Resensie: Drol innie drinkwater (Churchil Naudé)

 

 

 

Drol innie drinkwater deur Churchil Naudé. Naledi, 2020.

 

Resensie: Stefan van Zyl

 

In Nuwe Stemme 6 (2017) word Churchil Naudé, rymkletser van Mitchell’s Plain, as een van die nuwe stemme in Afrikaanse poësie geïdentifiseer. Sy vers “Die woord” (pp. 30-32) het toe reeds die toon van sy poësie aangegee en met die opname daarvan in sy debuutbundel, Drol innie drinkwater (2020), verander dié nuwe stem, wat sedert die begin van die vorige dekade via klankgelowe gehoor kan word, in ʼn gevestigde stem op papier:

 

[…]

as jy die woord wil rangskik volgens jou soort en volgens jou tipe
dan sê ek bring nog bietsie sout en bring bietsie piepe’
sodat ek hierdie woord wat jy so liefhet
kan besmet met verkoue en uitheemse griepe

ek is’ie drol innie drinkwate’
die gat innie sinkplate
wat jou woord kom besmet met ongesertifiseerde prate
wat jou woord se siel aan die duiwel wil ve’koep
wat die woord dikgesyp maak met vrot wyn op my stoep
wie is jy om die woord gevange te hou in jou teorieë
jou instansies
jou kerk

[…]

 

Die bundel bevat 51 verse waarvan sommige die lirieke van songs op sy albums Kroeskop vol geraas (2015) en Kroesifaaid (2018) is. Hoewel die voorblad in skakerings van blou is, is die oorheersende kleur wat vanuit die verse voortvloei die van bloed wat direk verband hou met die veelvuldige identiteit- en maatskaplike kwessies wat onvermydelik deel van Naudé se belewing van die Kaapse Vlakte is. Die vers “Die bloed” (pp. 14-16) beklemtoon hierdie tematiek:

 

[…]

as die bloed by jou vloei
vloei my trane j
want die goed binneʼn jou
is die goed in my
want die bloed binneʼn jou
is’ie bloed in my
yes
hoe gaan j bloed stry

 

Die digter se komplekse verhouding met die spanning tussen Standaardafrikaans en Afrikaaps (waarin al die verse geskryf is) is een van die duidelikste merkers van veral die identiteitkwessies wat in die bundel hanteer word. Die vers “Praat saam met my” (pp. 86-87) is ʼn sprekende voorbeeld van hierdie spanning en verduidelik waarom Naudé homself as die spreekwoordelike “drol in die drinkwater” (of “rooiwyn op ʼn nuwe mat”) van Afrikaans beskou:

 

[…]

hulle sê hei! gebruik my taal suiwer en korrek
en ek sê hei! hou asseblief tog net jou bleddie bek

[…]

 

In aansluiting hierby spreek die digter voorts die volgende (sarkastiese) versugting uit in die vers “Die mooi-mooi gedig” (pp. 20-22):

 

ek wil graag ʼn mooi gedig skryf
sonder kru taal
sonder issues
wat ander belas en bemal
met perfekte Afrikanernasionalistiese suiwer
spierwit
wit Afrikaans
wat mense in Welkom en ander omliggende dele nie sal walg nie

[…]

 

Sou hy egter in Afrikaaps skryf, antisipeer hy die volgende:

 

[…]

maar dit sal seker die taalpuriste verknor
hulle brullende bekke vermor
ʼn morbiede moraliteit
ons publiseer net
winsgewende winsdrewende winskopie-kommoditeit
die vierde apie sit-sit met ʼn pen sonder ink
dan dig digters nie wat hulle dink
dan kan die riviere stil-stil verdrink
dammetjies begin stink
stagnant
ongesertifiseerde verdagte gedagtes
is verbode om hier te plant
neerhalende opmerkings is konstant
kom ons hou ʼn kompetisie waar net mooi poësie ʼn goue medaljetjie
en ʼn gedenkplaatjie kan
wen wen wen want
ons het kontant

[…]

 

Uit die aangehaalde verse blyk dit duidelik dat Naudé as die “antoniem vir onderdanig” (p. 35) tereg in opstand kom teen diegene wat Afrikaans as “private property” (p. 30) beskou en sprekers van Afrikaaps probeer uitsluit. Hy slaag egter met sy poësie daarin om hierdie sogenaamde “privaat eiendom” te onteien en ontsluit sodoende verskeie nuwe moontlikhede vir sprekers van Afrikaaps.

