lykrede vir ‘n taal aan die vergete kant van die land
aan hierdie kant van die land op die derde vloer van die caxtongebou wat ook
die elcogebou was op die derde vloer op dieselfde derde vloer waar vóór 94
die veiligheidspolisie se kantore was waar iemand tydens ondervraging
deur ‘n venster
splinternuut in 2005 chris hani herdoop in hoop en ywer deur ‘n herbenoemings-
komitee gedekoloniseer nooit gerealiseer op enige muur teen enige ingang
op enige dokument nie het hani wéér gesterf dié keer deur onverskillige
hande van eie comrades in akademia ongeraak alles net futlose retoriek
in kerkstraat bly die afrikauniversiteit koloniaal getrou aan engelse heerskappy
want wat is die gewig van ‘n naam die gewig van omgee immers? en kom en
gaan soos seegetye die heerskappye van opeenvolgende besture in korrupsie
en selfverryking geldkoffers stroop
maar op hierdie derde vloer kamer 304 was daar afrikaans eenmaal vir 17 jaar lank
skryf dit neer dat dit nie vergeet kan word nie eenmaal vir 17 jaar lank eenmaal
geglo dat dit in die son en wind teen die see en die loei van ‘n mishoring sommige
dae oorkant die grou gebou waar ‘n vragskip dan en wan in vuil ruite reflekteer
die hawe invaar die see die wind altyd daar anders kon wees met ‘n taal uit hierdie
aarde ‘n taal wat die skuld afskud tussen swart kollegas swart studente wat my wit
hande vat wat ‘n nuwe pad stap
op die derde vloer met die afskilferende mure verrottende vensterrame stukkende
hysbakke vuil badkamers plafonne wat plekplek inval duiwemis en stof sif oor
swak verligte lesinglokale gebreekte banke swart en bruin studente gelate aanvaar
dis hoe dit is tot die volgende vonk #allmustfall ontbrand dat dit anders kon wees
anders kon wees het ek geglo die klein blink houtjies neergelê vir taal en poësie
sorgvuldig uitgepak gestapel lewensvonke aangesteek dat alles nuut kom word
en blink oë van jongmense dat ons mekaar tot in mekaar se siele vir die eerste
keer sién luister na jong bruin digterstemme omarm die afrikaoorsprong van taal
verstaan die skuld op die derde vloer waar ek geglo het woorde maak ‘n verskil ook
aan skuld aan wit medeverantwoordelikheid op die derde vloer
waar dit alles tot niet kom word het
aan die anderkant van die land brand groter vure harder loei die winde aan
die anderkant van die land brand dit by die mooi wit dorp oor taal brand dit by
die biblioteek teen die berg en ‘n land roep uit en rou aan hierdie kant die vergete
kant sterf ‘n taal stilweg bladsy vir bladsy word ‘n paar duisend Afrikaanse boeke
stilweg geoormerk vir pulp het ‘n departement op die derde vloer in die gebou
langs die see se lyk reeds ontbind
© Susan Smith , 2021
Hartverskeurend, al hierdie stille verlies, maar hierdie gedig op sigself bewys hoe daar nog lewenskrag is. Mag die vernietigingsdrang iew
ers opdroog!
Wie dra die skuld? Wie neem hierdie vernederende besluite? Alhoewel ek al reeds soveel verloor het,
soveel seer gekry het; ek die letseldraer het ‘n vars snydende letsel dwarsdeur my stomme hart. Al my liefde, liewe Susan. Melanie Grobler.
Dis hartverskeurend dat hierdie verdomming, uitskakeling en marginalisering van Afrikaans plaasvind! Hier is die volledige artikel https://www.litnet.co.za/afrikaans-by-die-universiteit-van-fort-hare-maak-sy-deure-toe/
My hart en siel kry seer Susan, veral terwyl ek die laaste stukkie drie keer oor gelees het…
Susan Smith: Jou woorde skeur soos bakstene deur my gemoed – ons wil nie ophou handvat, uitreik, saamwerk, dieper grawe om die taal, die eie, eie identiteit aan ‘t lewe te hou nie. Dit is ‘n verlies van pandemiese omvang: laat ons nie sommer net veras nie, maar soek na hoop in ‘n tradisionele begrafnis waar familie nog vorendag kan kom met oplossings, al weet ons die reg lê in ander hande.