Tomas Tranströmer. Vertaling in Afrikaans

 

 

 

Väinämöinen

 

 

Tomas Tranströmer. Vertaling van Sweeds in Afrikaans. Vert. deur De Waal Venter.

 

Sång

 Tomas Tranströmer

 

Den vita skaran växte: måsar trutar

i dräkt av segelduk från döda skepp

men fläckad av förbjudna kusters rökar.

 

Lied

 

Die wit skare groei aan: seemeeue

geklee in die seildoek van dooie skepe

maar besoedel deur die rook van verbode kuste.

 

Skel gille rondom die afval van ’n skuit!

Dig op mekaar vorm hulle ’n vlagsein

wat sê: “Hier is buit”.

 

En die meeue stuur oor die watervlaktes

met bloutes wat weggly in skuim.

Dwars oor trek ’n fosforpad son toe.

 

Maar in sy verlede het Väinämöinen gereis

oor die wye glinsterende see van vergane lig.

Hy ry. Die perd se hoewe bly droog.

 

En agter hom: die woud groen van sy sang.

Met ’n eik in sy duisendjarige sprong.

Die groot meul aangedryf deur voëlgesang.

 

En elke boom gevang in sy eie geruis.

Met groot dennekeëls glimmend in die maanlig

terwyl die den ver buite verlig raak soos ’n vuurtoring.

 

(Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter)

 

 

AANTEKENING:

Hierdie deel van die “Lied” is ’n fragment van ’n lang gedig wat Tomas Tranströmer geskryf het. Dit verskyn nie in my bundel vertaalde gedigte “Alles keer om” nie.

Hierdie gedig van Tranströmer is geïnspireer deur die Finse epiese gedig, die “Kalevala”. Tranströmer het die volgende kommentaar gelewer aan die einde van sy gedig:

KOMMENTAR:

Det mystika inslaget kommer från Kalevalas sjätte sång.

(Die mistieke inslag kom uit die sesde Kalevalas lied).

Die Kalevala is ’n negentiende eeuse epiese gedig wat die navoser Elias Lönnrot saamgestel het uit Kareliaanse en Finse orale volkslegendes en mitologie. Dit vertel die verhaal van die Skepping van die Aarde. Dit beskryf die reise en stryd van verskeie volkere uit die verre verlede, asook die diefstal van die mitiese masjien, Sampo, wat veronderstel was om welvaart te kon skep.

Baie dele van die verhale bevat ’n karakter wat soek na lirieke (liedere en towerspreuke) om een of ander vaardigheid te bekom, soos om ’n boot te bou, of om met ysterware te werk. Die verhale bevat beskrywings van towerpraktyke en sang. Ander weer handel oor hartstog, romanse, ontvoering en verleiding. Die protagoniste in die verhale moet dikwels take verrig wat onredelik en feitlik onmoontlik is en wat hulle dikwels nie regkry nie – dit lei dan tot tragedie en vernedering.

Väinämöinen is ‘n halfgod, held en die sentrale karakter in die Finse folklore en die hoofkarakter in die nasionale epos Kalevala deur Elias Lönnrot. Väinämöinen word beskryf as ‘n ou en wyse man, en hy besit ‘n kragtige, magiese sangstem.

Bron: Wikipedia

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Tomas Tranströmer. Vertaling in Afrikaans”

  1. helize van vuuren :

    Voorwaar insigryk, bostaande aantekeninge, De Waal. Dankie daarvoor (ek stoei, o.a., met Wyk Louw se raaiselagtige, plotseling verskynende “Finse mere” in TRISTIA LXVII “O, die ongedurige kind”).

    Boeiende vertaling – kan jy altemit die geheel gee? En die datum van die vers, en bundel waaruit dit kom?

  2. Hallo Helize.

    Bly jy geniet die vertaling. Ek is tans besig om die hele “Lied” te vertaal en sal dit beskikbaar stel sodra dit gereed is.

    Al my boeke is ingepak (ons verhuis ongeveer 1 Julie na Muizenberg) en ek kan nie daardie liefdesgeding van VWL in die hande kry nie. Ek sal graag jou oplossing van die “Finse mere” frase wil sien.

    Die gedig “Sång” kom uit die bundel “Tomas Tranströmer – samlade dikter 1954 – 1996” Bonnier Pocket 2011. ISBN 978-91-7429-266-4. Die gedig is opgeneem in die “17 dikter” versameling van 1954.

  3. helize van Vuuren :

    LXVII

    O, die ongedurige kind: die meisie:
    fantaserend, fantasties, neuroties –
    altyd aan die hardstes gebind:
    hout kon nooit hard genoeg wees vir haar snymes;

    kalk was te brokkelrig
    (graniet weer te bo haar geduld),
    “vorm” had sy ín haar, áán haar, – o ligte
    speel-boudjies wat ‘n aarde gevul het –

    maar die rol van vry hetêre was
    konsentrasiekamp-draad tussen
    haar en die dubbelbed en babetjies
    en die té breë laken plus die een kussing;

    die koel laken, en die geskeie kussings
    was twee berge en ‘n finlandse meer
    tussen haar en haar “heiligheid”,
    tussen haar uítreik en haar begeer.

    – NP van Wyk Louw, uit “Verse”, Tristia, 1962
    _____________
    Die “oplossing” van die “finlandse meer” is verbysterend – na meer as sestig jaar. Ek kry dit hopelik gou op papier. Sterkte met die omwenteling van die trek…