In die openingsvers van die bundel spreek die digter die leser direk aan:

 

Leser (p. 7)

Ek dink
ek is meer ʼn digtersdigter
as wat ek ʼn nugter digter is
jy kan nie net hier kom lees
en verwag om meegevoer te word nie
jy kan nie net sommer so
jou oë
op hierdie blaaie gooi
en dink jy gaan volraak nie
om te lees
moet jy ook wees
om te eet
moet jy ook geëet word
samewerking
so kry beide se bene versterking
wat is die skryf
as dit nie ʼn lees ken nie

 

Hierdie waarskuwing dat die leser nie met vooropgestelde idees na die verse in die bundel moet kom nie, is uiters geldig want met die eerste lees van die bundel kan die leser maklik oorrompel word deur ʼn allesoorheersende gevoel van wanhoop met afwisselende verligting wat spoedig weer in wanhoop omsit. Naudé wend hierdie spanning in sy skreiende verse doelbewus aan ten einde die leser bewus te maak van en direk te konfronteer met sy (wit) bevoorregting en sonder omhaal te wys hoe ver verwyderd sodanige bevoorregtes staan van die uitdagings wat veral die mense op die Kaapse Vlakte daagliks in die gesig staar.

Van die kwessies wat hy met sy snydende sosiale kommentaar hanteer sluit in geweld (“Onse vaders”), substansiemisbruik (“Verdriet”), armoede (“Ek” en “Valentynsdag”), ongelykhede (“Ons is nie almal so nie”), geloofsworsteling (“Is hy op pad?” en “Standerd drie”), rassespanning (“Fout” en “Ek is hier”), veroudering (“Breekbaar”), dood (“Die ou vannie oomblik”) en die manier waarop al hierdie faktore interpersoonlike verhoudings (“Die voetsekhie’wegblues” en “Sorrie”) en die digter se belewing van liefde (“Ondervinding” en “Liefde”) beïnvloed. Hoewel enkele verse as voorbeelde hier uitgelig word, word die temas deurgaans vervleg soos in Naudé se treffende herskrywing van Anton Goosen se 1979-treffer “Boy van die suburbs”:

 

Boy vannie suburbs (p. 10)

hy’s ʼn
boy vannie dam
in sy hart is ʼn vlam
hare min gekam
soes’ie khoi en san
son of the soil
deur sy ma gespoil
deur sy pa geabba
min gesien van dadda
min gespin van kerk
in sy moer gewerk
en sy sak is swak
maar sy hart bly sterk
en hy sprei sy vlerke maar sy vel het perke
in sy land is hy vry
maar die past los merke

 

Die vers in die bundel is ʼn verkorte weergawe van die vollengte snit wat hy in 2015 saam met Goosen opgeneem het. Dit is beslis die moeite werd om die kort dokumentêr getiteld Boy vannie suburbs (2016) te kyk en ook na die fassinerende onderhoud op Tunes Live Podcast (2019) te luister ten einde meer insig in Naudé se lewensuitkyk en verhouding met Afrikaans te kry.

Hoewel die verse in geskrewe vorm volkome as selfstandige poësie slaag, verkry dit tog ʼn ekstra emotiewe betekenislaag wanneer dit gerymklets word. Die verse is duidelik nie veronderstel om bloot tussen die blaaie van die bundel vasgevang te bly nie en wíl verbaal vrygestel word ten einde gehóór en liggaamlik belééf te word. Met Drol innie drinkwater neem Churchil Naudé uiteindelik sy volwaardige plek as digter in die Afrikaanse letterkunde in:

 

Digkuns (pp. 33-34)

[…]

dig baar baie babas binne-in bundels
en so
koppel gedigte heupbeen en ruggraat
bloed en aar
die kitaar met die snaar
jou dns
met die wêreld se res

[…]

 

[In Episode 8 van Ek wou nog sê wat op Maandagaand 1 Februarie 2021 om 19:30 – 20:00 op VIA uitgesaai word, gesels Daniel Hugo met Churchil Naudé.]

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •