Afrikaanse letterkunde waar ouerwordende digters toenemend sogenaamde laatwerke die lig laat sien. Helize van Vuuren (2014:692) skryf in haar artikel, D.J. Opperman se laatwerk, die volgende oor hierdie verskynsel:
Die laaste periode in die werk van kunstenaars, soos musici of skrywers, is ʼn tyd waarin hulle in die aangesig van die dood óf sereen voortgaan soos tevore, óf in die boeiendste gevalle, wars van enige gerigtheid op die leser, in groot haas hul laaste werk lewer, dikwels met minder aandag aan die vorm as aan dit wat hulle wil oordra en vir hulself wil uitwerk. Soms kry begenadigdes dit reg om in hierdie laaste moeilike fase, óf naby die dood óf veroorsaak deur siekte of psigopatologie, verstommende meesterwerke te lewer.
Volgens my lees en interpretasie van die verse in disteltyd is die bundel ʼn kombinasie van hierdie twee strominge: die verse is uiteraard meer gerig op die digter en dit wat sy wil oordra of verwerk, maar dit gee nie die indruk van gejaagdheid nie. Daar is eerder ʼn nugtere aanvaarding van die universele onafwendbare wat soms met ʼn tikkie verset daarteen afgewissel word. In verse soos “as ek tagtig word”, “verwintering”, “aflegging” en “veroudering”, word dit duidelik dat die digter deeglik bewus is van haar eie veroudering en die biologiese, psigiese en sosiologiese uitdagings wat daarmee gepaard gaan:
veroudering (pp. 60-61)
wat jy ken omdat jy verken het
verloor jy weer en ná jare soek jy terug
vind slegs die vae beweging van iets
wat het van ons geword, vra jy nou
watter stroom het die sagte
mond van seisoene uitgewis
waarheen is die dae
asof tyd ons nooit sal verwinter nie
was dit ons op die rotse by die see
langs ʼn swembad in ʼn nag
was dit jy of was dit ek in die wildernis
met bome omheen soos hutte vervleg
in die syfering van lig
soos woorde wat oplos in water
. stent die klank
in ʼn sleutelgat vas
want ons hoor net
. die dinge wat vertrek
ʼn trein se gekletter deur die nag
ʼn vliegtuig, ʼn voël of kind
wat weer die pad moet vat
soms verstar ek
voor die donker spieël
wat op ʼn naat lyk na die deursigtige
deksel van ʼn sarkofaag
onder ingekerfde patroon
kyk ek vas in ʼn eie
verskrikte gesig
Die (beleë) liefde (as ewige teenvoeter vir veroudering en verganklikheid) kom ook in dié bundel (opgedra aan haar man, die digter Louis Esterhuizen) aan bod:
eendagwens (p. 47)
eendag is ek nie meer
hier of daar nie –
en dan, geliefde, wil ek
soos ʼn spits denneboom
driehoekig voor jou staan
neem my dan
astraal in jou op: geletsel
met repe droë bas tot by
die toppunt van hoogtes
van hierbenede na die bowêreld
soos hande sal elke kegel
palmkaal voor jou voete val
ruik my in die oksel
van die denneboom
streel die immergroen naalde
se wasbedekte nerwe
sien my in elke oggend
wat uit die landskap stoom
veral in die uitspansel
van jou nagblinde oog
Hierdie versugting is ook in ooreenstemming met ʼn vroeëre vers, getiteld “Boom” in ʼn Boot in die woestyn. Hoewel die 1970-vers in ʼn heel ander tyd en konteks geskryf is, is dit tog interessant om kennis te neem van die manier waarop die metafoor in die hedendaagse konteks terugkeer. Dié terugkerende metaforiek en tematiek verleen ʼn sikliese aard aan die digter se oeuvre wat op sigself ook ʼn uitgebreide metafoor van haar lewe word.
In disteltyd distilleer Marlise Joubert die lewe tot essensie in eerlike verse oor haar lewe sonder om in oormatige sentimentaliteit te verval. Die bundel is ʼn “woordhuis” (p. 106) gevul met “bonsaïese verse” (p. 54) wat aan elke liefhebber van die Afrikaanse poësie ʼn genuanseerde blik op die brose, dog distelagtige aard van die menslike toestand bied. As deurwinterde digter kan Joubert berusting vind in die wete dat haar fynbesnede bundel nou “in goeie aardse hande rus” (p. 88).
om te sterf (p. 20)
toe ek snuiterend jonk was
het ek nooit aan die dood gedink nie
daar was wel die dooie kat of hond
die wrakskippie van ʼn voël
en die winterblaarskelet
van ʼn verkleurknapie in die geut
geen mens wat ek geken het
of nabydae gedeel het,
het ooit gesterf nie, en salig
was dit om vreesloos die werf
en berge beenmoeg te speel
noudat ek oud en lamleefsiek
my ure traag tegemoetgaan, dink ek
elke dag aan die dood, hoe dit deur
luike spoel, oor dakpanne dans,
om hoeke grom, kastig paai as
die wind my mond oopwaai
om te sterf is daagliks
die bitter brood oopgesny
die voetspoor wat my gesig
grond-in trap, ratelslange weerlig
wat my onverhoeds in spieëls verskrik
en niks, niks is nét meer sotsalig nie
nogtans klou ek aan suutjiesgras
stik uitgerafelde some in seisoene vas
en as bebloede wimpers van ʼn nag
my boek finaal sluit, onthou my dan
in die papier se ritseling
wees goed vir my in die geheue
van ʼn eie, nerfgeskaafde huis
[1] Hoewel daar dikwels gemaan word teen die lees van ʼn digter se verse as outobiografies, kan daar, weens die onteenseglike raakpunte tussen die inhoud van die verse en sekere bekende biografiese gegewens van die digter se lewe, met sekerheid aangeneem word dat die digter en die ek-spreker in disteltyd dieselfde entiteit is.
Asemrowend.